Óns is Suid-Afrika, nie die ANC nie

MAANDAG MET MAX

Óns is Suid-Afrika, nie die ANC nie

Dit is óns demokrasie, óns oop gemeenskap, nie die ANC s’n nie, skryf MAX DU PREEZ.

Ek en jy, en miljoene ander Suid-Afrikaners, maak gereeld luid beswaar dat die ANC homself aan die staat gelykstel – dit was juis wat staatskaping so makik moontlik gemaak het.

Ons, en ons grondwet, eis dat daar 'n duidelike grensdraad tussen die staat en die verkose meerderheidsparty moet wees.

Die ANC is nie Suid-Afrika nie en Suid-Afrika is nie die ANC nie. Óns, die mense, thina bantu, is.

Toe die Springbokke laasjaar weer die rugbywêreldbeker gewen het, het omtrent almal van ons oorgeloop van trots. Dit was nie die ANC se oorwinning nie, dit was ons s’n.

Toe pres. Cyril Ramaphosa die eerste staatshoof was om deur die nuwe Britse koning vir 'n ontmoeting uitgenooi te word, het hy óns verteenwoordig, nie die ANC nie.

Die Suid-Afrikaanse vredesmagte in die DRK, Soedan en Mosambiek is nie ANC-soldate nie, maar Suid-Afrikaanse soldate, ons soldate.

En tog val baie van ons in dieselfde strik as die ANC – ons stel die land en die staat gelyk aan die ANC.

Toe Suid-Afrika, as ondertekenaar van die Volksmoordkonvensie van 1948 en as lidland van die VN 'n deelnemer aan die internasionale geregshof, dié hof nader om 'n mening uit te spreek oor die grootskeepse slagting van Palestyne in Gaza, toe skreeu baie van ons: die donnerse ANC se hande is vuil, hoe durf hulle 'n ander land tot rekenskap roep?

Natuurlik mag ons uitwys dat die ANC-regering in 2017 toegelaat het dat die Soedanese diktator Omar al-Bashir uit die land ontsnap voor hy ingevolge 'n lasbrief van die internasionale strafhof in hegtenis geneem kon word. Ons mag byvoeg dat die ANC toe gedreig het om van die Statuut van Rome, wat dié hof tot stand gebring het, te onttrek.

Maar ons moet byvoeg dat die regbank en die burgerlike samelewing skerp kritiek hieroor uitgespreek het; dat die ANC toe sy deuntjie verander het en later verklaar het dat ons steeds die statuut ondersteun.

Die regering hoe toe wel laasjaar vir Vladimir Putin, met 'n soortgelyke lasbrief oor sy kop, aangeraai om liefs nie vir die Brics-beraad na Suid-Afrika toe te kom nie, want as hy hier aangeland het, sou hy gearresteer moes word.

Ek, en seker die meeste van julle wat hier lees, is erg sinies oor enigiets wat uit die ANC en sy regering se binnekring kom. Dit is 'n verrotte, korrupte party wat die belofte wat ons skikking van 1994 ingehou het, vertrap het.

Maar die aansoek by die wêreldhof oor Israel geskied nie in die naam van die ANC nie. Dit is nie 'n breinkind van die kabinet of die nasionale uitvoerende komitee nie.

Dit word in die naam van ons as 'n nasie gedoen. Bheki Cele en Fikile Mbalula het nie die stukke opgetrek nie, van ons heel beste juriste het.

Soos ek dit in ons jongste uitgawe stel: “Dit is byna poëties dat die inisiatief hieroor van Suid-Afrika gekom het – die land van apartheid, ’n morele aartsvergryp waarvan Israel nou beskuldig word. Die land wat ’n oerkonflik wonderbaarlik drie dekades gelede deur onderhandelinge en kompromis opgelos het.”

Ek is in 'n lewendige debat in ons kommentaarseksie onderaan my stuk meestal hieroor gekasty (daar was teen gister 115 sulke kommentare). Lesers het veral aanstoot geneem dat ek suggereer dat Suid-Afrika hiermee 'n stuk van die morele hoë grond van die Mandela-era probeer terugeis. (Ek het uitsprake van Nelson Mandela en Desmond Tutu oor die Palestyne aangehaal.)

Heelwat van die kritici het na die beginsel verwys dat 'n party met “vuil hande” nie by 'n regsgeding betrokke durf raak nie.

Suid-Afrika het nie “vuil hande” nie, die ANC het wel.

(Daar is in elk geval nie juis 'n land met “skoon hande” op ons planeet nie, sekerlik nie Rusland, die VSA, China, Brittanje en die meeste lidlande van die Europese Unie en die Afrika Unie.)

Dit is óns demokrasie, óns oop gemeenskap, nie die ANC s’n nie.

