Die mag van Taylor Swift

DONDERDAG MET MERCY

Die mag van Taylor Swift

Jy hoef nie van haar musiek te hou nie, maar jy kan haar nie ignoreer nie, skryf MERCY KANNEMEYER.

Image: ANGELA TUCK

Glo dit nou of nie, maar ’n regte gevaar wat sommige Amerikaners tans in die gesig staar is die invloed wat Taylor Swift dalk op die Amerikaanse verkiesing kan hê.

Taylor lyk na ’n goeie meisie. As ’n mens haar so van ver af dophou, lyk sy soos daai meisie wat hoofdogter op laerskool én hoërskool was. Sy lyk soos die meisie wie se ma vir elke koekverkope by die skool die grootste en spoggerigste koek gebak het. Sy lyk soos daai meisie wat altyd omring was deur mense wat haar vriend wou wees. Ons almal ken daai meisies. Dinge raak interessant wanneer die meisies dan hulle stem begin kry. En, eish, ons is in die era waar popsterre dalk presidente kan word. Ek meen maar, as Kanye West president van Amerika wou word, is enigiets moontlik.

Die 34-jarige Swift het by die afgelope Grammys geskiedenis gemaak deur vir die vierde keer album van die jaar te wen. Die popster se Eras toer het miljarde rande ingebring, en haar volgelinge op sosiale media is byna ontelbaar. Onlangs het sy het nóg ’n album aangekondig. Die gespottery met Taylor is mos dat sy gereeld met aantreklike mans uitgaan, en wanneer die verhoudings dan op die rotse loop, bring sy ’n ongelooflike goeie popliedjie daaroor uit. So, hóé op dees aarde is dit moontlik dat ’n jong meisie soos Taylor wat van ’n skynbaar nederige agtergrond af kom, ’n politieke rolspeler kan word?

Taylor was in 2023 Time se persoon van die jaar en hierteen het heelwat mense geskop, want hoekom sy?! Hoekom nie die joernaliste in Gaza wat daagliks hulle liggame op die spel plaas nie; hoekom nie Elon Musk nie; hoekom nie Beyoncé met haar Renaissance album en toer nie?! Ons gaan hoekom en waarom tot ons blou in die gesig is; en feit soos ’n koei – Taylor het impak. Jonk, oud, gay, straight, wit, swart. Mense like haar kwaai.

Daar is egter ook diegene wat haar glad nie kan verdra nie. Een van daai gene, is voormalige president en internasionale drol – Donald Trump. In 2020 het Taylor haar gewig by Joe Biden ingewerp, en was sy nogals ernstig oor hoe Trump níé in die Withuis hoort nie. Taylor was van die begin van Trump se presidensiële veldtog en uiteindelike presidentskap geweldig uitgesproke oor hom. Sy het deur sy politiekery te bevraagteken en sy skynheiligheid uit te lig, dit geweldig duidelik gemaak dat sy nie ooghare vir Trump het nie.

Die Amerikaanse presidensiële verkiesing gaan weer tussen Trump en Biden wees. Trump is 77! Biden is 81! En hieroor gaan ek vir seker ageist wees. Hoekom wil die ooms nie gaan aftree en rus nie?! Iedergeval. Trump maak alweer benoude spronge (so asof hy enige ander spronge maak); hy is bewus van Taylor se impak, en het aangevoer dat hy gewilder as Taylor is… Dink jou dit in. ’n Voormalige president vergelyk homself met ’n 34-jarige popster. Niks wat uit Amerika uit kom moet ons enigsins meer verbaas nie.

Haar groeiende gewildheid raak nou vir die Republikeine al hoe meer van ’n probleem. Daar bestaan allerlei samesweringsteorieë oor hoe Taylor propaganda vir die Demokrate versprei, en dat haar verhouding met die NFL-speler Travis Kelce maar net ’n mediafoefie is om nog gewilder te word. Volgens sommige Trump-ondersteuners is Taylor ook 'n “plant” vir die Demokrate. Klink belaglik, nè?

Hoe dit ook al sy – Taylor het mag. Jy hoef nie van haar musiek te hou nie, maar jy kan haar nie ignoreer nie. Sprake loop dat Taylor wéér vir Biden sal steun. Die Republikeine sal hase uit hoedens uit moet pluk om die volgelinge wat Taylor saam met haar na die Biden-kamp gaan neem, te probeer oortuig om rooi te stem.

Joh. Interessante tye.


Wild Geese

You do not have to be good.
You do not have to walk on your knees
for a hundred miles through the desert repenting.
You only have to let the soft animal of your body
love what it loves.
Tell me about despair, yours, and I will tell you mine.
Meanwhile the world goes on.
Meanwhile the sun and the clear pebbles of the rain
are moving across the landscapes,
over the prairies and the deep trees,
the mountains and the rivers.
Meanwhile the wild geese, high in the clean blue air,
are heading home again.
Whoever you are, no matter how lonely,
the world offers itself to your imagination,
calls to you like the wild geese, harsh and exciting –
over and over announcing your place
in the family of things.

– Mary Oliver

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.