Die heling van rituele

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Die heling van rituele

ANNELIESE BURGESS het 'n bekentenis om te maak: Sy is 'n Kersfees-junkie.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

DHL lewer dié week 'n pakkie van my beste vriendin af.  Ek sien elke jaar uit na die boks wat aan die einde van November uit Los Angeles hier aankom: mooi toegedraaide geskenke vir my en my dogter, Ilke – haar peetdogter – en versierings. Hierdie jaar is daar allerlei boomversierings en 'n groen karton-Kersboom van Ikea. My gunstelingding is die sterreliggiegordyn wat ek nou in die groot glasskuifdeur by my stoep hang. As dit donker word, sit ons in die lig van honderde vrolik vonkelende sterretjies.

Ek het 'n bekentenis om te maak: Ek is 'n Kersfees-junkie. 

Geen van die jaarlikse feesrituele gee my soveel plesier soos dié van Kersfees nie. Volgens die Duitse gebruik word Kersversierings met die eerste advent opgesit. Dit is die vierde Sondag voor Kersfees, maar ek en my dogter het hierdie jaar sommer 'n week vroeër met ons Kersaanloop begin.

Ons haal die drie kartonbokse vol Kersversierings uit die motorhuis. Binne-in is al ons kosbare goedjies netjies in sneespapier toegedraai. Die tradisionele strooi- en papiersterre uit Europa – van hulle kom nou al dekades lank saam, uit my kinderjare. Die glasballetjies wat ons by  'n sneeubedekte Kersmark in Londen gekoop het toe my dogter nege was. 'n Papier-Kersvader wat sy in die kleuterskool gemaak het. Die houtjakkalsies wat ons op 'n Typo-uitverkoping gekoop het, en waarvoor ons 'n hele jaar moes wag voor ons dit kon gebruik. En die takbokkies en huisies met liggies in wat ek al van Ilke se kleintyd opsit en wat haar nou op 18 nog steeds so opgewonde maak soos toe sy vyf was.

Vanjaar het ons sommer drie Kersboompies. 'n Spekboom by die voordeur kry rooi viltsterre en houtolifante, -koedoes en -renosters. Dit is ons Afrikaboom. Die Sweedse kartonboompie staan tussen die warboel boeke op my lessenaar. En op die eetkamertafel staan 'n groot, droë tak wat ons op die strand opgetel het. Dit is ons instaan-boom totdat ons die naweek 'n denneboompie van die familieplaas, Bannockburn, kry – een van die baie klein opslagboompies uit die Kersfeesboord wat my pa spesiaal aangeplant het sodat ons die Duitse tradisie van 'n boom elke jaar op die plaas kon voorsit. 

Hierdie is die eerste Kersfees sonder  albei my ouers. My pa se dood verlede jaar het 'n gat in my hart gelos. My ma se dood in Augustus het my geheel en al ontanker. Kersfees was ons groot familieritueel. Ons het nog elke jaar op die plaas saamgetrek. En ons sal dit hierdie jaar weer doen, sónder hulle, maar vír hulle. 

Ek sal saam met die niggies en nefies gemmerkoekhuisies bak. En ons sal in die dae voor die tyd saam kos maak, en gaan stap en in die dam swem. En op Kersdag sal die kinders rubberstewels aantrek vir die slange en 'n boom in die boord gaan afkap. En dan sal die grootmense die versiering agter toegetrekte gordyne doen sodat dit tot ná aandete 'n verrassing bly. Ons sal haring en aartappelslaai en bockwurst (en 'n ham vir my pa) om die lang tafel op die stoep eet. En daar sal Krismis-crackers wees, want die kinders is mal daaroor. 

En dan sal ons die kerse aan die boom aansteek. En die klokkie sal lui. En die deur sal oopgaan. En almal sal oe en aa. En die kamer sal na kerswas en dennenaalde ruik. En ons sal luister na musiek op die platespeler – die klokke en die koor van die Schleswiger Dom waar my oom die predikant was. Soos ons nou al vyf dekades lank maak. 

En dit is die belangrikheid van rituele: Dit bind ons aan die verlede en aan mekaar, selfs wanneer van ons nie meer daar is nie. Ek is bietjie bang vir die verlange wat dit gaan bring, maar dit is tyd om op te hou om die hartseer en verdriet weg te stoot. En om aan te hou bou aan die ryk string herinnerings van 'n familie-Kersfees. Vir ons kinders, wanneer ons nie meer daar is nie. 

Daarmee groet ek.

Salige Sondag
Anneliese


Silence and winter
have led me to that
otherness.

So let this winter
of listening
be enough
for the new life
I must call my own.

Every sound
has a home
from which it has come
to us
and a door
through which it is going
again,
out into the world
to make another home.

We speak
only with the voices
of those
we can hear ourselves
and the body has a voice
only for that portion
of the body of the world
it has learned to perceive.

- David Whyte

(Uit: The Winter of Listening)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.