Dis nie ons kerk se mense nie, Ouma

SATERDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Dis nie ons kerk se mense nie, Ouma

Van vandag af is ons boekeredakteur op Saterdae aan die woord. Om jou ’n blaaskans te gee van harde nuus, bekyk sy die planeet in die geluksalige vrede van die naweek.

NAWEKE bied ledige ure om te besin oor boeke en mense. Woorde. En in my wêreld is daar elke dag gedigte, ook op 'n Saterdag.

Ek dink aan my ouma. My ouma was my mens. Van al die grootmense was sy die een soos wie ek wou wees. Outentiek. Nie sexy, glamorous, cool of stylvol nie. Sy het soos ’n krimpvarkie gelyk: ronde lyfie in stywe crimplene, dun arms en bene, stokkerige grys hare, bril en valstande. Altyd aan die woeker en werk, terwyl sy onder haar asem Halleluja’s sing. Sy was ’n Israeliet sonder bedrog.

Sy het die Bybel ontelbare male gelees en kon vers en kapittel aanhaal. Die 1933-vertaling. Aan haar knie het ek Jesus as my Heiland aangeneem en uitgesien na ’n stad met fondamente, waarvan Christus die boumeester en oprigter is.

Eendag was daar niemand om ons kerk toe te neem nie. My ouma het nie meer bestuur nie. Toe val ons in die pad, te voet, ek en Ouma. ’n Redelike stywe ent stap ons langs die grootpad, doelgerig. Mense wou ons oplaai, maar ons kyk nie links of regs nie. Ons is onderweg na die huis van die Heer.

Ná die diens is daar, vreemd vir die NG kerk, ’n “altar call” – die jong dominee vra mense wat hulle hart vir Jesus wil gee, om na die kansel te kom. My ouma staan op. Ek natuurlik ook. “Maar Ouma, ons ís mos wedergebore?” fluister ek tydens die lang stap na vore. “’n Mens kan nooit genoeg opstaan vir die Here nie,” antwoord sy. Ek dink ons was die enigstes voor die kansel. My gesig was rooi, maar die Bybel het mos hoeka gesê in hierdie wêreld gaan ons verdrukking ervaar.

Maar sy is dood toe ek 12 was en ek het vir jare gehunker na die boesem van die gemeente, na die gemeenskap van heiliges, die klank van die Woord, die Wet en die profete. Maar toe kom vernuwe hulle alles, soos rekenaarprogramme wat immer opgedateer word net sodra jy jou weg met gemak vind. In die nuwe vertalings het al die woorde wat ek en my ouma liefgehad het, weggeval, soos: vertoef, herwaarts, goedertierend, snood, erbarming, godvresend. Ek het soos ’n hert in dorre streke gedors na die genot van die helder waterbeke, tot ek besef: dis nie na die kerk wat ek verlang nie, dis na my ouma se onvoorwaardelike liefde.

Kersfees is ek op Hartenbos, in die huis oorkant die amfiteater. Ek hoor die gemeente sing en ek dink: Ons ken nie meer die woorde nie, Ouma – hulle het alles gaan verander. Elke woord van die predikant kom oor die uitstekende klankstelsel na my aangesweef. Hy is with it en preek oor Kersfees wat so fake geword het. Hy laaik die woord “fake” kwaai. Ek dink aan my ouma se klinkende taal. Hoe sou sy dit sê? Klatergoud, waarskynlik. Afrikaans het beter woorde, as ons hulle nie langs die pad laat val nie.

Nou gaan ek nie meer kerk toe nie. Ek het die teenswoordige wêreld met al sy skete liefgekry, maar my ouma het gesê sy het stapels gebede vir my opgestuur, genoeg om my ’n leeftyd te hou.


ek soek alles

soveel whiskey dat ek jou naam vergeet en myne net-net kan onthou.
nee, wag, daar is myne ook nou onbeskikbaar. soveel whiskey dat ek nie
weet wie ek is nie maar jy verwag dat ek vir jou moet sê waarvoor ek soek,
wat ek wil hê? al die whiskey en tog kan ek die antwoord uit my dooie mond
sleep. alles. ek soek alles. ek wil alles hê, (wat jy verstaan as seks, en
dit maak sin, maar dis nie wat ek sê nie), ek wil letterlik alles hê. alles:

troukoek en genesing van trauma, suurlemoentert en vuur, baie ure,
al die honde, pleisters en pille en verbande vir my wonde. sit dit in my
mandjie: sjampoe en batterye, vryheid en geborgenheid, sjokoladesous
en seep. ek soek al die bome en die voëls, ek soek miljoene boeke, ek wil
wysheid hê, en oppervlakkigheid, ligsinnigheid en linne. borsbeelde van filosowe,
die gebeendere van elke uitgestorwe soogdier. met alles bedoel ek eenvoudig
alles. wind en windstil, al die soorte weer. beheer en om geheel en al buite
myself te wees, heel, mal, blomme. al die kos, elke liewe man, babas, babakatjies
én ’n babalose bestaan waarin ek vry is en kan vlieg. ek soek ook vinne, ek soek
wit kamers en komberse en handdoeke in elke liewe kleur. sluiers, verkykers,
spelde. bring daar vir my vlinders, vadoeke, vurke, porselein en medisyne,
kieme en kameras. ek soek meer oë, ek soek al die ore, ek soek ’n fennec fox
(mak) en ’n wilde perd. ek soek ’n stert en ’n glas water. ek soek ’n mop
en ’n troon en meer as een plek om te woon. soveel rykdom dat ek almal
kan help. ek soek pine-nuts in my slaai. ek soek geregtigheid en regverdigheid
en ek soek beter eindes. ek soek beginne, ek soek ’n resepteboek, ek soek lang
gras en genade. ’n trop skape wat van ouderdom sal sterf, vegan kaas wat behoorlik
smelt, bevrediging. alles, soos in gom en skêre en genoeg papier om my
vir ewig besig te hou, en baie ledige dae. sugar cones en aanvaarding, goeie slaap
en iemand wat my elke dag uitdaag en my uitlos. ek soek ontbytpap en orgasmes
en ’n skoot waarop ek my swaar kop kan neerlê vir ’n onverdiende nap.
ek soek screenshots en emails, foto’s en Ted Talks, weke sonder sein, memes en
winterdruiwe. ek soek ’n wasbeer en ’n bad vol bubbles, ek soek die koue see
en ’n skeepvrag vol geel eendjies,’n opblaaswalvis en ’n tas. ek soek ’n reisplan
en ’n rusbank, ’n private jet en ’n hand wat myne nooit laat gaan nie. ek soek mooi
voete en antwoorde, beter vrae, goeie-haar-dae en 'n bier. ek soek nuwe name,
vanne, diere, dorpe, nog een soen en ’n kuur vir kanker, ’n baie eenvoudige
lensiekerrie en ’n llama. ek soek sequins-rokkies en minder drama, suurdeegbrood
en ’n klein boot waarin ek elke dag kan vaar na hier en daar en elders. ek soek
jou foto in 'n raam en ’n plek waar ek in vrede kan naar raak want dit was dalk
nou te veel whiskey en ek is oorweldig deur die vloedgolf van my behoefte
wat die wêreld wil verswelg. ek soek alles. maar wat is my naam?

- Bibi Slippers

Uit: Soekenjin

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.