Goeiemôre
Ek sien die Pulitzer-bekroonde digter en essay-skrywer Anne Boyer het bedank as een van die redakteurs van The New York Times Magazine uit protes teen Israel se aanvalle op Gaza en die “toon” van haar (voormalige) werkgewer se beriggewing oor die oorlog.
In haar bedankingsbrief skryf Boyer onder meer: “I won’t write about poetry amid the ‘reasonable’ tones of those who aim to acclimatize us to this unreasonable suffering.”
Dis in teenstelling met die Palestynse filmmaker Mohamed Jabaly, wat die afgelope week ’n ander besluit neem. Jabaly se dokumentêr Life Is Beautiful het die afgelope week die prys vir beste regie by die International Documentary Film Festival Amsterdam (Idfa) gewen.
Vooraf kom die fees in opspraak nadat Palestynse aktiviste, onder wie Jabaly, tydens die openingsgeleentheid die verhoog betree het met ’n spandoek wat lui: “From the river to the sea, Palestina will be free.”
Ifda distansieer homself nadruklik van die teks en dit lei weer tot verontwaardiging by die Palestynse afvaardiging. Vervolgens onttrek 10 Palestynse filmmakers hulle aan die fees. Opmerklik genoeg doen Jabaly dit nie.
Hy verduidelik sy besluit só: “Ifda is ook my fees. Dit is die plek waar ek ander filmmakers van oor die hele wêreld ontmoet. Ook Palestyne. Sê nou ek onttrek my film, waar anders moet ek dit dan vertoon?
“Ek het Life Is Beautiful gemaak in die hoop dat iedereen dit sou sien. Ook Israeli’s, om te toon dat ons Palestyne ook normale mense is. Dat daar geen oorlog of wapens nodig is nie. Wat is die nut van wapens in elk geval? Uiteindelik sal niemand wen nie.”
En Hamas?
“Ek gee geen moer om oor Hamas nie. Die enigste ding wat ek wil hê, is die wete dat my familie veilig is. Nie net ons geboue nie, maar ook ons herinneringe word op die oomblik verwoes. Die strate en die buurte waarin ons opgegroei het.”
Ek verstaan Boyer as sy sê sy kan eenvoudig nie gedigte loop en skryf terwyl die wêreld aan die brand staan nie.
Terselfdertyd is dit juis wat nou nodig is. Om aan die een kant soos Jabaly te sê: “Kyk hier: Dit is die ware koste van die oorlog.” Of juis ’n herinnering en hoop dat daar nog ander mooi dinge in die lewe is behalwe oorlog. Wat nie per se beteken jy steek jou kop in die sand oor die oorlog nie.
Nuusmense is lief om te sê: “Goeie nuus verkoop nie.” Persoonlik het ek die afgelope maand juis troos geput uit goeie nuus. Dit het al die slegte nuus draaglik gemaak.
Soos dié van ’n skaap aan die ooskus van Skotland by Moray Firth wat onverklaarbaar genoeg aan die onderpunt van ’n rotswand beland het en nie haar weg self terug kon vind nie. Die media het haar “die eensaamste skaap ter wêreld” gedoop. Niemand weet presies hoe lank sy daar was nie, maar daar word geglo dit was minstens twee jaar.
Eers is daar nie veel gedoen om haar te probeer “red” nie, want die redenasie was dat sy genoeg te ete en drinke het en nie in gevaar is nie. Maar daarmee was diereliefhebbers nie gediend nie en ’n paar Skotse boere het uiteindelik tot haar redding gekom.
Dié soort stories maak geen snars verskil aan die oorlog in Palestina nie, maar dit bied verposing van die gevoel dat alles op die oomblik onoplosbaar lyk.
Mooi naweek
Anesca
(Ns. Anesca se skrywe het ons aan wyle Crocodile Harris se topliedjie, “Give Me the Good News”, laat dink.)
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.