'n Tyd gelede vlieg ek uit Kaapstad na die Schiphol-lughawe. 'n Mens is mos maar altyd 'n bietjie benoud as jy die “Nothing to Declare”-poortjie benader. Wat as daar tóg iets in jou tasse is wat verklaar moes word?
Ek haal diep asem – amper by die uitgangsdeure – toe ek onverwags deur twee doeanebeamptes gestop en vervolgens in 'n klein ruimte gedu word. My hart sak in my skoene. Soos gewoonlik is daar verskeie monsters van produkte wat ek in Nederland wil verkoop in my tasse. Wat as dit 'n probleem is?
Die twee rommel deur my bagasie. Hulle het nie 'n saak met al die monsters wat by die tasse uitpeul nie. Waarna soek hulle dan so doelgerig?
Later word dit duidelik: gesigsroom.
Liggaams- en gesigsroom wat die huid ligter maak is 'n multimiljoenrand-nywerheid in onder meer Afrika, Asië en Suid-Amerika, ondanks die feit dat sommige van hierdie rome gevaarlike vlakke van kwik bevat wat in talle lande onwettig is.
Gereelde gebruik van produkte met kwik verlaag die huid se weerstand teen infeksies en kan lei tot veluitslae, vlekke op die huid en onegaligheid. Langtermyn-gebruik kan lei tot beskadiging van die oë, longe en niere, asook van die vertering-, immuun- en senustelsels.
Ten minste 10 Afrika-lande, waaronder Suid-Afrika, het al stappe gedoen om “skin lighteners” te beperk. Ongelukkig is dit nog vrylik beskikbaar op die informele mark – dit word onder meer by taxihaltes en huiswinkels (spaza-shops) verkoop – danksy onwettige invoerpraktyke.
Die begeerte vir 'n ligter huid in vele lande soos Indië, die Midde-Ooste en China word toegeskryf aan Westerse skoonheidsideale wat lank ná kolonialisme nog steeds nagestreef word.
'n Kennis van my het dit al 'n keer só opgesom: “Almal wil soos Beyoncé lyk.” Vir vele mense beteken 'n ligter huidskleur beter werk- en huweliksvooruitsigte en, soos hulle hier in Mzansi sê, “the soft life”.
'n Paar jaar gelede het ek een van daardie DNS-toetse laat doen wat glo jou etniese agtergrond ontleed. Die uitslag het getoon dat ek min of meer dieselfde persentasie Afrika- en Indiese DNS het, plus ongeveer 20% Skandinawies. Maar in totaal, 13 verskillende etnisiteite.
Maar as mense my oor my agtergrond uitvra – en jy sal verbaas wees hoeveel keer dit gebeur – antwoord ek altyd dat ek uit Afrika kom en myself as swart beskou. Nie omdat ek die ander dele van myself ontken nie, maar omdat ek wil wys dat my swart huidskleur iets is waarop ek trots is en nie iets is waarvoor ek my skaam of hoef te skaam nie.
Nadat die doeanebeamptes op Schiphol deur my bagasie gesnuffel het, sê ek nog tevergeefs verontwaardig: “Nie almal wil wit wees nie.”
As dit maar so was. Skynbaar wil miljoene mense wel.
Sheep in Winter
The sheep get up and make their many tracks
And bear a load of snow upon their backs,
And gnaw the frozen turnip to the ground
With sharp quick bite, and then go noising round
The boy that pecks the turnips all the day
And knocks his hands to keep the cold away
And laps his legs in straw to keep them warm
And hides behind the hedges from the storm.
The sheep, as tame as dogs, go where he goes
And try to shake their fleeces from the snows,
Then leave their frozen meal and wander round
The stubble stack that stands beside the ground,
And lie all night and face the drizzling storm
And shun the hovel where they might be warm.
– John Clare
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.