Kom ons vind lag-lag antwoorde

DONDERDAG MET MERCY

Kom ons vind lag-lag antwoorde

MERCY KANNEMEYER hoop Suid-Afrikaners kan vanjaar meer redes vind om in die land te bly.

Image: ANGELA TUCK

AS dit nie vir ons burgers se sin vir humor was nie, was 'n menigte van ons nou al landuit, of ons sou só neerslagtig wees dat niemand saam met ons 'n bende sou wou stormloop nie.

Tientalle studies is al gedoen oor humor en waarom dit goed is vir die menslike psige. Oor die feesseisoen het ek 'n klein nie-amptelike studie van Suid-Afrikaners se sin vir humor gedoen – 'n lagsteekproef: waarvoor lag ons so en wáárom?

Vir menige van die hedendaagse grappe moet jy heeltyd aanlyn wees om te verstaan waarom ons mense so ’n lagbui het.

Met die afsterwe van koningin Elizabeth II het mense gans te veel grappies gemaak – jy sou sweer dit was ’n standup comedy-funksie.

Met goeie bedoelings tweet iemand “Queen Elizabeth gone too soon”. En julle, die grappies wat uit dié onskuldige huldeblykie gestroom het, gaan niemand van ons in die hemel laat opeindig nie. My gunsteling was toe ’n kommentator op die “gone too soon”-plasing vra: “Too soon?! Die Queen was dan voor Mandela in matriek!”

Eskom sorg die afgelope paar maande al vir heelwat materiaal vir sosialemedia-komediante. Eskom spog knap ná die nuwe jaar dat ons vir 18 dae geen beurtkrag gehad het nie en mense het hulle op sosiale media behoorlik daaroor uitgehaal.

Eskom het een werk en dis om die ligte aan te hou. Hulle kan g’n gehandeklappery verwag omdat hulle hulle werk doen nie. Iemand het byvoorbeeld opgemerk dat beurtkrag terug is weens te veel mense wat met die nuwe jaar vir mekaar “liefde en lig” gestuur het. Nog een merk elders op dat beurtkrag deesdae so erg is dat ’n mens dit nie eens meer kan waag om “lig”-sinnig te wees nie. Fase 12-beurtkrag is glo wanneer Eskom na jou huis toe kom en al jou kerse steel.

’n Sielkundige het op ’n kol vir my gesê ek lag opmerklik baie en gewonder of daar dalk trane agter my lag weggesteek lê. ('n Summiere afdanking het gevolg. Vir my sulke kak kom vra.)

Op hoërskool het ek ’n maand lange kursus oor lag-joga gedoen. Nou kyk, dis al langer as tien jaar gelede, so ek moes mooi dink oor wat die lag-joga behels het. Jy doen dit in ’n groep en daar is sekere aktiwiteite wat deur ’n fasiliteerder gelei word wat sal maak dat deelnemers lag en sodoende spanning verlig. Oogkontak is belangrik.

Die idee is dat jy kamma-kamma lag en deur die gelaggery stuur jou liggaam seine na jou brein toe (gelukkige hormone) wat dan vir jou brein aandui dat jy gelukkig of vol vreugde is. Die kamma-kamma lag word dan omgeskakel in ’n ware-ware lag. Moet bieg – dit het gewerk.

Toe daai wiskundevraestel my vierkantig in die oë kyk en ek nie my Fibonacci van my Pythagoras kon onderskei nie, het ek maar saggies in my mou gelag en is ek wiskunde deur. Net-net, maar tog.

Die vraag is steeds: waarom lag ons so?! En as ek ’n leke-analise mag waag – dis omdat ons nie met die werklikheid kan cope nie. Dis dalk ook omdat feite vreemder as fiksie is. As ’n mens kyk na die tipe goed wat in ons land gebeur, lyk dit amper asof Tarantino en Schuster die regie behartig het.

’n Meer angsbelaaide lyn kan getrek word tussen die geskiedenis van die jolly h*tn*t, die Amerikaanse c**ns, sirkus-freaks en hoe menige van ons se voorouers in koloniale tye voor kolonialiste moes dans en akkeltjies maak wat hulle en hulle kinders kon laat lag. Daarvoor het niemand ’n PhD nodig nie. Net goeie begrip.

Daar moet tog meer as 'n paar grappe wees wat ons hier laat bly, nie waar nie? Mag ons vanjaar werklik vind wat dit is wat ons laat bly. En mag ons deur opregte lag-lag daardie antwoorde vind.


Praat, ’n geleentheid / ’n kans om die stilte te ruk / sê wat bedoel word / forseer die oor om te sluk

Marisa Fourie

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.