Zuma of Wilders, Putin of Trump, Milei of Le Pen? Sal jy liewer ... ?

DONDERDAG MET MERCY

Zuma of Wilders, Putin of Trump, Milei of Le Pen? Sal jy liewer ... ?

MERCY KANNEMEYER wonder of die regses dalk iets weet wat die linkses nié weet nie.

Image: ANGELA TUCK

Op Donderdag 23 November kom ek in Amsterdam aan. Die gemoedere loop hoog en laag. Teen die mure in die tram- en bushaltes en op advertensieborde op pad na my bestemming sien ek iets van ’n verkiesing. Bedankt voor uw stem. Stem nu. Jouw stem jouw stem. Op die trein luister ek ’n gesprek tussen twee Nederlandssprekendes af. Die een sê vir die ander een: “Dit is niet oké,” waarop die ander een reageer: “Dit is gewoon onzin; dit kan niet gebeuren.”

Die nuuskierigheid slaan my binne; ek maak my Google oop om te kyk wat op dees aarde aangaan. En daar, in lewende lywe (op die internet), 60 jaar oud, ’n oop gesig soos van daai ooms by ’n braai wat kort-kort sal check of jy genoeg geëet het, met ’n Trumpagtige haarstyl, pronk Geert Wilders. Verregs. Anti-Islamities. Euroskepties. Woorde wat die media na Wilgers se kant toe slinger.

Ek is mos my ma se kind, en ek bly bis! Elke vriendelike Nederlander wat my kant toe kyk en geselsies aanknoop, vra ek uit oor Wilgers. In ’n kroeg, met ’n glas wyn wat hopeloos te duur was, in my hand, gesels ’n jong vrou van Rotterdam met my oor die Nederlanders se eie Donald. Sy deel met my dat hierdie geweldige slegte nuus vir Nederland inhou. Hulle is ’n vry land, hulle is verwelkomend, hulle is liberaal, hulle het “coffee shops for fucks’ sakes!”. Die Nederland wat Wilgers wil skep, is Putinisties. Dit is eksklusief, en gaan mense afskrik. ’n Dag of wat later speel ek en die geselskap waarin ek my bevind “sal jy liewer?”. “Sal jy liewer?” is ’n speletjie waar jy van die ander spelers af twee opsies gegee word. Een van die opsies wat uiteindelik aanhangig gemaak word, is: “Sal jy liewer Jacob Zuma as president wil hê of sal jy liewer vir Geert Wilgers as president wil hê?”. ’n Doodse stilte kom oor die tafel. Jy sal sweer iemand het nou net iemand se ma se dinges gevloek. Ons is daar weg, en die vraag hang saam met die daggareuke seker nog steeds daar in die lug.

Javier Milei, ook verregs, is in Argentinië met ’n meerderheidstem tot president verkies. Donald Trump stof glo sy kuif ook af om weer vir president te staan. Talle ander leiers in die wêreld leun meer regs. Wanneer ’n mens geo-politiekery van naby bekyk, lyk dit asof die aarde heel van haar as af is.

Weet die regsgesindes dalk iets wat ons linkses nie weet nie? Wanneer mense soos Milei, Wilgers, Sunak, Le Pen, Orbán en Kie. meerderheid stemme tydens ’n verkiesing kry, behoort dit as aansporing vir die nie-regses te dien om bietjie na binne te kyk. Wat ons binne gaan vind, die weet ek nie. Heel moontlik ’n paar geraamtes wat daarop gaan dui dat ons moet ophou om ideologie bo menslikheid te plaas? Heel moontlik ’n skimp of twee wat fluister “jou liberale denke weerspieël nie dié van ou op straat s’n nie”? Hoe dit ook al sy, ons moenie wegkyk wanneer die wêreld meer regs draai nie. Ons moet inkyk. En uitkyk. Kyk links, kyk regs en dan weer links voor jy oor die straat stap. En ons moet in ons pasoppens trap.


Hendrik Kruiper Regopstaan

Ons is nou op Kagga Kamma.
Vroeër was hier oral Boesmanne,
waar's hulle nou?
Die Duusman het ons uitgemoor so amper.
My mense is toe noord.
Kyk, al die klipskrywes wys noord.

Vandag wou ek gaan jag
en hier staan ek nou
met 'n blikkie kerrievis.

- Barend J. Toerien

Uit: Die huisapteek

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.