Maak jou wêreld groter in 2024

DINSDAG MET MAX

Maak jou wêreld groter in 2024

'n Polsende 2024 wag op diegene wat 'n bietjie wyer as net op die krisisse in hulle onmiddellike omgewing fokus, skryf MAX DU PREEZ.

HALLO daar 2024! Ons hoop jy’s 'n beter vriend as jou suster 2023 – inderwaarheid 'n beter vriend as al jou susters die laaste klompie jare.

Waterskeiding. Keerpunt. Ons nuwe 1994. Clichés wat almal gepas is.

Al wat ons vir seker weet, is dat die liewe sonnige suidpunt van Afrika 356 dae van nou af heel anders daar gaan uitsien.

Ons gaan die effek voel van die bloedige oorloë in die Midde-Ooste en Oekraïne – die bloedvergieting in plekke soos Soedan tas ons gemoedstoestand helaas nie veel aan nie, want die media kan (wil?) dit nie behoorlik dek nie.

Tienduisende mense gaan in konflikte sterf. Honderdduisende vlugtelinge gaan steeds oor grense heen beweeg.

Donald Trump gaan dalk weer die president van Amerika word.

Ekstreme weerpatrone is ons voorland, soos die rampe van die laaste twee jaar aandui. Intussen verwoes die mensdom die natuur (met die reënwoude van die Amasone as voorbeeld) nog met oorgawe en pomp steeds die atmosfeer vol gasse wat die klimaat beïnvloed.

Homo sapiens is eintlik maar 'n nare lot, sê ons vir onsself.

Ag nee wat. Kom nou.

Ek word vanjaar 73. Ek kan nie 'n jaar onthou wat nie met soortgelyke klaagliedere en donker voorspellings begin het nie. Ons kyk elke Nuwejaarsdag met groot benouing na die jaar wat voorlê.

Swaarmoedigheid is verlammend, en verlamming lei tot groter swaarmoedigheid.

Ek dink 2024 gaan 'n opwindende, polsende jaar wees.

Ons in Suid-Afrika gaan binne 'n paar maande stembus toe en as ons nie 'n nuwe koalisieregering gaan instem om die ANC te vervang nie, gaan ons die ANC 'n helse groot skrik op die lyf jaag en die politieke dinamika fundamenteel verander.

Die laaste paar jaar se wanregering het die burgerlike samelewing, van plaaslike tot nasionale vlak, laat wakker skrik. Gemeenskappe help hulleself en daar is honderde, dalk duisende inisiatiewe landwyd om dinge beter te maak en vir honger kinders te sorg.

Ons demokrasie is vanjaar 30 jaar oud, darem nie meer 'n adolessent nie. Selfs die onbeholpe, korrupte regerende party kon nie ons demokrasie laat kwyn nie.

Ons landsburgers gaan vanjaar meer selfgeldend wees en daarop aandring dat die belofte wat 1994 ingehou het, moet begin realiseer.

Niemand durf ons probeer keer nie, want ons Grondwet waarborg ons vryheid van spraak en van assosiasie en die oppergesag van die reg geld nog.

Ons – wel, die meeste van ons – het boonop die laaste paar jaar geleer dat daar geen Moses is wat ons uit die woestyn gaan lei nie. Ons moet ons eie pad vind. Ons Grondwet is ons GPS.

Ons gespierde, energieke sakesektor het uiteindelik die laaste paar maande die moue opgerol en die staat gaan bystaan met die probleme rondom energie, infrastruktuur en die strafregstelsel. Ons gaan die vrugte daarvan in die komende maande begin pluk.

Die komende verkiesingsveldtogte gaan dalk rof wees. Wilde retoriek, disinformasie en baie vals beloftes.

Daar gaan dalk selfs 'n mate van onstabiliteit wees. Dit is nie abnormaal in tye van fundamentele verandering nie.

Ons gewone mense moet maar net ons eie omgewing – familie, vriende, werk, geldsake – konsolideer en ons daarin verskans. Wanneer dinge in die land begin lol, help dit om positief te kan bly as jy in 'n gesonde, liefdevolle omgewing is.

Pleks van om op die krisisse te fokus, hou altyd in gedagte dat daar goeie mense om jou en elders in die land en die wêreld is.

Dit is maklik om op die slaggate in jou straat, jou vuil woonbuurt of beurtkrag te fokus. Of op Julius Malema.

Maak jou wêreld groter; jy is ook 'n burger van planeet Aarde.

Wonderlike wetenskaplike vordering word in 2024 verwag. Daar gaan vanjaar nuwe middels op die mark kom wat Parkinson en Alzheimer se siektes kan vertraag; daar is opwindende deurbrake in die behandeling van kanker wat ná lang toetse vanjaar toegepas gaan word; die redigering van gene (CRISPR) wat vele siektetoestande kan verlig, gaan in 2024 'n nuwe fase betree.

Kunsmatige Intelligensie ontwikkel teen 'n ongelooflike pas. Nuwe, beter batterye wat groenkrag kan stoor, gaan binnekort op die mark kom. Meer effektiewe en goedkoper sonpanele en windturbines is reg vir massaproduksie.

Die mensdom maak in 2024 gereed om 'n permanente kolonie op die maan te vestig. Nasa loods binnekort sy Artemis II-program met die eerste lae bemande vlugte om die maan sedert die einde van die Apollo-sendings. Die Chinese ruimte-agentskap wil in Mei 'n tuig op die verste kant van die maan laat land om grondmonsters terug te bring.

Die Japannese ruimte-agentskap beplan om in September 'n tuig op een van Mars se twee mane te laat land. Daar gaan meer ruimtereise in 2024 as enige ander jaar wees, onder meer deur die private maatskappye Axiom en SpaceX.

Wonderlike boeke gaan in 2024 geskryf word; opwindende films, teaterstukke en musiek gaan gemaak word.

Ontdek en geniet dit.

******

Wel, soos jy kan sien, is Vrye Weekblad terug van 'n kort vakansie, batterye behoorlik gelaai. Ons is vol energie en idees en vasberade om in 2024 'n meer genotvolle, waardevolle koerant aan ons lesersfamilie te bied.

Van môreoggend af gaan jy weer ons volledige Daagliks-brief per e-pos ontvang en Vrydag verskyn ons eerste uitgawe van die jaar.

Vrye Weekblad was die laaste 16 maande gratis, maar dit moet helaas tot 'n einde kom. Daar lê nog vier gratis uitgawes voor, maar van 2 Februarie af is ons inhoud grotendeels agter 'n betaalmuur.

Ons sal in Vrydag se uitgawe besonderhede gee van hoe jy kan inteken – ons belowe om dit eenvoudig en maklik te maak.

Die Vrye Weekblad-span wens al die lesers 'n 2024 vol liefde, vrede, voorspoed en gesondheid toe.

Mooi bly.

Max


Allerliefste, ek stuur vir jou 'n rooiborsduif
want niemand sal 'n boodskap wat rooi is skiet nie.
Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug en ek
weet al die jagters sal dink dis die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg, daar skitter oseane
en bome word groen
en hy kleur my boodskap so bruin oor jou vel.

Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos 'n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos 'n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie.

- Breyten Breytenbach

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.