Die kilometers kopie en sterk menings die laaste week oor die inisiasierituele by die elite-manskoshuis op Stellenbosch, Wilgenhof, laat 'n mens wonder watter aar hier raakgeboor is.
Dit gaan duidelik dieper as net “doop” of “ontgroening” by studentekoshuise. Dit het dalk iets te make met die Afrikanerpsige, veral die manlike psige.
Sover ek kon vasstel, is daar nie die laaste drie dekades veel sprake van ontgroening in koshuise by ander Suid-Afrikaanse universiteite as dié wat voorheen meestal Afrikaans was nie. By universiteite soos Kaapstad, Grahamstad en die Witwatersrand het dié gebruik al meer as 'n halfeeu gelede begin verdwyn.
Ironies genoeg kom die gebruik van “hazing” in Suid-Afrika (en Amerika) uit die Britse empire met sy klas-obsessies en kultuur van netwerkvorming. Net 'n paar jaar gelede nog is 'n nuwe ondersoek na inisiasie by Britse tersiêre instellings begin.
Al die elemente waarvan ons die laaste week hier by ons gelees het, is teenwoordig: vernedering, naaktheid, oorvloedige alkohol en naarmaak-konkoksies (volgens die berig in die Independent van Desember 2019 hierbo is van die studente verplig om maaiers te eet).
Ek het 'n jaar lank diensplig gedoen voor ek universiteit toe is. In die weermag het ek kennis gemaak met die konsep van “spanbou” en “karakterbou” wat as beginsel gehad het dat jou ego en individualiteit eers heeltemal afgebreek moet word. Die senior studente in beheer van ontgroening se ekwivalent was die kapokhaantjie onderkorporaals van die staande mag wat ons destyds só verinneweer het.
Dit was in een opsig anders: ysere dissipline is 'n voorvereiste vir enige weermag. 'n Soldaat moet geleer word om bevele te gehoorsaam, anders kan die gevegsmag waarvan hy deel is, nie effektief wees nie.
Maar 'n universiteit is tog 'n plek van die intellek; van inligting, idees, navorsing en debat; 'n plek waarheen studente uit vrye wil gaan om hulle vir 'n beroepslewe voor te berei?
Dit is mos juis nie 'n plek waar jy jongmense se individualiteit wil onderdruk en “dissipline” op hulle wil afdwing nie?
Dit alles laat my toe dink aan die berugte Kamp Staaldraad, die “boot camp” wat die destydse Springbok-afrigter Rudolf Straeuli en sy helpers uitgedink het om die span vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi van 2003 voor te berei. Dit was pure ontgroening: naaktheid, ontbering, die drink van konkoksies, vernedering – spanlede moes selfs hoenders met die hand doodmaak en mekaar met die vuiste toetakel.
Staaldraad is om 'n ander rede hier ter sake: hoe primitief dit ook al was, ruil spelers wat daar was vandag nog met smaak stories daaroor uit, soos wat die meeste oud-dienspligtiges en studente seker hulle ontberinge onthou. Kyk byvoorbeeld na dié gesprek waarin twee van ons mees gerespekteerde oud-Springbokke, John Smit en Schalk Burger, dit met nostalgie onthou.
Toe Media24 die Wilgenhof-bohaai met groot sensasie onthul het, kompleet met foto’s wat 'n sinistere indruk skep, was my eerste reaksie: Nee man, dit is nie Ku Klux Klan-twak nie, dit is nie boos en okkulties nie, dit nie 'n mensregtevergryp wat in die hoogste hof hoort nie. Dit lyk maar net so as jy na die foto’s kyk en die stories lees.
Want ek het, toe ek self op Stellenbosch was en in al die jare daarna, baie mense goed leer ken wat in Wilgenhof was. Ook uitsonderlike mense soos Beyers Naudé, Frederik Van Zyl Slabbert en Edwin Cameron. Die aand wat die storie gebreek het, was ek by 'n sosiale geleentheid waar twee van ons land en vasteland se mees begaafde entrepreneurs en sakeleiers by my aan tafel gesit het, albei trotse Wilgenhoffers.
