Kom ons staan by die mense, nie die geweldenaars nie

MAANDAG MET MAX

Kom ons staan by die mense, nie die geweldenaars nie

Moenie kant kies vir Israel of Hamas nie, sê MAX DU PREEZ, maar skaar jou eerder aan die kant van die burgerlikes, die kinders, die vroue, die ouer mense.

Suid-Afrikaners is erg verdeeld oor wat in Israel/Gaza aangaan. Mense kies kant vir Israel of die Palestyne en steun dan dié kant blindelings, eet al die propaganda vir soetkoek op, en versprei dit dan ywerig verder.

Gemoedere loop hoog, veral op sosiale media, maar ook in openbare plekke. Ek was Saterdag (saam met duisende toeriste) by Kaapstad se Waterfront en is by drie plekke met luide pro-Palestynse betogings begroet.

Die aaklige Hamas-aanval op Israel en die gevangeneming van gyselaars het 50 dae gelede plaasgevind. Sowat 1 400 Israeli’s is doodgemaak. Sedertdien het Israel groot dele van Gaza met die grond platgevee en in die koers van 14 000 mense het al gesterf, omtrent almal burgerlikes en meer as 5 000 van hulle kinders.

Soos die bloedbad in New York en Washington op 11 September 2001 waarin 2 977 mense gesterf het, 9/11, gaan 7 Oktober 2023 en sy nasleep in die geskiedenis as ’n waterskeidingsoomblik opgeskryf staan. Die Midde-Ooste, bron van soveel onstabiliteit oor die dekades heen, gaan nooit weer dieselfde wees nie.

Dit beteken ons gewone mense, waar ons ook al is, moet hieroor nadink en ’n mening daaroor vorm.

Ek sou wou sê almal van ons moet ons sienswyse hieroor grond op die heilige beginsel dat elke menselewe ewe veel waarde het.

In die Judaïsme staan dit as b’tselem Elohim bekend: Alle mense is na die beeld van die Skepper geskape, soos die Christendom dit ook uit Genesis 1:27 aanvaar: “En God het die mens geskape na sy beeld.”

As ons nie dié beginsel en sy logiese konsekwensies aanvaar nie, gaan ons self ’n bietjie van ons menslikheid prysgee.

Die regering van Benjamin Netanyahu en baie Joodse aktiviste en hulle geesgenote, nes die leiers van Hamas, baie Moslemaktiviste en hulle geesgenote, sien dit duidelik nie só nie. Palestyne/Jode is per definisie inherent boos en behoort uitgeroei te word.

Dit is dié soort houding wat volksmoorde moontlik maak: die Tamils in Sri Lanka, die Tutsi’s in Rwanda, die Moslems in Bosnië en Herzegovina, die Darfuri in Sudan, die Rohingya in Myanmar en die Uyghur in China.

As jy hier lees, is jy waarskynlik een van die dieper-nadenkende mense in ons samelewing. Ek meen dit is mense soos ons se rol om balans na die Israel/Palestina-debat te bring.

Ons hoef nie “kant te kies” vir Israel en sy Amerikaanse/Europese ondersteuners of vir Hamas, Islamitiese Jihad, Iran of Isis nie.

Ons moet ons eerder aan die kant van die mense van Israel en die Palestynse gebiede skaar; die burgerlikes, die kinders, die vroue, die ouer mense.

Hamas se aanval op 7 Oktober was brutaal, barbaars en onvergeeflik, al het dit, in die woorde van die VN se sekretaris-generaal, António Guterres, nie in ’n vakuum en sonder historiese konteks gebeur nie.

Israel se kollektiewe bestraffing van die mense van Gaza in reaksie op die aanval was ook brutaal, barbaars en onvergeeflik, al aanvaar ’n mens dat Israel nie die aanvanklike aanval ongestraf kan laat bly nie.

Ons hoef nie een dié twee kante te kies nie; ons behoort net die kant van die mense te kies.

