Goeiemôre
Desember was laatmiddag-donderbuie en groen gras. Dit was vure en whiskey in swaar glase. Dit was 'n rivier in vloed. En die reuk van wilde als. Dit was braaibroodjies. En Xalangapiek in die oggendmis. Dit was stap. En tee by die mielielande. Dit was bakke umphokoqo met amasi.
Dit was 'n swerm tieners op motorfietse. Dit was bollemakiesies in die dam. En wisteria wat blom. En turksvye. Dit was my ma se blou agapante. Dit was verlange en hartseer. En die groot vreugde van wees met jou bloedmense.
Dit was 'n Kersboom met strooisterre. Dit was stoepsit. Dit was my pa se leë plek. En my ma s'n. Dit was langtafeldek met die kinders. Daar was stoele vir oupa en ouma ook. En Krismis-crackers vir almal. Dit was soetdoringtakke in blompotjies. Dit was Kersfeesliggies in die moerbeiboom.
Dit was bollings somerwolke. En my ma se loopstok in my hand. Dit was heuwels rooigras en plate geel inchololo. En my pa se mooi Bonsmara-verse.
Dit was 'n rinkhals by die rondawels. En 'n rooikeelflap met 'n stert soos 'n vaandel hoop. Dit was margaritas met regte lemmetjiesap.
Dit was antwoorde wat gekom het in die stilte.
Dit was regpak en wegpak. En 'n gemis wat soms soos glas in my keel gesteek het. My pa se plaaskeppies in die voorportaal. My ma se linnekas. Die uitgerafelde Waverely-kombers oor hulle dubbelbed. My ma se laaste lysie op die swartbord in die kombuis: “Clean Bill grave, service bakkie, buy hose, cook jam, fix guttering."
Dit was die gespikkelde lyf van 'n reusevisvanger. En honger kinders. En baie skottelgoed. Dit was vroegoggendkoffie met room – net ons vier, voor die ander wakker word. En Samuel Emmet natuurlik. Want driejariges slaap nie.
Dit was hamtoebroodjies met growwe mosterd. En beurtkrag en kerse en paraffienlampe (en geen selfoonsein). Dit was om my pa te sien in my broers se hande. En 'n lakentent in die sitkamer. En die konsertinahek op die werf wat steeds so moeilik toemaak.
Dit was die mayonnaise-bottels wat nog in 'n kastrol op die stoof gestaan het vir daai jam-maak-plan. Dit was die kleinste nefie wat leer swem. Dit was 'n kalfie bottel gee. En tieners wat help skape bymekaar maak in die berg. Dit was die reuk van my pa se plaasoorpak in die kas. Dit was diesel vat lande toe. En water na die bergkamp. Dit was my ma se stapskoene langs haar bed. Dit was wors met umngqusho en botter. Dit was Campari en Prosecco en die berge wat altyd blou is.
Desember was vir my genade.
Daarmee groet ek. Mag 2024 vir ons almal die geskenk van liefde inhou. Want uiteindelik is dit die enigste ding wat sin maak.
Salige Sondag
Anneliese
Sometimes
Sometimes
if you move carefully
through the forest,
breathing
like the ones
in the old stories,
who could cross
a shimmering bed of leaves
without a sound,
you come
to a place
whose only task
is to trouble you
with tiny
but frightening requests,
conceived out of nowhere
but in this place
beginning to lead everywhere.
Requests to stop what
you are doing right now,
and
to stop what you
are becoming
while you do it,
questions
that can make
or unmake
a life,
questions
that have patiently
waited for you,
questions
that have no right
to go away.
- David Whyte
(Uit: Everything Is Waiting for You)
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.