Ons leef tussen die reëls

SATERDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Ons leef tussen die reëls

Ons boekeredakteur mymer oor die teenstrydighede wat ons in hierdie land voor ontbyt probeer verteer.

Ek besef weer waarom ek sukkel om te byt aan flieks waarvan ek die boek gelees het: Ek vorm my eie beelde terwyl ek lees, en uiters duidelik.

In Januarie is die uitgewers maar stil en word daar nog nie gereeld boeke by my hek afgelewer nie. Dan koop ek maar hier en daar ’n boek om te lees, liefs op uitverkoping by Bargain Books. Die boeke se omslag is redelik generies en titels klink maar dikwels dieselfde. Ek begin lees en heeltyd sien ek die tonele voor my afspeel, soos déjà vu. Ek was al daar. Ek het hierdie fliek gesien, besef ek skielik. Maar nêrens kry ek vermelding dat die boek verfilm is nie. Die bekendheid word te veel en ek gaan soek: Ja, ek het in Julie 2022 in Vrye Weekblad oor die boek geskryf. Ek het dit gelees, en wat my bybly is die prentjies wat ek gemaak het.

Ek sou gedink het dis die woorde wat my sou opval en bybly. Ek is so oor die kop geslaan met woorde. Ek onthou nie altyd om die woorde wat ek hoor en wat my bekoor neer te skryf nie, maar verlede week het die woord “heuningsommelier” van êrens op my radar beland en summier het my brein op reis gegaan. Ek sien ’n hobbit-agtige taverne met gras op die dak, waar ’n hommelby insekklante uit kalbassies bedien. Dit gaan stroopsoet en jolig.

Sekere toevallighede slaan my asem weg en kan nie uitgedink word nie, soos die van van die persoon wat vir eNuus verslag doen oor veldbrande in die Kaap: Brand. En absurditeite: Soos Avbob wat so aggressief bemark asof hulle ’n nismark is en nie ’n onvermydelikheid wat vir ons almal lê en wag nie.

Oor middagete steek ek en vriende die draak met die skeppings van Facebook-digters. Ons is lekker snobisties, soos wat ’n mens nie wil wees nie, maar soms is. Woord- en verssnobs, ons. Ons slaan op die plek ’n paarrymende gedig aanmekaar. Dit begin so:

Ek is so stout vir jou
ek kan dit nie hou

En van daar ontspoor dit. ’n Bekroonde skrywer wat ek nie sal identifiseer nie, verskaf die uitklopreël: “Ek steek jou flou.” Ons doen ’n droë Januarie, so daar was nie drank betrokke nie, maar iemand laat waai met: “Brannas is nannas!” Woorde begogel.

Joost van Pletzen se song “Dis kak maarit naai” sit ook my kop op loop. In beleefde taal handel dit oor dinge wat sleg/onaanvaarbaar/smaakloos is, maar tog ’n sekere aantreklike energie het of geniet kan word. Van die dinge wat hy noem, is: Om in die reën te braai, Jolo, Potch, Bloem, Wimpy-koffie, Wilson’s toffies, goue kettings, Spur, geld, brandy, carbs.

Ek probeer dink aan voorbeelde: Crocs. Amarula. Mixed martial arts. Suid-Afrika.

Dis belangrik dat die twee eienskappe mekaar absoluut moet uitkanselleer. Dit mag nie slegter wees as wat dit lekker is nie, of lekkerder as wat dit sleg is nie. Dit is wat dit is. Ons leef met soveel dichotomieë saam. Skisofrenie is die nuwe normaal. Ons dink in prentjies, word getoor deur woorde en verteer voor ontbyt ’n spul teenstrydighede in hierdie land.

Ons leef tussen die reëls. En dis nuanse, as jy my vra. Dis verkiesbaar bo rigiede wit-en-swart-sienings soos sebrastrepe.


Aansoek

As niemand my kom haal nie en ek doelbewus
die lig verruil vir ryke van die duisternis
en eindelik, gelei deur stemme in die wind.
die voetpad na die herberg in die wolke vind:

Maak my tog net die nagwag voor die agterpoort
dat ek, gewapen met een lied, die soetste woord
en allerlaaste aardse droom, die nánaguur
kan deurwaak by die kole van my konkavuur.

– Koos du Plessis

Uit: Om jou verlaas te groet

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.