Drie stories

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Drie stories

ANNELIESE BURGESS vertel drie klein verhale oor wat sy met haar oë sien en haar hart voel.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Die wonderlike kinderboekillustreerder Brian Wildsmith het gesê: “I paint what I see with my eyes and feel in my heart." Dit is 'n bietjie hoe ek voel oor die woorde en gedagtes wat ek hier in my Sondagbrief bymekaartrek.

Vandag het ek drie stories. Oor wat my oë sien en ek met my hart voel.

Die ouer vrou, ek skat haar in haar al in haar laat sestigs, weifel by die groot uitstalling Bakers Choice Assorted by die ingang van die supermark.

Sy is netjies aangetrek, maar is duidelik arm. 'n Veel gewaste shweshwe-voorskootromp, tradisionele krale, en soos dit die gewoonte is by veral ouer vroue in die Oos-Kaap, 'n losserige beret op die kop. En 'n handsakkie. Ek sien hoe sy wik en weeg voor die berg koekiebokse. Uiteindelik tel sy een op en stap rigting till. En dan draai sy om en gaan sit dit weer netjies terug.

Dit is in die dae voor Kersfees, oral stap mense met kreunende trollies rond. Die beeld van die vrou slaan my in my maag. 

Sy sê sy het gedink om vir haar 'n boks koekies te koop vir Nuwejaar. Vir die familie? vra ek. “Nee, my kind," sê sy, “dis net ek." Haar dogter, haar enigste kind, was net klaar met haar honneursjaar, toe pleeg sy selfdood. Maar sy het so baie van die koekies gehou en dit voel vir haar altyd asof haar dogter nog by haar is wanneer sy so 'n boks oopmaak. Hulle het dit altyd Nuwejaar saam gedoen. Maar sy kan dit eintlik nie bekostig nie, so dit is beter om dit maar te los.

Dit gebeur soms, so 'n weerlig tussen mense wat hulleself oopmaak vir mekaar. En dit gebeur daai Desemberoggend in die groente-afdeling van die Superspar in die grootdorp. 

“Ja, dit was depressie. Die kliniese soort. Sy't pille gedrink en ek het gedink dit gaan OK op Rhodes. En toe laat weet hulle, sy is nie meer met ons nie. Dat sy haar lewe geneem het."

Ek probeer eers my trane keer, maar naderhand ook nie meer nie. Op my ouderdom is daar anyway nie meer veel van filter nie, mens huil mos vir als. Die vrou se oë blink ook, terwyl sy my vertel dat sy soms sommer kom rondloop in die groot winkels om te kyk na goed, want dit raak baie eensaam by die huis. 

Ek sê ek sou graag vir haar 'n boks van die koekies koop. Ek voel 'n bietjie selfbewus om dit aan te bied. Miskien vat dit aan haar trots?

Sy is verbaas. Hoekom sou ek dit wou doen?

“Want ek kan. En dit is mos die tyd vir geskenke gee."

“Maar ek kan niks vir jou gee nie," sê sy. “Jy het," sê ek. Sy glimlag. “OK, dan sê ek net dankie."

By die till vertel sy vir my dat die hartseer nou, ná drie jaar, steeds elke dag daar is. Veral hierdie tyd van die jaar wanneer die kinders altyd huis toe kom. Maar, sê sy, sy voel ook nou en dan weer bietjie gelukkigheid. Soos nou. Oor die koekies vir Nuwejaar. Haar dogter se gunsteling was die pienk wafers. Sy hou weer van dié wat in die blinkpapier toegedraai is, en ook van die “jammers” met die kolletjie rooi konfyt in die middel. Dit is myne ook.

***

Lone Oaks is 'n kwekery in Gonubie. Hektaars groentesaailinge op ystertafels. En 'n klein winkeltjie waar vroue in blou oorpakke en rooi klei-gesmeerde gesigte (die natuurlike sonmiddel van die Oos-Kaap) jou saailinge vir jou in 'n sakkie aftel: ek koop 30 basiliekruid, 50 spinasie, 20 sprietuie en 10 boontjieplante. Soos ons uitstap, groet ek 'n man wat met twee yslike sakke langs hom op die houtbankie by die ingang sit. 

Die kwekery is diep in die suburbs, hier is nie vervoer nie.

Ek vra of hy 'n lift soek. “Ja, assssseblief tog," sê hy. “Hy was nou net besig om bietjie te rus om sy bene reg te kry vir die lang stap op hoofpad toe," lag hy.

Die man vertel vir my en my dogter dat hy hier kom saailinge koop wat hy dan weer by die taxistaanplek in Oos-Londen se onderdorp verkoop. Spinasie verkoop die beste, en dan is die beet ook gewild. Hy koop die plantjies vir 40 sent elk, en verkoop dit dan vir 60 sent.

Hy sal seker oor twee dae weer kom haal. Ek maak die somme in my kop. Hy sal R250 wins maak op vandag se saailinge. En hoeveel kos die taxi hierheen? "R30 one-way," sê hy. Dit beteken hy sal R190 maak. 

My dogter bestuur. Sy ry bietjie vinnig oor 'n spoedhobbel. Ek vra om verskoning, vertel sy het so pas haar lisensie gekry. “The young lady" laat hom dink aan sy dogter, sê hy. Sy is ook so mooi lank. Sy studeer by UCT. Gelukkig is daar deesdae NSFAS, anders sou sy ook maar plante moes verkoop, grap hy.

Maar dis net jammer daai NSFAS-mense is altyd so deurmekaar, want in die maande wat dit sukkel met die uitbetaling kan hy nie eens help nie, sy plante-geld is te min. Eendag as sy 'n prokureur is, sal sy bekommernisse verby wees, sê hy. 

***

Ek laai die twee mense langs die pad op, hier tussen die tamatieplase, waar ek bly. Die vrou loop swaar. Die man se oog is toegeswel. Hy't 'n groot sak by hom, wat hy tussen hom en die vrou op die agtersitplek van my motor indruk. Die vrou vertel my daar's groot fout met haar knie, sy is op pad kliniek toe in die stad. Die man is stil, behalwe om te vra dat ek hom aflaai by die ingang na die Emslie's se plaas. 

Hy klim uit met 'n dankie. Sleep die sak agter hom aan. Dit klingel. Die vrou vertel my dis haar broer. Iemand het hom die vorige aand so geslaan, dis dié dat sy gesig so sleg lyk. Ek vra wat is in daai sak wat so klingel. Dis blikkies, wat hy Maandae uit die mense se rommelsakke lanks die pad uitkrap, dan gaan verkoop hy dit op 'n plek in die stad. Hy kom nou van die kampplek daar by die Kwelerarivier. Hy het daar gaan blikkies soek, en die groot bierbottels waarvoor mens geld kry.

Ek laai die vrou af by die Spar. Van hier sal sy 'n taxi kan kry, sê sy.

Daarmee groet ek.

Salige Sondag

Anneliese


Aan die verhuisingsmanne

Dra saggies, vriende,
want sierpotte en erdewerk,
keurborde en fyn glas
sluit ’n lewe
met sy drome
en verlangens in;

Dra saggies, mededraers,
want die drag
van veerbed,
tafels, lessenaar
druk teen die bors
se dun skelet;

Dra saggies, regters,
want die oordeel
oor my klein bedryf
lê vasgevang
in prente, boeke
en ’n eie ou gemakstoel;

Dra saggies, gode,
want die hart se porselein
is broos en tot veel seer
en kwesbaarheid geneig:
die kratte van ’n lewe
kan so maklik breek.

–  Ernst van Heerden

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.