Hou tog op om Mandela aan te haal

MAANDAG MET MAX

Hou tog op om Mandela aan te haal

’n Onverkwiklike relletjie in die Mandela-klan het MAX DU PREEZ laat wonder in hoe ’n mate dit 'n metafoor is vir hoe ons met die nagedagtenis van die stigters van ons demokrasie omgaan, en Rise Mzansi is dalk net die vars, gesonde briesie in ons bedompige politieke atmosfeer.

Die onverkwiklike relletjie in die Mandela-klan oor wie wat van Nelson Mandela se nagelate besittings mag verkwansel of nie, is 'n metafoor vir hoe ons as 'n nasie met die nagedagtenis van die stigters van ons demokrasie omgaan.

Mandela se oudste dogter, Makaziwe, verkoop nou haar pa se ID-boek, sy sonbril, sy gehoorapparaat, persoonlike briewe, hemde en vele ander besittings in Amerika.

Sy eksvrou, Winnie, se kinders en kleinkinders gaan nou hof toe om 'n deel van haar besittings, onder meer die Mandela-huis en persoonlike items, van haar dogter Zenani Mandela te eis.

Van die ANC tot die DA en selfs mense verder regs smous graag met Nelson Mandela se naam, ook met dié van ander helde van weleer soos Desmond Tutu en Walter Sisulu.

Ons beroep ons graag op Mandela se status as ikoon van moraliteit, universele wysheid en visie, maar hy sou sekerlik skaam en diep teleurgesteld gewees het met wat nou in die land aangaan waarvoor hy soveel opgeoffer het.

Ons haal hom graag aan (waar dit ons pas), maar ons leef nie volgens sy voorskrifte van diens aan die mense, van medemenslikheid, van die akkommodering van almal nie.

Dit voel vir my 'n bietjie soos die EFF wat hulle self Sankariste noem, na die asketiese, visionêre president van Burkina Faso wat in 1989 vermoor is, Thomas Sankara. Die EFF-leierskap se korrupsie, mag- en geldsug is die presiese teenpool van dit waarvoor hy gestaan het.

Dit laat my terugdink aan een van die laaste AWB-vergaderings wat ek destyds in Potchefstroom bygewoon het. Een van die voorbok-skeeuers van rassistiese twak dié aand was 'n jong man in 'n Ché Guevara T-hemp.

Ons as 'n nasie het Mandela se nalatenskap verraai, nou gebruik ons hom om ons gulsigheid en verrotting te kamoefleer.

Mandela het as Beskuldigde Nommer Een op 20 April 1964 al verklaar: “During my lifetime I have dedicated myself to this struggle of the African people. I have fought against white domination, and I have fought against black domination. I have cherished the ideal of a democratic and free society in which all persons live together in harmony and with equal opportunities. It is an ideal which I hope to live for and to achieve. But if needs be, it is an ideal for which I am prepared to die.”

Pres. Cyril Ramaphosa, onder wie se leierskap ons die laaste ses jaar ernstig agteruitgegaan het, gebruik graag Mandela se naam in plaaslike en internasionale toesprake. Selfs die korrupte Jacob Zuma roep sy naam in herinnering.

Die ANC van vandag is nie die ANC wat Mandela in die 1940’s en weer na 1990 laat herlewe het nie. Dit is 'n verrotte, korrupte en onbeholpe regerende party wat die mense van Suid-Afrika in die steek gelaat het.

Mandela is een van die voorste stigters van die ANC se militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe, in 1961. Zuma, wat meer skade aan Suid-Afrika en sy mense gedoen het as enigiemand sedert 1994, steun nou 'n party wat dié naam opeis. Mandela, en MK-helde soos Chris Hani en Joe Slovo, moet in hulle grafte omdraai.

Selfs regsgesinde wit Suid-Afrikaners haal Mandela graag oor versoening aan, maar laat na om na sy onverbiddelike eis vir sosiale geregtigheid te verwys.

