Van tronkvoël tot kunstenaar

SATERDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Van tronkvoël tot kunstenaar

Ons boekeredakteur vertel van 'n oorrompelende minireeks op Netflix, 'n boek met ChatGPT as medeskrywer. En daar is 'n koptoor-gedig.

Seun sluk heelal in

Soms tref iets jou soos ’n meteoriet, nee; ’n dromerige seepbel met die verpletterende impak van ’n meteoriet. En boonop kom dit uit Australië.

Kyk, as die wêreld ’n speelgrond was, was Australië die kind wat geboelie word. Daar word op hom neergesien omdat sy tekkies nie ’n gesogte handelsmerk het nie en sy aksent van die verkeerde kant van die spoorlyn kom. Sy stamboom is verdag.

Is Australië regtig gestig as ’n strafkolonie? Ja. Die Britte vestig in 1788 die eerste kolonie van bannelinge in Nieu-Suid-Wallis. Voorheen het hulle misdadigers na Amerika gepos, maar nadat hulle in die Amerikaanse Revolusie verslaan is, moes hulle elders kyk. Hulle stuur skepe vol bandiete en vestig ’n kamp in Port Jackson, waar hulle op 26 Januarie 1788 die Union Jack hys. Die dag word steeds gevier as Australië-dag.

Maar, soos so dikwels gebeur, ontwikkel die kind wat geboelie word, ’n kunssinnigheid – dis nou benewens ’n talent vir aggressiewe, rampokker-agtige krieket en rugby. Daar het uitnemende skrywers uit hierdie klein vasteland gekom, en ek tel nie J.M. Coetzee en Bryce Courtenay nie – hulle was ons s’n. Dink aan Patrick White, Markus Zusak, Germaine Greer, Richard Flanagan, Helen Garner, Peter Carey.

Australië (en natuurlik Judy Davis) het in 1979 my oog gevang met die fliek My Brilliant Career, gebaseer op Miles Franklin se roman van 1901. Hierdie land het ’n aweregse rolprentkultuur geskep. Dink maar aan The Adventures of Priscilla, Queen of the Desert, Muriel’s Wedding, Mad Max, Picnic at Hanging Rock en ander.

En nou het die Australiese Netflix-reeks Boy Swallows Universe ons vasgenael gehou voor die TV-skerm, soos min of meer die hele wêreld. Ek wil die boek ook lees, Trent Dalton se semi-outobiografiese debuut.

Daar is ’n onselfbewustheid, ’n onironiese eerlikheid aan hierdie land se uitbeelding van gewone mense – kommin, maar slim en eksentriek. Eli Bell se familie stoei om kop bo water te hou in Brisbane in die 1980’s. Sy pa is ’n hopelose dronklap, darem met ’n fassinerende edge: hy lees sonder ophou, ly aan wydtevrees en gaar in sy deurmekaar huis stapels en berge boeke op. Eli se ma het weggeloop uit ’n welgestelde ouerhuis; sy is fyn en sensitief, naïef, met onfeilbare swak smaak in mans. Sy het die drinker-leser-pakrot gelos en hulle woon nou saam met Lyle, ’n vrolike dwelmhandelaar in Hawaise hemde, met ’n blonde mullet en skaaptjoppe vir sideburns – toe dit nog zef was. Eli se sensitiewe ouer broer is stom, of hy praat bloot nooit. Hy sien flarde van die toekoms en skilder dit toweragtig mooi.

Die jong akteur Felix Cameron steel wêreldwyd harte met sy vertolking van Eli. So ’n eietydse Tom Sawyer, ’n kleingeboude knaap met lang, donker lokke en blou oë. Skoolboelies noem hom Tinkerbell. Sy androgene skoonheid word uitgekanselleer deur waagmoed en willewragtiggeit. Hy dink op sy voete en beraam altyd ’n plan om uit die verknorsing te kom. Hy is dikwels in warm water. En ons praat nie hier van seunsprobleme soos Trompie en sy makkers s’n nie – ons praat van onderonsies met hardebaard drug merts wat mense se bene en koppe met elektriese sae verwyder.

Dis bittersoet, soms snaaks, dikwels uiters hardcore en skokkend, soms onuitspreeklik hartseer. Die gevoel waarmee dit die kyker laat – en die hemel weet, ons het dit nodig – is: wees rustig, die wêreld is wreed, boos en lukraak, maar broos en lieflik, en alles gaan regkom, of ten minste baie beter word.  


Artisjok

Laatnag vleg 'n skielike ritseling
my stadig los
uit swaar arms van my geliefde,
donker suster van my dood.
Dou sak heeltemal te vroeg vanjaar
op my grasperk en plante neer.
Takke en blare ril nog waarskuwend
as ek deur die wind na my groentetuin beur.
My flitslig skok die grootste plant
wat haar lang, silwergrys blare vou,
ritselend toe, dig
om die geheime, pers, glinsterende vrug.
Raak my aan, asseblief,
raak my nie nou al aan nie.
Uit hierdie bitter grond gebore
tussen windhande wat my wil klief.
Ek vou die stingels versigtig weg,
pluk 'n paar blare en proe,
huiwerig om my tong,
donkergroen, suursoet parfuum van die nag.
Net een maal het ek jou so sien lê
ná 'n laatnagmaal van artisjok.
Jou hande was lig oor jou borste gevou,
jou bene terughoudend gekruis.
Laag vir laag het ek jou afgeskil
met 'n versigtige, moedelose tong,
tot by die diep, geheime, bitter vrug
wat weer terugtrek tussen jou dye.
Deur strelende hande van jou geliefde,
jou lokkende suster van die slaap
kon ek hoor: raak my aan, asseblief,
raak my nooit meer aan nie;
te lig om 'n groen hart finaal te klief.

– Henning Pieterse

Uit: Die burg van hertog Bloubaard

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.