As jy in Suid-Afrika lewe, is dit moeilik. Die Westerse (Engelstalige) media waarop ons vir ons internasionale nuus afhanklik is, laat ons elke dag subtiel verstaan dat ’n Joodse lewe kosbaarder as ’n Palestynse lewe is. Die Jode self herinner ons aan die Holocaust, so asof dit ’n lisensie vir wreedheid geslagte later gee.

Die ANC, EFF, Al Jama-ah, die vakbonde en die hardste Moslem-stemme wil ons weer laat glo dat alles wat met Israel te make het, ook die plaaslike Jodedom, van die duiwel besete is en dat Jode verdien om te boet.

Vir twee maande al hoor ons daagliks hoe boos die Palestyne is deur tonnels onder hospitale te bou om daarvandaan te opereer. En verlede week moes ons van die oud-Israelse premier, Ehud Barak, hoor dat die tonnels destyds deur die Israeli’s self gebou is. Nie dat dit Hamas die reg gee om onder hospitale te skuil nie.

CNN, Sky News en BBC World het die laaste paar dae vir ons roerende tonele gewys van die Israelse gyselaars wat vrygelaat en deur hulle geliefdes verwelkom word. Ek was saam met hulle bly.

Maar ons het niks gesien van die Palestynse aangehoudenes wat met hulle geliefdes verenig is nie – die Israelse weermag het dit nie toegelaat nie. Die minister van sekuriteit het verklaar dat mense wat die Palestynse vrygelatenes verwelkom, ook as terroriste gesien sal word.

Die meeste van die Palestyne op die lys van 300 mense wat vrygelaat moet word, is self ook niks anders as gyselaars nie. Hulle is in Palestynse gebiede gevange geneem en sonder verhoor in Israelse tronke aangehou.

Volgens die Israelse regering self was 15 van die eerste 39 vrygelate Palestyne minderjarig; 10 van dié jeugdiges is nooit verhoor nie; 24 was vroue, van wie net een ooit verhoor is.

Daar is tans 8 300 Palestyne in tronke in Israel. Meer as 3 000 van hulle word ingevolge “administrative detention” aangehou, wat beteken hulle word nie formeel aangekla nie en het nie regshulp nie. 

@cnn

CNN's Nima Elbagir explains why Palestinian families who have had their family members released as part of the hostage deal with Israel may be too scared to celebrate their return. #CNN #News #Israel #Palestinians

♬ original sound - CNN

Hier ter plaatse het ons die EFF wat wil hê die Joodse skool in Kaapstad, Herzlia, moet gesluit word; ons het die oudburgemeester van Johannesburg, Thapelo Amad, met ’n aanvalsgeweer op sosiale media gesien waar hy die vernietiging van Israel bepleit het; ons het die leier van Al Jama-ah, Ganief Hendrickse, wat in die parlement gevra het dat die Israelse ambassade opgeblaas en die Israelse vlag verbied word.

Albei “kante” is skuldig aan kru propaganda en disinformasie. Ek kyk na CNN, Sky en BBC, maar ook na Al Jazeera, wat weer ’n Palestynse vooroordeel het. Ek gaan soek my inligting op plekke wat nie deel is van die propaganda-oorlog nie. Die Israelse Sentrum vir Menseregte, B’Tselem, is een so ’n bron: www.btselem.org.

Kom ons stuur die godsdienstige fundamentaliste, die ultra-nasionaliste, die magsugtiges, die ideoloë, die geweldenaars en die haatsmouse na die warm plek toe, en gee net om vir die mense wat in dié konflik ly.


Die koms van Ligia

Ligia bel en sê sy kom
en ek moet op die kerktrappies wag
om te wys waar is my huis, ons
bly langs die kerk êrens, i klein groen huisie nommer ses.
Ligia bel en sê sy kom môre
Ma & Pa sê ek sy's portugees
rooms-katoliek en donker & lig & lieg ineen
oor sewe seë het sy gekom, môre kom sy
na ons klein pistachio-huisie nommer ses

- Gert Vlok Nel

Uit: om te lewe is onnatuurlik

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.