Jou ruimteskip gaan disintegreer

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Jou ruimteskip gaan disintegreer

DEBORAH STEINMAIR dink die sandjies het vanjaar laat waai deur die uurglas.

Image: ANGELA TUCK

Like sand through the hourglass, so are the days of our lives.

Dit was die dramatiese inleiding van ’n sepie wat ek en my kind gekyk het toe sy ’n kleuter was. Daar was baie ure in die dag.

In ’n slapelose nag in Pretoria se warmste November lê ek en wonder of die sandjies vinniger deurloop wanneer daar minder in die uurglas oor is – dit voel vir my asof daar dan minder korrels is om uit die pad te druk, asof die laaste sand minder gehinderd en blitsiger deur die nek val – só voel dit in die speletjie 30 Seconds.

Dit is glo nie waar nie; ek het dit gegoogle:

The speed of sand flow in an hourglass does not depend on the amount of sand in the upper glass. The sand flow through an hourglass is determined by grain size and shape (and material), and the immediate geometry around the hole (predominantly the size). Therefore, the sand in an hourglass does not run faster when there is less left. The sand-flow rate is constant throughout the hourglass.

Daar het jy dit. En tog voel dit asof die dae langer was toe ek ’n kind was en korter nou. Asof Januarie eindeloos is, November ’n oogwink en Desember, soos Mary Chapin Carpenter sing: a blur on the driver’s side.

Tyd het ’n emosionele element. Kunstenaars en versiendes weet van altyd af dat dit elasties is. Dit kan rek soos kougom. Dink aan Salvador Dalí se horlosies wat buig en druip soos pannekoeke.

Tyd is relatief, het Einstein gesê. Dit volg nie ’n universele, tik-tok-ritme nie. Die tempo waarteen tyd verloop, hang af van jou verwysingsraamwerk, waar jy staan. ’n Ruimtevaarder wat blitsig beweeg in verhouding tot die aarde sal die sekondes wat verbytik stadiger meet as die waarnemer op aarde. Tyd verstadig vir die ruimtevaarder; dit word genoem time dilation. Soos pupille. Moeilik om klein te kry.

Algemene relativisme verstaan ek beter, omdat dit poëties is. Met ’n metafoor kan ek werk: Planete buig ruimte en tyd soos ’n rolbal ’n trampolien buig.

Ek lees nou The Watchmaker’s Hand deur Jeffery Deaver. The Watchmaker is ’n psigopatiese skurk en Lincoln Rhyme se ou nemesis. Hy is geobsedeer met die binnegoed van horlosies, wat glo nie ratjies genoem word nie, maar wieletjies. Hy smag na perfeksie, maar besef dat meting onbetroubaar is:

Even when working perfectly, mechanical and electric clocks’re affected by temperature, solar flares, magnetic fields, altitude changes. The highest level – nearly faultless – are ones that measure time according to the resonant frequency of atoms ... They lose or gain one second every three million years ... Outer space? A timing error of a billionth of a second can mean nearly a twelve-inch positioning error on re-entry. And your spaceship disintegrates.

Die uurglas van hierdie jaar, wat vir my, van waar ek staan, beter was as die voorafgaande drie, is besig om leeg te loop. Voor ons ons kan oorgee aan see en son en saffier (dié van ons wat dit kan bekostig) is daar ’n duisend take om af te handel. Die sandkorrels stamp mekaar uit die pad om deur die nek te glip.

Ons het soveel dae gepluk en nou wil ons biologiese horlosie net smelt en druip soos Dalí s’n. Ons wil buite tyd op ’n lui deining onder die onmoontlike blou lug dryf. Binnekort!


monding

iewers 'n amberagtige rivier; ek onthou
my otterse ingly, een-alleen en rypgeel
onder die groot son drywend, arms gestrek, so ver
as 'n mens dit kan waag voor die see jou gryp

en die terughardloop, die weer ingly, die glip
in die goud, oewerloos ryk soos croesus
en steeds nog mens; dit moet iets te doen hê

met gevaar, en viswees, weer,
en kantel waar
die lig jou vang, en vinniger as lig
verflik

- Petra Müller

Uit: om die gedagte van geel

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.