Jy skiet nie ’n tarentaal op sy nes nie

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Jy skiet nie ’n tarentaal op sy nes nie

DEBORAH STEINMAIR deel ’n skatologiese las wat ligter geword het.

Image: ANGELA TUCK

Waar sou ons mense wees sonder toilethumor? Waar sou Leon Schuster wees? Daaraan dink ek weer terwyl ons in Hazyview kuier – dis ons tyddeelweek. Vanjaar het my een dogter en haar man saamgekom. Hulle is ywerige gholfspelers. Een van hulle – met een oog op die Popi-wet gaan ek nie naam of geslag verklap nie – ly sedert hulle vlug hierheen aan hardlywigheid. Vier dae sonder opelyf, en ons is aan die tel.

Wanneer ’n gesin op vakansie saamgegooi is, heeldag, met baie tyd tot hulle beskikking, weet jy sulke goed van mekaar. Natuurlik het dit in ’n groot gespot ontaard, maar daar is ook heelwat ondersteuning en aanmoediging. Almal bied boererate aan. Vergeefs. Ek het die persoon se voet gemasseer met (aan die hand van dr. Google) ekstra drukking op die area wat die kolon verteenwoordig. Geen resultaat nie.

Elke dag wil ons weet: Was jy al gelukkig? Die vlak van humor is ongelukkig redelik laag, maar die gunstelingkwinkslag wat my hard laat lag het, was toe die skoonmakers vergeet om ons eenheid se toiletpapier vir die dag te bring en een van ons droog opmerk: “Miskien het hulle gehoor dis nie nodig nie.”

My neef, wat later ingenieur geword het, het as klein seuntjie een maal te veel turksvye geëet en verstop geraak, soos die ou mense sê. Toe verduidelik hy vir sy ma in goeie Afrikaans: “Daar’s ’n dwarsbalkie in my poephol.”

Toilethumor is deel van ons familie-oorlewering. Toe my pa ’n seuntjie was, het hulle ’n loseerder gehad. Eendag kom kuier ’n verlangse familielid. Die loseerder stap by die long drop in en tref die besoeker op die troon aan. Hulle is nog nie voorgestel nie. Sy goeie maniere laat hom nie in die steek nie – hy steek sy hand uit en noem sy naam: “Bly te kenne, nig.”

Badkamergewoontes is intens privaat en só moet dit liefs bly. Vriende uit Duitsland het by my ouers tuisgegaan. Teen die vierde dag van die besoek kondig die man triomfantelik en trots aan die ontbyttafel aan: “I made a shower!”

Anoeschka von Meck se eerste boek was Annerkant die longdrop. Andre P. Brink het ’n humoristiese roman geskryf oor oom Kootjie Emmer, nagwadrywer.

In Milan Kundera se The Unbearable Lightness of Being verduidelik hierdie digterlike, filosofiese Tsjeg: Shit is a metaphysical problem. Mense, reken hy, het ’n bewussyn soos gode, maar word vergat deur aardse, dierlike liggaamsfunksies. Kitsch is volgens hom die negering van kak. Enigiets wat onaanvaarbaar of onmooi is, word geïgnoreer. Of versier: Dink aan die Spaanse danserespoppies met gehekelde rokkies wat op toiletrolle pryk.

Ja, ontlasting is ’n metafisiese kwessie. Dis die groot gelykmaker.

Dis nou dag vyf. Ons raak bekommerd. Hoe lank nog, en is dit lewensbedreigend? Elvis, wat hom glo ooreet het aan grondboontjiebotter-en-piesangtoebroodjies, het op die toilet beswyk aan ’n hartaanval en is op die badkamervloer aangetref. Are you lonesome tonight?

Terwyl ek hierdie skryf, kom die aankondiging: My familielid het ’n beweging beleef. Ons juig.

Hou die blink kant bo.  


The Bluebird

A winged bit of Indian sky
Strayed hither from its home on high.

- Alexander Posey

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.