Meneer die President, ons sien wat jy doen

DONDERDAG MET MERCY

Meneer die President, ons sien wat jy doen

Ramaphosa en sy baie belangrike persone dryf hierdie land vir ’n geruime tyd al die afgrond in met hulle buitensporige lewens, sê MERCY KANNEMEYER.

Image: ANGELA TUCK

Gelykheid, of “op gelyke voet” se woordeboekdefinisie (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, 6de Uitgawe) is “sonder dat die een die mindere of die meerdere van die ander is”.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) is die gemiddelde salaris in Suid-Afrika R25 304. BusinessTech berig vroeër vanjaar dat ’n studie gedoen deur ’n strategiese bemarkingsdepartement aan die Universiteit van Kaapstad bevind het dat die gemiddelde inkomste wat ’n huishouding benodig om as middelklas gesien te word, R22 000 per maand is. Luidens ’n artikel in IOL in Julie vanjaar verdien iemand ’n lae inkomste wanneer hulle salaris gemiddeld R7 880 per maand is, en verdien iemand ’n hoë inkomste wanneer hulle gemiddeld R139 000 per maand huis toe vat. (Ek ken nie enige mense wat R139 000 per maand verdien nie, ken jy so iemand?)

Luidens die Wêreldbank se verslag van Maart 2022 is Suid-Afrika steeds die ongelykste land ter wêreld. Hoewel die land volgens Stats SA nou die agtste agtereenvolgende kwartaal ’n toename in werkgeleenthede beleef het, met 399 000 méér mense in die land (altesame 16,7 miljoen) wat werk het – en waar meer mense nou werk het as voordat Covid toegeslaan het – is die werkloosheidskoers steeds hoër as in die eerste kwartaal van 2020. Dit beteken werkskepping hou nie by met die getal mense wat tot die arbeidsmag toetree nie.

Die Investec-ekonoon Lara Hodes het in hierdie artikel gesê jeug tussen die ouderdom van 15 en 24 is die mees benadeelde segment van die ekonomie wanneer dit kom by volhoubare indiensneming, met baie wat nie die nodige vaardighede en ervaring het nie.

Capitec, by wie ongeveer ’n derde van die land se mense bank, sê mense se salarisse word nie by inflasie aangepas nie en dus word hulle armer. Al koop hulle kliënte goedkoper produkte, bestee hulle 8% meer aan kruideniersware. Petrol kos 16% meer as die vorige jaar, en weens die hoër rentekoers werk lenings 20% duurder uit en is afbetalings op motors 15% hoër.

Nagenoeg 19 miljoen Suid-Afrikaners oorleef op maatskaplike toelaes, met gemiddeld 8,5 miljoen mense wat ook voordeel trek uit die maandelikse Covid-19-toelaes van R350, en daar is ongeveer 27 miljoen maandelikse begunstigdes van Sassa-toelaes.

Teen die bostaande breë agtergrond van hoe droef dit in ons land gaan, maak dit my befok om Sondag in Rapport van die lekker tye op die presidensiële straler, Inkwazi, te lees. Erika Gibson skryf Sondag dat die baie belangrike persone wat verlede jaar saam met Ramaphosa na koningin Elizabeth die tweede se begrafnis toe is, eet- en drinkgoed ter waarde van sowat R24 000 per persoon gekry het. Die spyskaart is ook nie sommer van hier rond nie, hoor. Duur drank, driegang-maaltye (vir ’n vlug van ongeveer 10 ure!), biltong, droëwors, neute, vis, ribbetjies en garnale. Verbeel jou.

Die gemiddelde Suid-Afrikaner verdien nie eens per maand dit wat per kop aan spyseniering voorsien word op Inkwazi nie. Vergeet die gemiddelde Suid-Afrikaner, die mééste Suid-Afrikaners verdien nie eens soveel nie! Die presidensiële woordvoerders en Ramaphosa-gatekeepers ontken natuurlik dat die luukshede op die vlug versoeke van die president is. Hulle dink seker ons is onnosel.

Meneer die President, ons sien jou. En ons sien wat jy doen. Nog sulke skokbewerings en die opposisie mag dalk net inglip en die verkiesing wen (hahahahahaha, oukei wag nee, ek glo nie eens dit wat ek so pas hier geskryf het nie). Die ANC gaan heel waarskynlik weer die verkiesing wen, en Ramaphosa gaan heel waarskynlik weer president wees (as hy hom nie doodvreet aan al die ribbetjies en garnale nie).

Nog sulke skokbewerings en hopelik kom daar by volgende jaar se stembus ’n revolusie. Die revolusie wat ek graag wil sien, is in die vorm van jongmense wat registreer om te stem, opdaag om te gaan stem, en hierdie baie belangrike persone hulle gatte laat sien. Die hoop beskaam ongelukkig, en dit moet ons almal bang maak. Ramaphosa en sy baie belangrike persone dryf hierdie land vir ’n geruime tyd al die afgrond in met hulle buitensporige lewens wat soos dag en nag van my en jou lewe verskil.

Ons, ek, jy, die ou op straat, die baas by jou werk, is ongelukkig nie op gelyke voet, van dieselfde stoffasie, as ons land se president en die baie belangrike persone wat hulle aan luukshede op ’n private straler kan vergryp nie. Dis ’n magtelose, hartseer, hartseer, hartseer gevoel. Kan iemand net ’n sprankie hoop bring, asseblief?!


Injury Room

Through my
little window, I
see one day
the entire bird, 
the next just 
a leeward wing, 
the next
only a painful
call, which, without
the body, makes
beautiful attachments
by even
attaching at
all.

- Katie Ford

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.