Wat het Mamokgethi Phakeng, Claudine Gay en Thabi Leoka in gemeen? Hulle is aan die wêreld voorgehou as sterk, swart vroue wat saam met die groot honde in hulle onderskeie kringe kan blaf. Sterk is hulle heel waarskynlik, en swart is hulle vir seker. Maar wow, was hulle nou ’n teleurstelling vir die #BlackExcellence-gemeenskap?!
Daar heers geweldige omstredenheid in esoteriese kringe oor die terme “black excellence” of “coloured excellence”, want dit is nommer een te vreemd en nommer twee te veel verantwoordelikheid om op iemand te plaas bloot oor die kleur van hulle vel. Ons moet mense aanspreeklik hou op grond van hulle vermoë om hulle werk goed te doen. Rocket science is dít hoegenaamd nie. Daarmee saam is dit maar net voor-die-hand-liggend dat jy jou werk eerlik ook moet doen, nie waar nie?
Hoeveel van ons se Google-soektogte van verlede week sal verklap dat ons vir die masjien gevra het “Who is Thabi Leoka?” Indien jy een van diegene is wat nié die vraag die kuberruim ingestuur het nie, knap gedaan! Groepsdruk het jou nie in sy greep nie! Leoka is onder meer ’n bekende kommentator op ekonomiese gebied. Sy het glo gejok oor die feit dat sy ’n PhD het (ek sê maar “glo”, want sy hou vol sy het die kwalifikasies en die papiere). Nadat dit op die lappe gekom het dat Leoka nie die waarheid praat oor haar kwalifikasies nie, het dit nadelige persoonlike én professionele gevolge vir haar ingehou.
Aan Phakeng hoef ek julle nie te herinner nie (lees my rubriek oor haar hier). Ek is uitgepraat oor haar. Haar vlag het geval. Kortliks: Hoe vreemd dat sy nou met gewere op sosiale media pronk?! Watter boodskap is dit veronderstel om uit te stuur na diegene wat haar glo leed aangedoen het? Sy het ook glo heelwat werk in die pyplyn, sy plaas die ongelooflikste vakansiefoto’s en is meer aktief op X as die meeste millenniërs. X is nie die regte wêreld nie, Phakeng!
En dan is daar die voormalige Harvard-president Claudine Gay. Tweede vrou in dié gesogte pos. Eerste swart vrou in dié pos aan hierdie spoguniversiteit. Gay raak ’n interessante ding kwyt in haar stuk in The New York Times: “It is not lost on me that I make an ideal canvas for projecting every anxiety about the generational and demographic changes unfolding on American campuses: a Black woman selected to lead a storied institution."
Wat bedoel Gay wanneer sy meen dat sy die ideale “canvas” is vir die dinge wat sy in haar meningstuk noem? En hoekom reken sy dat sy die skuld kry omdat sy swart is? Ek het soveel vrae rondom daardie debakel, want vir iemand wat nie soos Leoka lieg oor haar kwalifikasies nie, is Gay se argumente maar geweldig voorgraads.
Nee, man! Wat ’n aaklige tyd om ’n bruin vrou in die akademie te wees! Hier kan van julle nou dalk van my verskil. Dit is geweldige harde werk om spasies te moet navigeer wat voorheen nie tot jou beskikking was nie. Hier praat ek nie nou van myself nie, want #BornFree. Alhoewel ek al so oud is soos ons land se demokrasie, is ek net een stap verwyderd van mense wat nie die tipe vryhede geniet het wat ek tans geniet nie. Dit is my plig om mense te verteenwoordig soos van my familielede en van die mense by wie ek onderrig ontvang het en wat nié hulle drome kon verwesenlik nie.
Alles in ag genome wakker die aanstelling van persone vanuit sogenaamde voorheen benadeelde groepe (oeg, mag ons dit nog sê? Gen Z? Ek luister by die draadloos [dis ’n radio, fyi]) verdere vrae rondom regstellende aksie, BBBEE en #representation aan.
Is daar nog plek in ons post-post-moderne tye vir regstellende aksie? Vir seker. Maar is die persone aan die stuur van die regstellende aksie die regte mense om daai calls te maak? Vir seker nie. En ek vee die geskiedkundige gebeure in Suid-Afrika wat ’n ekonomiese, maatskaplike en sosiale agterstand in 'n menigte swart en bruin mense se lewens meegebring het, glad nie van die tafel af nie. Maar as jy dit tot by ’n hoë posisie maak – don’t fuck it up.
Ma
Jy kry altyd so koud:
somers in en winters uit.
Verlangend, vér van jou Wellingtonse
suiker teen 'n trippens die pond.
Altyd het jy sente vir dadels omgedraai,
gespaar vir later, jou bekommer oor eendag.
Min geweet hoe ons amandels sou breek.
Nou verwarm ek jou in hierdie gedig,
in die amperherfs van my lewe
met 'n durende verlossing
uit dáárdie gedoemde Wellington.
- Joan Hambidge
Uit: Konfessies, kaarte en konterfeitsels
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.