Soms ís daar ’n donker geheim agter ’n raaiselagtige sterfte

WOENSDAG MET WILLEM

Soms ís daar ’n donker geheim agter ’n raaiselagtige sterfte

WILLEM KEMPEN dink ons behoort samesweringsteorieë soms ernstig op te neem.

EK het verlede week kort ná mekaar Baz Luhrmann se Elvis en Sofia Coppola se Priscilla gesien. Dis nie dat die twee flieks soseer met mekaar stry nie; dis die verskil in perspektief wat so opvallend is, en dat baie van die misterie steeds voortleef oor wie die ware Elvis Presley was en waar hy in die Amerika van die 1960's en 1970's en selfs vandag nog inpas.

Ek dink ek verstaan ook nou waarom sommige mense steeds vasklou aan die idee dat Elvis sy eie dood versin het. Jy kan nie oor Elvis praat sonder om ook oor formele segregasie en die Civil Rights Movement en veral Suidelike verset daarteen te praat nie, en dit was alles vrugbare grond vir die goue era van sameswerings: die Koue Oorlog, McCarthyisme, die Kubaanse revolusie, die Mafia se rol in Havana en later in plekke soos Las Vegas, die sluipmoorde op Martin Luther King junior en die Kennedy-broers, die era van J. Edgar Hoover en die FBI, Jimmy Hoffa en die Amerikaanse vakbondbeweging, Nixon en Watergate, die CIA se “War on Drugs". En van daar dalk netjies terug tot by Elvis Presley se dood.

Baie vreemder dele van die groter storie is mettertyd as die waarheid ontbloot as dat Elvis dalk nie regtig in 1977 in Graceland dood is nie. Die raaiselagtige omstandighede om Marilyn Monroe se dood is 'n goeie voorbeeld van hoe bisar dit als kan word.

Van daar bring 'n bietjie verbeelding jou maklik terug tot by JFK junior se dood in 1999 in 'n vliegongeluk, of alternatiewelik dat hy eintlik vermoor is deur diegene wat sy politieke opgang wou stuit. (En in RFK junior is daar nogmaals 'n Kennedy met aspirasies om president te word – gaan hy die een lid van Camelot wees wat die vloek vryspring?)

In die komende dae gaan 'n hoofstuk van nog 'n sameswering ontvou wat wentel om magtige mense wat by obskure netwerke en 'n toesmeerdery van misdadigheid betrek word. Die name van altesame 187 mans en vroue wat een of ander assosiasie met die veroordeelde seksmisdadiger Jeffrey Epstein en sy vertroueling Ghislaine Maxwell gehad het, moet ingevolge 'n hofbevel openbaar gemaak word nadat tot dusver net na hulle as John of Jane Doe verwys is.

Baie van hulle word nie noodwendig van 'n misdaad verdink of beskuldig nie, maar die blote assosiasie gaan nogtans in baie gevalle opslae maak. Die hofstukke sluit byvoorbeeld 40 dokumente in wat bewerings uit 'n vroeëre saak teen prins Andrew bevat.

En dis die ding met samesweringsteorieë: tussen al die aandiksels en oordrywings en logiese spronge is daar dikwels ook 'n klompie onweerlegbare feite wat selfs magtige mense tot 'n val kan bring.


Somer

die son se strale wat skyn / oor ’n goudgeel seisoen /  wat ruik na jasmyn / en proe soos ’n oopbeksoen

Willem de Swyger

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.