Ja, Wilgenhof is 'n formidabele Old Boys’ Network; ja, daar is 'n reukie van elitistiese eksklusiwiteit. Maar nee, dit is en was nooit 'n nes van fascisme, homofobie, rassisme, seksisme en onderduimsheid nie. En ja, dit is duidelik dat die rituele soms handuit geruk en skade aangerig het.
Ek sou nie in die Wilgenhof gepas het wat deur oud-inwoners beskryf word nie. Ek haat magshiërargieë, ek haat baasspelerigheid en misbruik van mag, ek haat stamrituele, ek is nie 'n groepsmens nie en ek ly sertifiseerbaar aan Pathological Demand Avoidance Disorder.
Maar dis ek.
Ek kan dit nie ignoreer of as twak afmaak as iemand wat vandag 'n gebalanseerde, nuttige burger is, sê hoeveel Wilgenhof vir hom beteken het nie.
Soos Dirk van der Merwe, 'n lid van die Kaapse Balie, wat op sosiale media skryf: “Ek was in Wilgenhof. So ook my beste vriende. Ek het bande met daai ouens gesmee wat na 31 jaar so sterk staan soos toe ons almal sorgeloos rondgesit het op die kwôdbanke van Dok se Vakansieplaas. Selfs al sien ek hulle vir jare nie weet ek steeds wie hulle is en wat ek in hulle het.
“Wilgenhof het verder vir my, 'n vet, ongesofistikeerde, skaam kind van Calvinia, uiters baie beteken. Op 'n banale noot, dis waar ek leer Engels praat het want op Calvinia het ons net Afrikaans in die Engelse klas gepraat. Op 'n ernstiger noot, Wilgenhof het my blootgestel aan vele hoogs intelligente mense uit radikaal verskillende agtergronde en oortuigings wat nie alleen vir my die selfvertroue gegee het om die wêreld in die oë te kyk nie, maar ook my oë in soveel opsigte oopgemaak en my huidige oortuigings gevorm het even if the penny dropped much later.
“Wilgenhof was nie vir almal ewe lekker nie, natuurlik nie (wat op gods aarde is?), maar vir my en duisende ander ouens, was dit 'n ongelooflike opbouende ervaring.”
Nog 'n oud-Wilgenhoffer, die sakeman Jan Hendrik Vreken, vra die vraag: “As hierdie aantygings van aanranding en intimidasie en verkleinering werklik waar was, hoekom wil oumanne ten alle koste hê hul kinders moet daar tuisgaan? Sodat hulle ook gebreek en verneder anderkant kan uitkom? Komaan mense, dink 'n bietjie verder as die headlines …”
Vreken skryf ook: “Mens kan boekdele skryf oor die mindfuck wat Wilgenhof is/was. Die raaisels, die onsekerheid, die skynoptrede van oumanne … alles slim uitgedink om 'n eerstejaar te laat voel hy moet nog baie leer. Ons het 'n sêding gehad: “Die Plek is vol surprises”. Jy kan hierdie interpreteer nes jy wil: óf jy kan uitgesluit, gemarginaliseer en geïntimideer wees, óf jy kan nuuskierig, intrigued en geïnspireer wees, desperaat om uit te vind wat daaragter lê.
“My persoonlike ervaring was laasgenoemde: ek was intrigued en geïnspireer om meer te weet. Toe ek tot die uiteindelike verstommende besef kom dat die mindfuck oor baie jare verfyn is tot 'n gesofistikeerde kuns, was ek diep dankbaar en geëer om deel daarvan te wees. Die surprises was alles doelbewus daar om die inwoner op sy hoede te hou, om hom konstant uit te daag om dinge te bevraagteken. Die oudste tradisies in die koshuis was alles geskoei op 'n mindfuck. Slim raaisels, rookskerms en intrigue – met die teatrale “Vat hom hoër!!”, net vir effek.”
