Dagsê
Dié man is die Ernest Hemingway van Nederlandse politici. Dít is wat deur my kop flits toe ek Dinsdagaand sien hoe die verregse politikus Geert Wilders in die slotdebat voor die verkiesing sy politieke teenstanders heeltemal onder die tafel in praat.
Hemingway was bekend om sy ekonomiese gebruik van woorde. Sy prosa was eenvoudig, direk en onopgesmuk, maar ráák. Hulle sê hy het dit aangeleer gedurende sy kort loopbaan as voltydse joernalis by die Toronto Star in Kansas City.
Nietemin, dis is presies wat Wilders in die debat doen. Hy bly kalm, selfs minsaam – liewe hemel – en kommunikeer sy boodskap in kort, duidelike samevattings. Met die vorige verkiesing twee jaar gelede was hy nog in die laaste debat die ene haat en sinisme – kompleet met ’n gesis na sy linkse politieke teenstanders.
Die nuwe, onopgesmukte Wilders is natuurlik ook ’n truuk, maar dit werk. Die slotdebat speel gewoonlik ’n groot rol in die verkiesingsuitslag en sy party word Woensdagaand die grootste in Nederland. Selfs die linkse media is ’n bietjie in verwondering.
Natuurlik sal ek nooit vir Wilders stem nie. Die stommiteite wat in sy verkiesingsprogram staan, is so vergesog dat dit byna lagwekkend sou wees as dit nie so haatlik was nie. ’n Paar hoogtepunte:
- Geen Islamitiese skole, Qur’aans en moskeë moet in Nederland toegelaat word nie.
- Hoofdoeke moet verbied word in openbare geboue.
- Nederland moet uit die Europese Unie stap – ’n sogenaamde Nexit.
- Geen militêre steun mag meer aan Oekraïne gebied word nie.
- Geen asielsoekers mag meer binnegelaat word nie.
- Zwarte Piet moet in Nederland bly.
- Geen subsidies mag meer aan kuns en kultuur gegee word nie.
Maar ek laat my ook nie van stryk bring deur Wilders en sy program nie omdat ek vertroue het in die regstaat en die gematigdheid van die gewone Nederlander. Ja, ’n kwart van hulle het vir Wilders gestem, maar driekwart het nié. Veral nie jong mense wat die vurigste klimaataktiviste in Nederland is nie.
Boonop glo ek talle mense het nie noodwendig vir Wilders gestem omdat hulle sy verregse gedagtegoed koester nie, maar omdat hulle ’n beperking op migrante wil sien – weens onder meer die skaarste aan huise en ander hulpbronne – en ’n verlaging in lewenskoste. ’n Versugting wat Wilders net beter as sy teenstanders verwoord het. En mense, weet julle hoe klein is Nederland? Waar o waar moet honderdduisende mense – asielsoekers, gasarbeiders, internasionale studente – wat elke jaar bykom, gehuisves word?
En les bes, dit is hoogs onwaarskynlik dat Wilders van sy mees ekstreme standpunte ooit deurgevoer gaan kry sonder die ondersteuning van koalisievennote in die parlement wat reeds duidelik gemaak het dat hulle onder geen omstandighede daarvoor oop staan nie.
Ons leef in ’n wêreld – veral op sosiale media – wat jou gedurig verontwaardig wil hou. Permanente outrage. Soms soek ons selfs dié outrage op. Is verslaaf daaraan. Soos reeds aangedui, ek gaan my nie van stryk laat bring of uitlok deur Wilders se sege deur my kop vol doem-scenario’s te prop nie. Easy does it.
My man torring aan my. Sy ma wil weet wat ek vir my verjaarsdag op 18 Desember wil hê. Eintlik weet ek dit al: ’n jaar-toegangskaartjie vir museums in Nederland. Probeer gerus maar om die kuns-en-kultuursektor dood te laat bloei, Wilders. So maklik wen jy nie.
Groete
Anesca
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.