My harige bure en verlangse neefs

MAANDAG MET MAX

My harige bure en verlangse neefs

MAX DU PREEZ skryf oor die lot van sy harige bure.

Een van die mees aangrypende, ontstellendste ervarings wat ek in 'n lang tyd gehad het, was verlede week toe ek 'n bobbejaanwyfie gesien het wat haar dooie kleintjie 'n hele dag lank styf teen haar lyf vashou en aggressief raak toe besorgde mense haar van die kleinding wou verlos.

Ek het vroeër die dag op ons bobbejaan-WhatsApp-groep gehoor daar is 'n kleintjie dood – en toe sien ek die ma van my dek af.

Ek het nader gestap. Die bobbejaan was duidelik hoogs ontsteld, met oë wat heen en weer geflits het. Haar bewegings was stokkerig en senuagtig.

Sy is van die Waterval-trop in die berg bokant my huis in Simonstad. Ek het byna daagliks met hulle te doen, en so een maal 'n week kom maak lede van die trop 'n draai in my tuin (en op my stoep en op my dak). Ek hou hulle graag dop – as jy jou honde toemaak, kan jy lank tussen hulle sit en hulle gedrag observeer. Hulle is glad nie aggressief nie.

Ek is amper 100% seker ek het die spesifieke bobbejaanma met die kleintjie voorverlede week in my tuin dopgehou. As jy genoeg tyd saam met hulle deurbring, kan jy begin om individue te onderskei – hulle lyk nie almal eenders nie en hulle gedragspatrone is ook individualisties.

Daar was geen twyfel nie: Die bobbejaanma was diep getraumatiseer. Sy het geweier om te aanvaar dat haar kleintjie dood is. Sy was in rou. Dit was hartverskeurend.

Ek is seker van julle wat hier lees, sou vir my wou sê ek maak my aan antropomorfisme skuldig – ek dig menslike karaktereienskappe aan diere toe.

Dit is 'n komplekse storie. Daar is inderdaad baie diereliefhebbers wat hieraan skuldig is, maar ek sou 'n saak wou uitmaak dat daar wel diere met selfbewussyn is, wesens wat kan dink en voel eerder as om net instinktief te reageer.

Ek is 'n spesieïs. Ek glo diere soos primate, walvisse en dolfyne moet anders as diere soos muise of dassies of selfs bokke, skape en beeste gesien en behandel word.

(Honde is ook op my lys van “meerdere” spesies. En dalk perde en donkies. En lede van die kraaifamilie. Ek sal by 'n ander geleentheid daaroor skryf.)

Alle diere, glo selfs visse en reptiele, kan blykbaar pyn voel. Maar ek wil vandag praat oor diere met emosies, met ingewikkelde sosiale strukture, selfs “kultuur” in die breedste sin van die woord.

Ek is nie net op 'n WhatsApp-groep vir bobbejane nie (dis meestal om ons te waarsku om ons deure en vensters toe te maak as hulle in jou omgewing is), maar ook op 'n plaaslike walvis- en dolfyngroep. Ek gryp soms tot vier, vyf keer 'n dag my verkyker as deelnemers laat weet daar is walvisse, dolfyne of orcas in Valsbaai. Ons deel ook nuus van die jongste navorsing op die groep.

So het ek kennis geneem van 'n orcakoei met die naam J35, deur plaaslike mense Tahlequah gedoop, wat in 2018 haar dooie kalf 17 dae lank op haar neus bo die water gehou  en honderde kilometers ver in die noordwestelike Stille Oseaan so geswem het.

Daar is 'n oorvloed van navorsing wat bewys dat seesoogdiere komplekse sosiale strukture het, kennis en sosiale gedrag aan mekaar kan oordra en individuele persoonlikhede het. Veral walvisse kommunikeer oor lang afstande met mekaar en gebruik verskillende dialekte.

Daar is ook baie navorsing en anekdotes van wilde dolfyne wat persoonlike verhoudings met mense opgebou het, of selfs van dolfyne wat mense van verdrinking of aanvalle deur haaie gered het.

(En wat van my mede-Simonstadter, Craig Foster, wat 'n persoonlike verhouding met 'n seekat opgebou het? Sy bekroonde dokumentêr, My Octopus Teacher, is net om die draai van my huis af gemaak. Kyk gerus na die lokprent.

Hier is baie mense in my buurt wat die bobbejane haat en as 'n verpesting sien. 'n Vrou hier naby my het selfs onlangs 'n bobbejaan in haar werf doodgeskiet.

Hulle kan inderdaad baie skade aanrig as hulle in jou huis inkom. Van ons restaurante het ook al probleme met hulle gehad.

Maar met enkele uitsonderings van mense wat hier gebore is, het al die inwoners van Simonstad (en die naburige Kommetjie en Scarborough waar daar ook baie bobbejane is) hier kom huis koop met die wete dat ons en die bobbejane saam moet leef. Die bobbejane was al hier voordat homo sapiens eens ontwikkel het.

Soos ek die bobbejaanhaters gereeld toesnou: As jy die bobbejane nie kan verduur nie, trek na 'n plek waar daar nie bobbejane is nie.

Vir my was dit een van die aantrekkingskragte van die suidelike Kaapse skiereiland: ons lewe op die urban edge, waar menslike nedersetting en die natuur aan mekaar grens. 'n Trop tarentale slaap snags in my tuin, daar is 'n Kaapse kobra wat in die bosse voor my huis woon, hier is gereeld ystervarke wat snags na iets soek om te peusel, hier is baie pikkewyne en dassies en bokkies en so nou en dan sien ons ook 'n rooikat.

Al hoekom die bobbejane die woonbuurte binnevaar, is omdat dit makliker is om 'n vullisdrom of kombuis te besoek om iets te ete te bekom as om alewig vir uintjies te hoef te grawe. Ek is seker uintjies, bessies en wortels kan baie boring raak as jy dit eke dag moet eet.

Ons weet almal hoe slim sjimpansees, bonobo’s, gorillas en ander groot ape is; hoe hulle van werktuie gebruik maak en hoe goed hulle in toetse vaar wat hulle intellektuele vaardigheid toets.

Maar wat van die nederige chacma-bobbejaan?

As die sjimpansee 'n proto-mens genoem kan word, sou ek sê die bobbejaan is 'n proto-grootaap.

Hulle is dalk nie heeltemal so intelligent soos sjimpansees nie, maar hulle het komplekse sosiale strukture en is baie slinks. Streetwise. En groot vermaak.

In my boek is die bobbies net sulke Simonstadters soos ek. O, en die toeriste is mal oor hulle.

Primaatgroete
Max


Oranje, blanje, don’t get any on ye

Hipster, wat soe diep in ouma en oupa
se vintage kaste grawe
en dink jy kan ie oud wee niet maak
Wies careful dat jy nie kom kry
dai Voortrekkerrokkie fit jou figure nie
Dat dai bonnet te mooi jou gesiggie frame ie
Moenie dat dai strooihoed te lekke die son yt jou oë hou nie
Wan who the cap fit let him wear it
Onthou is makliker virre Son of Gondor
omme ring of power te dra
narie flame pits of Mordor
as virre wit man om sy
oupa se suit an te trek
sônne om yt te vind
dattit hom pas

- Nathan Trantraal

Uit: Oolog

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.