As ek die rektor van Stellenbosch was, sou ek alle koshuise vir albei geslagte oopgestel het en dit as woonstelblokke, kompleet met 'n body corporate en streng reëls, laat opereer het. Dit geld alle universiteite. Kinders wat nog te onvolwasse is om op hulle eie in 'n universiteitsomgewing te wees, moet myns insiens 'n gap year neem of eers 'n jaar of twee lank gaan werk.
Maar dis ek. Baie ander, studente en hulle betalende ouers, selfs opvoedkundiges, sien nog 'n rol vir “koshuisgees”, die skep van klein gemeenskappe (tribes) en 'n geleidelike inwyding tot die volwasse lewe.
Dit moet net by die etos van ons Grondwet en ons nuwe, demokratiese samelewing inpas en inklusiwiteit vir almal waarborg.
Die Wilgenhof-drama het ook vrae oor die media se aanslag laat ontstaan.
In my boek is Shock! Horror! Scoop! nie meer 'n aanvaarbare kultuur vir die media in 2024 nie.
Daar is genoeg daarvan op sosiale media.
News24 moes natuurlik die berig oor die ontdekkings van die geheime, donker binnekamers van die ou Wilgenhof-kultuur geplaas het. Ek het geen rede om te glo dat enige van die feite in die berigte verkeerd of verdraai is nie.
Maar ons in die hoofstroommedia moet heel eerste vra: Hoe gaan ons berigte/artikels/ontleding deur die breë Suid-Afrikaanse publiek verstaan word? Is die persepsies wat ons woorde en foto’s skep, korrek en gebalanseerd? Of kan dit tot misverstand en stereotipering lei?
By Vrye Weekblad vra ons dié vrae elke week aan onsself. Ons kon ook die pad van “skokfoto’s” en dramatiese getuienis van groot trauma gevolg het. Ons het verkies om oud-Wilgenhoffers en ander oud-Maties se stemme te gebruik, ook dié, soos prof. Pierre de Vos, wat skerp krities staan.
Ons skrywers sal nie huiwer om sterk standpunt in te neem as ons dit nodig ag nie, self al weet ons die meeste lesers in ons teikenmark gaan nie daarvan hou nie. (Ons standpuntinname teen die menseslagting in Gaza is 'n voorbeeld. Ons is nie anti-Israel nie – ons het selfs die eerste minister, Benjamin Netanyahu, in dié week se uitgawe ruimte gegee om sy standpunt te stel – of pro-Hamas nie; ons is net ontsteld oor die minagting van menselewens.)
Ons het boonop die mees intelligente en beskaafde kommentaarseksies onderaan ons artikels waar enigiemand skerp van ons kan verskil, en dit daagliks doen.
Vrye Weekblad het nie 'n ideologie of 'n ander agenda as om ons lesers te help om hulle wêreld beter te verstaan nie.
As ons sê Vrye Weekblad is 'n markplein vir idees, bedoel ons dit en leef ons dit uit.
Dink vir Jouself!
(En as jy nog nie ingeteken het nie, doen dit sommer nou? Jy skuld dit aan jouself om vir 'n skamele bedraggie – 'n fraksie van Rapport se R39 of Mail & Guardian se R49,90 – volle toegang tot ons hele ryk bron artikels oor aktuele sake, die lewe en boeke te hê.)
Gegroet
Max
Blou
Ek het jou lief my land
ek het jou lief om jou blou
ek het oor die aarde gereis
en oral gedink aan jou blou:
lokasies waar glas en sink en gruis
onder die son snou van blou
Klutskwyt en Witbewerasie
onder geswolle donderblou
en ek bid 'n potblou klein gebed
wanneer ek wakker lê oor jou.
– Sheila Cussons
Uit: die asem wat ekstase is
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.