Dalk gaan Slaappil maak dat ek ook hokgevegte begin kyk

WOENSDAG MET WILLEM

Dalk gaan Slaappil maak dat ek ook hokgevegte begin kyk

WILLEM KEMPEN nostalgeer oor almal van Willie Toweel tot by Sugar Ray Leonard.

Ek is baie bly vir ou Dricus “Stillknocks" du Plessis, ons nuwe middelgewig-wêreldkampioen in daai UFC-moermekaar-dinges. Dit lyk my hy het hard gewerk en baie opgeoffer en baie mense verkeerd bewys op sy pad boontoe. En dit lyk my ook sy oorwinning Saterdagaand (Kanadese tyd) kan selfs beteken dat Suid-Afrika een of ander tyd 'n UFC-toernooi mag aanbied, wat goeie publisiteit vir die land kan wees as ons onsself nie in die proses in die voet skiet nie.

Maar ai, ek kan myself regtig nie sover kry om na een van daai fights te kyk nie. “Mixed martial arts" klink vir my na 'n mooi manier om te sê jy kan jou opponent bliksem op enige manier wat jy wil, en dit was nog nooit vir my lekker om te sien hoe iemand se oë toegeswel en sy gesig vol bloed en snye is nie, en te wonder hoe sy harsings nou daar in sy skedelruimte lyk. (Nog minder die gedagte om self enige van daardie simptome te moet opdoen. Ek kon ook nooit verstaan hoekom iemand Fight Club sou wou kyk nie.)

@jon_edreyer

Hulle WEET Nie wat ons WEET Nie ,maar Nie and weet Nie 🤦🏾‍♂️🤦🏾‍♂️🤣🤣

♬ original sound - Jon-e dreyer

Tog was gewone boks vir lank vir my nogal aanskoulik, veral as daar 'n kans was dat die (effens) kleiner outjie die groter ou ore kon aansit. Soos toe die slimmer en ratser Muhammed Ali in die Rumble in the Jungle in Kinshasa in 1974 die toe nog onoorwonne George Foreman uit die kryt uit gedink het. Nog beter was die middelgewigte van die 1980's; uitgeslape boksers soos die manjifieke Sugar Ray Leonard, wie se vernuf en reflekse dikwels genoeg was om groot ouens soos Roberto Durán, Thomas “The Hitman" Hearns en “Marvelous" Marvin Hagler dik te tik.

En tussendeur hulle almal was daar die Amerikaanse promotor Don King, wat dekades lank die enigste invloedryke lewende swart man ter wêreld was waarvan wit kinders in Suid-Afrika mag geweet het. Heel anders as byvoorbeeld Nelson Mandela, wat sy lewe lank 'n boksliefhebber en in sy studentedae 'n bedrewe swaargewig was. 

Ons het wel geweet van mense soos die legendariese Toweel-familie (het iemand al 'n boek oor hulle geskryf?) of die internasionaal gerekende skeidsregter en beoordelaar Stan Christodoulou. En al die kampioene met byname waarmee die aankondigers so kon toor:

Thuuuuuu-laniiiii “Shhhhhh-uga-boyyyyy" Maaaaa-lin-ga!

Charlie “The Silver Assassin" Weir.

Jacob “Baby Jake" Matlala.

Dingaan “The Roooooooooooose of So-weto" Thoooo-bela!

Gerrie “The Boksburg Bomber" Coetzee, die sagmoedigste man in die geskiedenis wat vir 'n lewe ander mense so hard as moontlik aanhoudend met die vuis in die gesig geslaan het.

Maar toe kom die era van “Iron Mike" Tyson. “Ore aansit" danksy vaardigheid het plek gemaak vir “ore afbyt" en ander waansin. Veral swaargewig-boks het 'n bietjie van 'n klug begin word, iets wat net so effens meer waardigheid as professionele rofstoei het. En UFC is mos eintlik maar net Dubya-Dubya-Eff met regte bloed, of hoe?

Maar hier is ou Dricus nou, en ek sien allerhande tekens dat mens hom ernstig kan opneem as 'n sportman, cage fighting en al. En hy kry bonuspunte vir die spitsvondigheid van sy broer, wat hom sy bynaam gegee het oor hy soos die slaappil Stilnox sy opponente vir 'n rukkie uitsit.

So nou wonder ek: Moet ek kyk of ek Dricus se geveg van Saterdagaand iewers te siene kan kry?


The Boxer

I sit on the stool, slumped in a heap
My hearing has gone and I try not to weep
The flash of the lights, the roar of the crowd
But I can’t hear them, not even a sound.

My body is tired, my ribs are all numb
I want to be elsewhere, at home with my son.
Anywhere is easier than just being here
But I am the master, controlling my fear.

No place for cowards, no time for the weak
This sport is the toughest, six days of the week
I walked past the crowd, ready to fight
Yet none of them saw me vomit tonight!

A sport of heroes, the time of kings,
I’ve worked so hard, each day in the ring
A tournament of champions, my time has it come?
This round is the twelfth ... I’ll know when it’s done.

 C P Sennett

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.