Vuurspuwende berge is makliker om te verstaan as vuurspuwende...

WOENSDAG MET WILLEM

Vuurspuwende berge is makliker om te verstaan as vuurspuwende priesters

WILLEM KEMPEN wonder hoe om die som te maak oor wat 'n mens se lewe werd is.

Ek vang myself deesdae gereeld dat ek my oorgee aan doomscrolling oor natuurrampe op die internet as dinge andersins te erg begin raak. Dis makliker om te probeer sin maak van stoom en lawa wat dreig om met geweld uit die aarde te bars in Grindavik in Ysland, Etna in Italië, Popocatépetl in Mexiko, of iewers onder die see naby Japan, as om te verstaan waarom 'n goeie vriendin se man en die pa van hulle drie jong kinders skielik nie meer met hulle is nie, of waarom 'n oudkollega dood is nadat sy gestel nie die skok kon verduur van 'n onlangse dubbele voet-amputasie weens diabetes nie. 

Ek blaai ook liewer verby die foto op X van 'n jong Israeliese vrou wat glo een van Hamas se gyselaars is, want ek wil nie weet wat alles met haar in aanhouding gebeur nie, ás sy nog leef. Net so kyk ek net die eerste paar sekondes van die video van 'n seun wat iewers in Gaza water met 'n emmer van 'n teerpad probeer opskep nadat die laaste opgaartenk naby sy huis in 'n ontploffing verwoes is.

Hoe kan ek in elk geval seker wees een of albei van hulle bestaan regtig, dat hulle nie net die gemanipuleerde produkte is van iemand se bedrewe propagandafabriek nie?

En as hulle stories wel eg is, een of albei van hulle, hoe kan ek weet hoe die Som van die Relatiewe Waarde van Lewe vir elkeen van hulle uitwerk, met gepaste oorweging vir Geloof, Etnisiteit, Verdraagsaamheid vir Terroriste en Verdrukkers in Eie Geledere, die Grusaamhede waaraan Lede van die Eie Stam al in die Verlede Onderwerp is, die Graad van Huidige Ellende, die Mate van Historiese Slagofferskap, en die Sondes van die Vadere tot in die N-de Geslag?

Kry een of albei van hulle 'n slaagpunt in dié som, sodat ek dit kan oorweeg om meer simpatie met die een as die ander se wraakgedagtes te hê?

Oor die egtheid van aardbewings of vulkaniese uitbarstings of vloede of massiewe veldbrande of haelstorms of orkane of hittegolwe hoef ek darem nie veel te twyfel nie, selfs al hou ek in my agterkop dat dit alles dalk 'n totale oordrywing is wat gefinansier word deur 'n internasionale kabaal wie se oogmerk dit is om ons almal te belas op alles tot by die suurstof wat ons inasem sodat ons uiteindelik geen keuse sal hê as om te swig voor 'n enkele wêreldregering wat die Olimpiese Spele met 'n Hunger Games gaan vervang nie.

Wat meer is, met 'n natuurramp is daar gewoonlik nie agterna 'n groepie mense wat die skuld vir alles hoef te kry nie. En as dit niemand op hierdie aarde se skuld is nie, is daar ook geen nodigheid vir enige geloof in 'n wraaksugtige god wat in die Hiernamaals straf kan uitdeel vir al die onregte wat in die Tydige Lewe straffeloos gebly het nie. Met 'n natuurramp word almal kollektief gestraf, sommer dadelik, en vir wat ook al ons dalk gesondig het.

Aan die ander kant probeer ek om nie neer te sien op gelowige mense vir wie “My god slaap nie" die enigste hoop is dat die onregte van die hede nie ongestraf sal bly nie, want wie is ék nou om dit ook nog van hulle te wil wegvat?


In a Disused Graveyard

The living come with grassy tread
To read the gravestones on the hill;
The graveyard draws the living still,
But never any more the dead.

The verses in it say and say:
“The ones who living come today
To read the stones and go away
Tomorrow dead will come to stay.”

So sure of death the marbles rhyme,
Yet can’t help marking all the time
How no one dead will seem to come.
What is it men are shrinking from?

It would be easy to be clever
And tell the stones: Men hate to die
And have stopped dying now forever.
I think they would believe the lie.

- Robert Frost

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.