As ons verdraagsaamheid koester

DINSDAG MET ANESCA SMITH

As ons verdraagsaamheid koester

ANESCA SMITH meen Suid-Afrika kan 'n voorbeeld aan die wêreld stel wat godsdiens-verdraagsaamheid betref.

Eers in Nederland besef ek hoe bevoorreg ons die afgelope jare in Suid-Afrika was wat godsdienstige verdraagsaamheid betref. Terselfdertyd miskien ook ’n bietjie verwyderd en naïef oor die rol wat godsdiens in die konflik tussen en die ellende van mense in ander dele van die wêreld speel.

In Suid-Afrika (ná apartheid) was dit die natuurlikste ding in die wêreld dat jou vriendekring of kollegas uit mense van verskillende godsdienstige groepe of kultuuragtergronde bestaan. In die Kaap was dit ’n hele mixed masala – daar word oor-en-weer gekuier, kos gedeel en plesier gemaak.

As beginnende joernalis in die 1990s moes ek soms na byeenkomste gaan ter viering van feesdae of ander gebeure en dit was mooi om te sien hoe leiers van verskillende godsdiensgroepe ’n verenigde front in landsbelang vorm. My coming of age as laaste deel van Generasie X was deur die rooskleurige bril van die reënboognasie.

In Nederland is ek gou uit my Kumbaya-onskuld geruk.

Aan die een kant is dit ’n feit dat daar hier behoorlik teen Moslems gediskrimineer word, insluitend op skool en in die arbeidsmark – soms blatant, soms op ’n slu manier.

Akademici onderskei tussen vooroordele teen ’n spesifieke godsdienstige groep en kritiek op ’n godsdiens lewer. By vooroordele ten aansien van Moslems word Islam en Moslems as een groot nie-progressiewe blok gesien, per definisie gewelddadig, heeltemal “anders" en as ’n politieke ideologie in plaas van ’n godsdiens. Ook die goedpraat van diskriminasie teen Moslems hoort by dié vooroordele.

Kritisering van ’n godsdiens gaan meer oor kritiek uiter op bepaalde godsdsdienstige praktyke of idees. As iemand byvoorbeeld kritiek het op die feit dat sommige Moslem-gemeenskappe meisies gedwonge ’n sluier laat dra, kan dit beskou word as godsdienstige kritiek, maar wanneer iemand sê dat Moslems per definisie vrou-onvriendelik is, is dit vooroordeel.   

Aan die ander kant word ek hier ook meer gekonfronteer deur die werklikheid van Islamitiese ekstremisme as in Suid-Afrika.

In Nederland was daar byvoorbeeld in 2022 byna 700 gevalle van “eerwraak”. Meestal jong vroue wat geïntimideer of aangerand  word – soms selfs vermoor  – omdat hulle kwansuis die familie in die skande gesteek het deur byvoorbeeld nie te trou met ’n huweliksmaat wat deur die familie uitgekies is nie of van “losbandigheid” beskuldig word. Die polisie meld dat waar dit voorheen meestal in Turkse en Marokkaanse kringe gebeur het, verdagtes nou ook dikwels Siriërs is.

Soos in Suid-Afrika het ek nog steeds ’n groot kring Moslem-vriende en -kennisse, maar nou bestaan hulle byna meestal uit liberale: mense uit Turkye wat nie onder Tayyip Erdoğan se toenemend verdrukkende en vrou-onvriendelike regime wil woon nie; Irannese wat vry wil wees van die verskriklike menseregteskendings daar; of ’n gay Moslem-vriendin uit Maleisië wat graag met haar verloofde wil trou, maar die toestemming van een of ander Islamitiese raad in Maleisië nodig het, wat natuurlik nooit goedkeuring aan ’n homoseksuele huwelik gaan verleen nie. So hoe nou?

Een van die indrukwekkendste boeke wat ek die afgelope jaar gelees het, was Ik ga leven, die bekroonde debuutroman van die jong skrywer Lale Gūl (26). Hierin beskryf sy haar verset teen die voorskrifte wat opgelê word deur die ortodokse Islamitiese gemeenskap waarin sy in Amsterdam-Wes leef. Sy wil nie uitgehuwelik word nie. Sy wil nie ’n hoofdoek dra nie. Sy wil nie deur die patriargie aan ’n halsband gelei word nie. Sy wil self bepaal of sy kinders wil hê.

Die gevolge van die boek? Soveel doodsdreigemente dat Gūl sedert die verskyning daarvan nie meer vry kan lewe nie. Haar verblyfplek en bewegings word hoogs geheim gehou uit vrees vir ’n aanslag.

In ’n onlangse onderhoud het Gūl vertel dat talle van haar jong, liberale vriende vir Geert Wilders gestem het omdat hulle in die steek gelaat voel deur links-progressiewe partye in Nederland wat liewers anderkant toe kyk oor die indoktrinasie en ondemokratiese waardes in sommige sogenaaamde koranskole. “(Dié kiesers) het die gevoel dat Wilders vir sekulêre waardes staan en die enigste is wat iets sê oor die ruimte wat godsdiens tans in die openbare arena inneem.”  

Soos in ander dele van die wêreld veroorsaak die Israel-Palestina-konflik ook groot verdeeldheid in Suid-Afrika en ontlok baie emosie. Jy hoef net na sosiale media te kyk of die kommentaar op nuusberigte te lees.

Watter invloed dit sal hê op die godsdienstige verdraagsaamheid in die land, wat tans onder druk is, moet nog gesien word. Maar as ons daardie verdraagsaamheid koester, kan Suid-Afrika ook hierin ’n voorbeeld vir ander lande wees.

Mooi week,

Anesca


Samehang

Van die koningskind tot die bedelaar,
Van die vlieënier tot die amptenaar –
Dié wat sonder 'n lappie aarde is,
Sal altyd 'n stuk van die hemel mis.

- Gerrit Komrij

Uit: Die elektries gelaaide hand, vertaal deur Daniel Hugo

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.