As dit kom by materiaalwinkels, tandartse, rybewys-toetssentrums en haarkappers, lyk dit my daar is 'n algemene gevoel dat die bestes van hulle nooit nader as 50km van jou eie huis af te vinde is nie. Die nodige ervaring, kundigheid, verskeidenheid van produkte, ingeligtheid oor die nuutste giere en tegnieke, en algemene begrip vir ander mense se pyndrempel is net beskikbaar as jy bereid is om 'n entjie te ry. Daarom kom jy dikwels op pad na een van daardie plekke iemand van voor af teë wat naby jou woon en al weer op pad is terug huis toe.
In die geval van haarkappers is daar 'n verdere dimensie: Hulle woon om een of ander rede dikwels nie naby hulle werkplek nie, afgesien nou van dié wat van die huis af werk. Dit beteken daar is mense wat in dieselfde straat as hulle haarkappers woon, maar hulle dan op 'n dag 'n uur se ry weg van daar in dieselfde haarsalon bevind, as kapper en gekapte.
Ek self wil nie moeite doen om ver te ry vir 'n haarkapper nie. Ek wil ook nie baie geld daarvoor uithaal nie. Ek wil dit net agter die rug kry, en ek is altyd vies oor mens nie betaal word vir die hare wat hulle afsny en sommer vir hulleself vat nie. Bowenal verpes ek die praatjies wat haarkappers blykbaar as deel van hulle dagtaak beskou.
Daarom was ek 'n jaar of drie gelede baie bly toe 'n nuwe haarkapper in die plaaslike mall oopgemaak het, een wat mans se hare sny maar terselfdertyd nie lyk of hulle al hulle style in Full Metal Jacket afgekyk het nie. Hier word jou hare gesny deur een van 'n pa of twee seuns wat hulle pas tevore van Egipte af hier kom tuismaak het en omtrent nie 'n woord Engels verstaan nie, wat nog te sê Afrikaans. Dus: geen praatjies nie, net 'n paar wedersydse gebare wat die vaagste van vrae en versoeke probeer oordra. Verdere bonus: Minstens twee van die drie se noemnaam is Mohammed, wat dit baie makliker maak om voor te gee dat jy een van hulle se naam onthou van die vorige keer dat jy daar was.
Ek het destyds gewonder hoeveel van die boere en die Boere hier in my omgewing hulle hare deur 'n Mohammed sal laat kap, maar watwou: Vrydagmiddae staan die manne selfs soms buite die deur in 'n tou en wag tot die gebede verby is. (Dalk is daar iets voor te sê om jou hare te laat sny deur iemand wat voor die tyd eers bid.)
Die ander ding wat ek gedag het die omgewing se mense van die Egiptenare sou afsit, is die Arabiese halfspoed-rapmusiek wat hulle onophoudelik in die salon speel. Mý pla dit nie; rap is dikwels eintlik beter as mens nie verstaan wat hulle sê nie, en dis selfs soms lekker om betekenis te probeer uitmaak tussen al die vreemde woorde, veral as Mohammed en sy broer saggies saamsing.
Dis in einste so 'n situasie wat ek my bevind toe ek Maandag weer daar in die stoel sit. Die Arabiese musiek vloei uit die luidspreker op die toonbank, en terwyl 'n pa vir een van die Mohammeds verduidelik hoe sy seuntjie se hare gesny moet word, laat hoor die broer (of was dit Mohammed?) uit die bloute die eerste Afrikaanse woorde wat ek nog ooit uit sy mond gehoor het: “Sny alles af!"
Almal in die salon lag lekker saam vir dié onverwagse humor, en dit gee ook 'n vrou wat eenkant in 'n hoek sit die moed om versigtig iets te vra wat sy duidelik al lank brand om te vra: “Can you please play some English or Afrikaans music?"
Die broers kyk so vir mekaar en glimlag; die een haal sy foon uit en kies iets anders. Die volgende oomblik skater dit in die salon terwyl die onmiskenbare stem van Jack Parow oor die luidspreker blom.
Die vrou lag saam, maar sy lyk nogal verleë, en ek sweer sy moes hard baklei teen die drang om te sê: “Ag, in that case, please put your own music back on."
To the Miscodeed
Sweet pink of northern wood and glen,
E’er first to greet the eyes of men
In early spring — a tender flower
Whilst still the wintry wind hath power.
How welcome, in the sunny glade,
Or hazel copse, thy pretty head
Oft peeping out whilst still the snow,
Doth here and there, its presence show
Soon leaf and bud quick opening spread
Thy modest petals — white with red
Like some sweet cherub — love’s kind link,
With dress of white, adorned with pink
- Jane Johnston Schoolcraft
Uit: The Sound the Stars Make Rushing Through the Sky: The Writings of Jane Johnston Schoolcraft
* Miscodeed is 'n klein blommetjie
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.