Ramaphosa en Kie. kan maar ophou om Mandela oor die Palestyne en Westerse dominansie aan te haal, en eerder onthou wat hy oor leierskap gesê het: “Real leaders must be ready to sacrifice all for the freedom of their people.”

En: “It is better to lead from behind and to put others in front, especially when you celebrate victory when nice things occur. You take the front line when there is danger. Then people will appreciate your leadership.”

Watter van vandag se politieke leiers sou eendag kan sê soos Mandela in 1999 verklaar het: “There will be life after Mandela. On my last day I want to know that those who remain behind will say: ‘The man who lies here has done his duty for his country and his people'.”

Ek het wonderlike persoonlike herinnerings aan Mandela. As burger van Suid-Afrika is ek diep dankbaar vir sy demonstrasie van menslikheid, sy visie van ons as 'n verenigde, trotse en suksesvolle nasie, sy rol om ons vreedsaam na 'n demokratiese bestel te laat oorgaan.

Maar hy was geen heilige nie. Hy het wel die beste in ons almal as Suid-Afrikaners verteenwoordig – en na vore gebring.

Niemand kon na hom sy skoene volledig volstaan nie, maar ons kon en moes wel voortgebou het op die pad wat hy vir ons aangedui het.

Ons het dalk in 1990 – 1994 'n messiaanse figuur nodig gehad, maar nie vandag nie.

Ons ken mekaar vandag beter as Suid-Afrikaners; ons kom glad nie te sleg oor die weg nie.

Ons hoef nie Mandela se gesig op T-hemde te dra nie, ons moet net onthou wat die droom was, wat moontlik was toe hy in 1994  ons eerste president geword het.

Dit is steeds moontlik.


Stellenbosch Revisited

Stellenbosch is kastig 'n classic, maar ek het haar 20 jaar gelede
by die venster uitgesmyt – “hopeloos oorskat” het ek gesê,

soos On the Road, Parys of die 60’s.
Liewer grinterig lewe en na hartelus vergaan
as 'n versuikerde pilletjie elke dag
in dié aftree-oord van drome, dankie.

Maar dis 20 jaar later en ek weet nie meer lekker
waaroor ons provinsiale stryd destyds was nie.
Ek wantrou steeds Hollywood, Frankryk en kerkmusiek –
alles wat te geslepe, mooi of monumentaal is,

maar o, Stellenbosch, dis 20 subversiewe jare later en ek is besig
om weer 'n swak te ontwikkel vir jou
bleddie beautiful Bolandse lentes jou teatrale
sonsondergange, jou selfingenome berge.

Jy lyk wragtig nie 'n dag ouer nie, inteendeel,
jy’t laat werk aan jou gesig jou cappuccino’s
stoom onverstoord geborge
in die blaaie van 'n Lonely Planet-gids.

Stellenbosch, bokkie, I’m not okay
and you’re not okay
maar dis oukei – wat jy sien, is wat jy kry

en ek kyk nou sonder verwagtings,
sonder wanhoop of verweer na jou lanings,
jou akkers, jou wingerde, jou blakende, weselose studente
al jou edel sentimente.

Jy was eintlik onskuldig,
intellektueel misbruik soos meeste simbole
'n magtige lugspieëling, erfsonde
van 'n hulpelose rykmanskind.

Stellenbosch, on second thoughts,
jy is 'n verkragte classic –'n bergie met 'n gewel uit 1840
vir 'n hoed, 'n Picasso met ore
vir oë en monde vir ore; 'n meer tragiese
verstrengeling van lig en donker, 'n beter balans
tussen waarheid en digting sal jy kwalik kry, maar ek bly

die period piece, ek is verby

nou eers kan ek jou argitektuur
in die skemering bewonder, nou eers
gaan ek vredig lê soos stof
om die fyngetrekte Kaaps-Hollandse lyne

van jou brose, jou wrede ou, barbaarse beskawing.

- Danie Marais

www.versindaba.co.za

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.