And let slip the Coal War dogs

WOENSDAG MET WILLEM

And let slip the Coal War dogs

WILLEM KEMPEN wonder waarom Mpumalanga se steenkool-heavies glo nie meer Suid-Afrikaners vertrou om hulle te beskerm nie.

Ek verneem op bedenklike gesag dat minstens sommige van die steenkool-warlords van Hoëveldse Mpumalanga deesdae hulle neuse optrek vir Suid-Afrikaanse “bodyguards" (eintlik maar huursoldate). Diés uit iewers in Wes-Afrika is glo baie beter opgelei en meer betroubaar, al is hulle soms ook duurder, veral as hulle ingevoer moet word.

My bron hiervoor, wat ek dadelik sal toegee nie ten tyde van ons gesprek volkome nugter was nie, vertel my hy kom onlangs na sy bakkie aangestap waar dit reg langs 'n plaaslike steenkoolbaas se donkerruit-spogmobiel geparkeer staan. Dis nou in een van daai dorpies wat eintlik nog net bestaan uit potholes en 'n Cash Loan en die laaste reste van 'n kragstasie (en als wat daarmee saamgaan). Een van daai dorpies waaroor Gwede Mantashe so besorg is.

In elk geval, twee parate ystervleise met body armour en urban camo en swart berets en aanvalsgewere en so 'n Stallone-houding staan wag buite Steenkoolbaron se vuur-by-vuurwa. Dalk is die res van die security detail in een van die winkels saam met die baas, wie weet. Dalk is hierdie storie getrouer aan die atmosfeer van die gebeure as aan die akkuraatheid van die detail, wie weet.

My vriend, synde iemand wat 'n stewige klap moedswilligheid weg het, kom toe ook agter dat die gebruiklike karwag nêrens te siene is om getip te word nie. 'n Geleentheid wink, dag hy.

Hy haal die kleingeld wat vir die karwag bedoel was uit sy sak en loop met sy arm uitgestrek daarmee in sy hand na wat vir hom lyk na die junior van die twee steenkoolsoldate. “Thank you!" sê hy, dalk op daardie unieke manier waarop Suid-Afrikaners dankbaar probeer klink vir iets wat hulle in die eerste plek nie wou gehad het nie maar nogtans bereid is om voor te betaal.

Junior lyk verward, maar voor hy die geld kan vat of iets kan sê, is Stallone Senior tussenbeide: “We are not car guards," in 'n afgepiste toon en 'n aksent wat Nigeries kan wees.

Ons soek nie jou kleingeld nie, by implikasie.

Maar Junior, wat hom vermoedelik effens laer af op die paramilitêre loonskaal bevind, se beginsels is minder rigied: “You can bless me if you want?"

My vriend het 'n oomblik gewonder oor die moontlike implikasies daarvan om dié soort gap cover sommer so in die oopte te betaal, en mens weet nooit of die mynbaas wat opgepas word 'n Chinese konneksie ook het nie, want dan is die rules of engagement weer heel anders.

Maar hy betaal die man toe maar. Hy hét immers aangebied.

En dalk kom dit eendag handig te pas om in die goeie boekies te wees van iemand wie se werk dit is om 'n Hoëveldse steenkoolbaas aan die lewe te hou. Wie weet?


First frost

A girl is freezing in a telephone booth,
huddled in her flimsy coat,
her face stained by tears
and smeared with lipstick.

She breathes on her thin little fingers.
Fingers like ice. Glass beads in her ears.

She has to beat her way back alone
down the icy street.

First frost. A beginning of losses.
The first frost of telephone phrases.

It is the start of winter glittering on her cheek,
the first frost of having been hurt.

- Andrei Voznesensky

Uit: Antiworlds

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.