Ek is trots daarop dat my land die voortou neem om te probeer keer dat Israel se genadelose, verskriklike verwoesting van Gaza en sy mense langer voortgaan.

Die hof gaan dalk baie lank neem om te besluit of Israel inderdaad aan volksmoord skuldig is, maar Suid-Afrika vra ook dat dringende “provisional measures” aanbeveel word, en dit kan baie gou gebeur. Dit kan vergelyk word met 'n dringende tussentydse interdik, 'n “temporary restraining order”.

As die wêreldhof Israel vra om sy militêre aanslag op Gaza te staak, sal die VSA moeilik kan voortgaan om biljoene dollars aan militêre en geldelike steun aan Israel te gee om sy oorlog daar voort te sit. En dan is die oorlog op 'n end. Dit kan baie duisende lewens spaar.

Ek het al verskeie kere die laaste twee maande geskryf dat ek glo dat Israel aan 'n vorm van volksmoord skuldig is. Die uiters deurdagte, gemotiveerde dokument van 84 bladsye en 57 voetnota’s wat Suid-Afrika Donderdag aan die hof gaan voorlê, beaam dit.

Ek stem saam met ons leser en bydraer Dan Badenhorst, 'n afgetrede prokureur, waar hy in reaksie op kritiek op my stuk skryf: “Wanneer jy oor die term ‘volksmoord’ besin, is daar nie sprake van ‘konsekwentheid’ nie en baie beslis nie van ‘what-aboutism’ nie. Dit gaan nie oor die politiek van ‘two wrongs make a right’ nie, en of Suid-Afrika geregtig is om 'n morele vinger te wys nie - jy vernietig nie vir Hamas deur 10 000 kinders te vermoor nie … Watter argumente hoegenaamd opgewerp word oor wie te blameer is en wie geregtig is om watse beswaar ookal daarteen te maak, val weg as dit opgeweeg word teen die dood van 10 000 vasgekeerde kinders oor 'n tydperk van drie maande.”

Maar wat van Hamas, vra baie van my kritici. Hamas is myns insiens 'n bloeddorstige, ondemokratiese, fundamentalisties-Islamitiese groep en hulle aanval op 7 Oktober was barbaars. Maar Hamas is nie 'n staat nie, en kan dus nie voor die wêreldhof gedaag word nie. Hamas se optrede op 7 Oktober verlede jaar en die gevangeneem van gyselaars word ook eksplisiet deur Suid-Afrika se voorlegging aan die hof verdoem.

Ek wens ek kon die hele Israel/Gaza-kwessie ignoreer. Ek was al in Israel en die beleërde Wesoewer en het met baie mense daar gesprek gevoer. Ek dink ek verstaan die Israeli’s en Jode buite Israel se eksistensiële angs na die Holocaust en geslagte se antisemitisme. Ek het al hier vertel van my eie familie se verhouding met Joodse Suid-Afrikaners.

Die meeste van my Joodse vriende praat nou nie meer met my nie. Dit is baie hartseer.

Maar ek het ook die pyn van die geslagtelange onderdrukking en vernedering van die Palestyne ervaar. Ek onthou nog die trane van frustrasie en trauma van een van die mees gerekende en gematigde Palestynse leiers, Hanan Ashrawi, met wie ek gesels het.

Ek het sedert 7 Oktober verlede jaar met al my joernalistieke vaardighede hard probeer om deur die propaganda en disinformasie van Hamas en van die Israelse regering te sny. (Vrye Weekblad plaas Vrydag 'n stuk behoorlike navorsing hieroor.)

Dit is my oorwoë mening dat die regering en weermag van Israel aan 'n groteske historiese vergryp skuldig is wat dié land vir dekades die muishond van die wêreld gaan maak.

Ek dink dit is my land, eintlik elke demokratiese land, se plig om iets daaraan te probeer doen.

Maar as ons klaar oor Gaza gesels het, kan ons fokus op hoe ons met die komende algemene verkiesing van die ANC ontslae gaan raak?

Shalóm aleikhém

Salaam alaikum

Khotso.

Max

Naskrif: Ek steur my nogal aan die siening van die gewese Suid-Afrikaanse parlementslid Andrew Feinstein, self die nageslag van Holocaust-slagoffers en -oorlewendes en deesdae 'n aktivis teen die internasionale wapenhandel. Kyk gerus hierna:


heuningvlei

salie ockhuis keer terug na heuningvlei
bly dat die koeikarkas steeds mummifiseer
in vermeel-se-kloof, bly dat die rotsknoets
van ambraal-se-vrou die raaisel
van haar naam bewaar
maar hardegrondjie word nie meer geploeg nie
en waar laas nog kookskerms was, staan nou
die omvattender wrak van 'n daihatsu charade

- Tom Dreyer

Uit: nou in infrarooi

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.