TOE ek ’n week of wat gelede op X my besorgdheid uitspreek oor die ontstellende getal Palestyne wat in Gaza sterf en die benarde toestande wat nou daar heers, het ’n kwaai man my toegesnou: “Tipies van julle Afrikaners wat die Jode so haat.”
Het die man maar besef dat, te oordeel na die hoofstroom- en sosiale media, wit Afrikaners die bevolkingsgroep in Suid-Afrika is wat Israel die sterkste ondersteun.
Ek wou vir hom die storie vertel van my pa, ’n stoere Afrikaner-nasionalis, se verhouding met die Jode.
Ek was nog op skool toe die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 tussen Israel en verskeie Arabiese state uitgebreek het. Ons gesin het, soos die gebruik was, vir middagete almal aan tafel gesit en my pa het na die nuus oor die “Afrikaanse diens” geluister toe daar berig is hoe Israel die Arabiere bloedneus gee.
My pa was baie ingenome met dié nuus. Ek het uiteraard as skoolseun min van die Midde-Ooste geweet, maar ek wou seker my pa beïndruk (soos seuns graag doen) of dalk was dit net ’n klein rebellie teen gesag, maar ek het opgemerk dat dit darem ’n baie ongelyke stryd was.
My pa het sy mes en vurk hard in sy bord neergesit en my kwaai aangegluur. In my huis, het hy driftig gesê, sê niemand ’n slegte woord oor die Jode nie. As ek sulke goed wil kwytraak, is ek nie welkom aan sy etenstafel nie, waarop ek na my kamer verban is.
Ek het eers baie later die agtergrond hiervan te wete gekom. My oupa en ouma was verarm nadat hulle Ladybrand-plaas deur die Britte verwoes is en my oupa boonop twee jaar in ’n krygsgevangenekamp aangehou is – o, en hy was wéér in die tronk as ’n plaaslike rebellieleier in 1914. Hy is in 1919 aan die Groot Griep dood, kort voor my pa se geboorte.
My pa het gesukkel om in die nadraai van die Groot Depressie werk te kry en hom en sy ma te onderhou. En toe neem oubaas Goldblatt van Goldblatt Wholesalers in Kroonstad my pa in diens, lei hom op en plaas hom op ’n baan wat hom uiteindelik stewig in die middelklas besorg het.
Oubaas Goldblatt, soos my pa hom genoem het, was duidelik ’n soort vaderfiguur vir my pa.
Ek het baie jare later vir my pa gevra hoe rym sy liefde vir die Jodedom met sy simpatie vir die Ossewabrandwag tydens die Tweede Wêreldoorlog (dit was dalk meer as simpatie, maar hy wou nie daaroor praat nie). Sy kriptiese verduideliking was dat die meeste Ossewabrandwag-ondersteuners nie teen die Jode was nie, net teen deelname aan die oorlog aan die kant van die Britse empire.
(Ek het nooit werk gemaak van my voorneme om meer van die oubaas te wete te kom nie. Oppervlakkige navorsing dui daarop dat hy die William Goldblatt kon gewees het wat in 1889 in Kroonstad gebore is. Dié Goldblatt is met Cornelia Johanna Greyvenstein getroud.)
Goldblatt was ’n Boere-Jood.
Die aanvanklike Boere-Jode, meestal Jiddisj-sprekende Asjkenasiese Jode (Ashkenazim), het vroeg in die 19de eeu na Suid-Afrika geïmmigreer en hulle meestal in die Afrikaanse platteland gevestig en gou Afrikaans leer praat – hulle was nie Engels magtig nie. Die eerste sinagoge is al in 1841 gestig. Tot daar rondom 1930 het groter getalle Jode uit veral Rusland en Litoue hier aangekom.
Die Boere-Jode was veral smouse, maar het ook oral op die platteland klein sakeondernemings begin. Van die Groot Trek-dae af en tydens dekades voor en ná die Anglo-Boereoorlog het dié smouse in ossewaens en donkiekarre goedere aan afgeleë of rondreisende gemeenskappe verskaf – klere, rok- en gordynmateriaal, kruideniersware, tabak, brandewyn, konsertinas en mondfluitjies, skoene, selfs Bybels.
Sowat 300 Jode het in die Anglo-Boereoorlog aan Boerekant geveg en omtrent 100 van hulle was krygsgevangenes.
Joel Duveen, wat in genl. Christiaan Beyers se Waterberg-kommando gedien het, het swartwaterkoors opgedoen en in die hospitaal daarop aangedring om op die vloer te lê “want ek slaap nie in ’n Engelsman se bed nie”.
Van die Jodesoldate se name is verafrikaans, soos Sascha Schmahmann wat sommer Jan Snyman die Jood genoem is, en die dapper Vrystaatse kryger wat as Jakkals Segall bekend gestaan het.
Die Joodse smouse was, volgens al die vertellinge wat ek oor die jare daaroor gelees het, baie geliefd onder die Afrikanergemeenskappe. Hulle het maklik krediet aan sukkelaars toegestaan en ’n oop hand vir die armstes gehad.
Daar is ’n gedenkplaat ter ere van die Joodse smouse in Graaff-Reinet wat lees: “Ter ere van die baanbrekende Joodse bondeldraers, bekend as smouse, wat in afgeleë gebiede handel gedryf het. Hulle het hul klante van menige lewensmiddel voorsien. In die loop van hulle handeldrywe het hulle ’n bydrae tot ons land se ekonomiese ontwikkeling gemaak.”
’n Paar Boere-Jode het landbouers geword. Israel Lazarus van die destydse Oos-Transvaal was bekend as die Mieliekoning en het veel gedoen om die produksie van mielies te moderniseer.
Een van my gunsteling-landgenote, myns insiens ’n nasionale skat, is die nageslag van Boere-Jode: die sanger/liedjieskrywer/komponis David Kramer. Sy oupa, toe nog met die van Karabelnik, het in 1899 uit Litoue hier aangekom en was ’n smous in die Boland. David het in Worcester grootgeword.
Maar vroeg in die 20ste eeu het van dié Boere-Jode ook sakeondernemings op die platteland begin stig, soos Goldblatt Wholesalers in Kroonstad. ’n Goeie voorbeeld is Samuel Krupp en Hendrik van Niekerk wat Van Niekerk & Krupp, ’n maatskappy wat landbou-werktuie verkoop het, in Piketberg gestig het. Dit bestaan vandag nog as Piket Implements.
Vandag is daar maar tussen 50 000 en 70 000 Jode in Suid-Afrika oor, bitter min van hulle op die platteland – nie een van die vele sinagoges funksioneer meer nie, en baie van die ou sinagogegeboue huisves nou winkels.
Miskien moet ek werk aan ’n artikel oor die ryk geskiedenis van die Jode in Suid-Afrika.
Shalom!
Max
slot
Die leuse van my vader wil ek herhaal:
hy wat versuim om sy lewe
en dié se plek noukeurig te ondersoek,
het die Skrywer van sy verhaal gefaal.
My pen tree vir my lewe in die bresse
en teken aan die tye van rose
en mirte tot nou waar koue
en stilte lê langs rye sipresse.
Dié is saamgestel uit wat dagboeke
en briewe rep: nie alles is waar nie –
ek moes baie jok en verkort, maar
so pas dit beter tussen ander tekste
wat self sal praat of verwerp in die web.
– Antjie Krog
(Uit: 'n Vry vrou)
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.