Wie onthou nog vir Masha Amini?

DINSDAG MET ANESCA SMITH

Wie onthou nog vir Masha Amini?

Die 22-jarige vrou het sowat twee jaar gelede gesterf nadat sy deur Iran se sedepolisie oor die kop geslaan en aangehou is omdat haar hare volgens hulle nie behoorlik bedek was nie, ANESCA SMITH.

Die filmregisseur Ali Abbasi was 'n student in Iran toe hy vir die eerste keer van die reeksmoordenaar Saeed Hanaei gehoor het.

Hanaei het tussen 2000 en 2001 minstens 16 prostitute in die heilige stad Mashhad vermoor omdat hy geglo het dit is sy “Godgegewe plig om 'n jihad te voer” teen vroue wat sekswerk doen.

Meer as 20 jaar later het Abbasi 'n film oor Hanaei gemaak. Of meer spesifiek oor die laksheid van die owerhede om hom vas te trek en die reaksie van die publiek op sy aanhouding – duisende mense het sy wandade toegejuig.

Holy Spider was een van die mees indrukwekkende films wat ek verlede jaar gesien het. Maar dit is moeilik om dit te sit en kyk sonder om aan Masha Amini te dink.

Onthou u haar nog? Die 22-jarige vrou wat sowat twee jaar gelede gesterf het nadat sy deur Iran se sedepolisie oor die kop geslaan en aangehou is omdat haar hare volgens hulle nie behoorlik bedek was nie.

Moenie sleg voel as u haar nie meer onthou nie, in die lig van die feit dat die media nog nouliks aandag skenk aan haar of die duisende protesteerders, waaronder joernaliste, wat gesterf het of nog steeds in die gevangenis krepeer omdat hulle in die dae ná haar dood in opstand gekom het. Ek sien so nou en dan dat Amnestie Internasionaal nog 'n pleidooi vir hulle vrylating rig.

Waarom het ons eintlik van hierdie mense vergeet? Ek lees dat die sedepolisie – aanvanklik afgeskrik deur die internasionale aandag wat Amini se dood ontlok het – intussen hulle skrikbewind hervat het.

Hierdie toestande is erg onthutsend. Nog te meer as mens Iran se geskiedenis voor die Islamitiese Revolusie van 1979 ken. Toe was dit nog 'n voortuitstrewende, moderne land. Kyk bietjie na hierdie foto’s van vroue in Iran voor die revolusie – minirokke, grimering, juwele en ja, selfs vroue en mans in dieselfde haarsalon.

Abbasi en sy twee hoofrolspelers kon dit intussen nie waag om na Iran terug te keer nie, uit vrees dat hulle meteens in hegtenis geneem sou word. Sy film het ook onder sekere Westerse kritici deurgeloop vir eksplisiete tonele waarin gewys word hoe die sekswerkers brutaal met hulle eie hoofdoeke verwurg word.

Abbasi het in reaksie aan NPR gesê dié soort kritiek toon 'n gebrek aan nuanse en neem nie die geskiedenis van die Iranse filmbedryf en sensuur in ag nie.

“Vir 50 jaar was die liggaam van die vrou afwesig in Iranse films. Pleks daarvan kon jy net hulle pratende koppe sien. Vroue is selfs binne hulle eie huise verfilm, slapend met 'n hoofdoek op. Selfs in die mees godsdienstige families is dit nie iets wat werklik gebeur nie.”

Mooi week

Anesca


De straatjongen

Hij paradeert met ketting, mes en stok:
Geweld is maar een saak van lusteloosheid.
Hij slaat en steekt ook wel, liefst na een slok.
Hij mist – beseft hij vaag – de ware boosheid.

Een vrou passeert hom. Hij versnelt zijn pas.
Een dorre tik. Hij triomfeert, de held.
Maar zijn gevoel is al weer stof en as
Wanneer zij als een zak valt, uitgeteld.

Hij wou zo graag dat golven bloed en slijm
En darmen uit de dame zouden wellen,
Die hem vervolgens iets van het geheim
Van zijn gehate slaap zouden vertellen.

– Gerrit Komrij

Uit: Die elektries gelaaide hand

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.