Vuur

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Vuur

ANNELIESE BURGESS vertel van die verwoestende brande op Pringlebaai.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Ek groet julle vanoggend uit 'n vuurverinneweerde Pringlebaai.

Hier van my stoep vanoggend kan ek myself verbeel die verskriklike vuur van die afgelope paar dae het nie gebeur nie. My gunsteling-berg, met sy sagte rondings en klipkam wat saans wegsmelt teen die sterwende laatmiddaglig, het nie gebrand nie. En doer oor die baai, Rooiels se kant toe, het die vuur ook nie sy verwoesting gesaai nie. (En dankie tog, want albei herstel nog van die vorige brande.)

Maar die berge agter is tot in hulle nerwe gebrand en al wat oorgebly het, is vuil sand en swart roet.

Ek en my dogter het 'n week gelede hier aangeland vir die Volgende Groot Stap – Stellenbosch vir haar. Sy was 'n pap baba toe ons destyds in ons nuutgeboude huis hier ingetrek het. En ten spyte van al ons omswerwinge die afgelope 18 jaar, voel dit steeds soos 'n tuiskoms as ek hier instap. 

Die eerste oggend het ek oudergewoonte 'n lang ent gaan stap. Eers padlangs tot by die Hangklip-hotel, en dan links op met die fietspad tot bo-op die berg met die asembenewende uitsig oor Valsbaai.

Dit is nog koel, voor die dag se hitte. Ek hou van 'n paadjie, want ek kan sien waar ek my voete neersit. Ek is lugtig vir slange sedert ek 'n paar jaar gelede byna op 'n koperkapel getrap het toe ek die randjie agter ons huis opgeklouter het.

Daar is net die klank van my tekkies wat girts op die gruis. En my loopstok wat my hier en daar help om nie te gly op die los rotse soos wat die paadjie ál steiler word nie.

Die lug ruik na strooiblomme en son en heuning.

Ek herken blombos en sewejaartjies en fyn, pers pluimastertjies en bitterwortelblommetjies. Daar is groot plate van wat ek ken as mphepo (dit speel 'n groot rol in reinigingsrituele in die Oos-Kaap). Allerlei rietgras en heide (waarvan ek nie die name ken nie). Heel bo-op die berg in die kliprante gewaar ek 'n klos seldsame krans-gladiolus, wat net hier op die kuslyn tussen Pringlebaai en Kaap Infanta voorkom. 

My hart is vol.

Twee dae later begin die brand by Hangklip. Ek sien die eerste rook deur my kombuisvenster terwyl ek skottelgoed was. Die volgende dag is die agterste kant van Pringle 'n maanlandskap. En drie huise het afgebrand in Seafarm, insluitend een wat aan een van die dorp se vrywillige brandbestryders behoort het.

Dit brand steeds bo in die berg. Twee Huey-helikopters neem beurte om die vlamme met water te bombardeer. Ons praat met brandweermanne wat hulle wa volmaak by die hotel (waarvan 'n deel die vorige aand afgebrand het). As die wind nie draai nie, hoop hulle om die brand in bedwang te kan bring.

Maar toe draai die wind.

Om 12:15 kom die opdrag van die Overstrand-munisipaliteit om die dorp te ontruim. Ek kyk hoe die bure 'n klomp gasbottels op hulle bakkie laai. Ek gaan maar aan met my skryfwerk. Die reuk van rook raak al hoe meer intens. 

'n Uur later stop die polisie buite. Die vuur het nou deur die groot kloof tussen die berge gebrand en daar is 'n aktiewe vuurlyn teenaan die dorp. Hulle sê ons moet asseblief ontruim na die gemeenskapsaal in Kleinmond. 

Ons pak die Land Cruiser. Meestal Ilke se universiteitsgoed wat ons die vorige dag aangeskaf het. Pakke beddegoed en handdoeke en plante. Ook haar boks boeke en haar teddies wat sy van die huis af gebring het. Ons klerekoffers. Ek maak 'n fles tee. En pak die halwe bottel whiskey ook sommer in die mandjie. Met 'n properse glas.

Daar is polisie by die ingang na Pringlebaai. Die rook hang dik. Alles is gehul in 'n eienaardige groen-geel waas, want die rook filtreer die son uit.


Links bo: Die vuur kruip al hoe nader aan Pringlebaai. Dié foto is geneem deur Janko de Beer. Regs bo: Die maanlandskap in die rigting van Hangklip. Links onder: My huis teen die agtergrond van die al hoe groter wordende vuur in die berg. Regs onder: Natuurbewaring probeer beseerde diere vang.
Links bo: Die vuur kruip al hoe nader aan Pringlebaai. Dié foto is geneem deur Janko de Beer. Regs bo: Die maanlandskap in die rigting van Hangklip. Links onder: My huis teen die agtergrond van die al hoe groter wordende vuur in die berg. Regs onder: Natuurbewaring probeer beseerde diere vang.

Apokalips

Ek besef meteens die polisie gaan ons nie weer inlaat as ek nou eers hier uitry nie. En vir 'n nag in ons kar sonder dat dit absoluut nodig is, sien ek nie kans nie. Ek ry terug huis toe, seelangs. Ek en Ilke stap op met 'n duin. Die helikopters maak nou nie meer hulle wateremmers in die Buffelsrivierdam vol nie, hulle skep uit die see. Dit is die een gróót teken van hoe ernstig die situasie is, want brandbestryders sal net in uiterste gevalle seewater gebruik.

Daar is twee groot redes hiervoor.

Soutwater is skadelik vir plantlewe en die gebruik daarvan op 'n sensitiewe ekosisteem soos fynbos kan groot en langdurige skade aanrig. 

En tweedens gaan dit oor die skade wat die soutsproei aan helikopters kan aanrig. Die water wat deur die rotors opgesuig word terwyl dit bo die see sweefhang, soos wat nodig is wanneer hulle water skep, kan groot skade aanrig.

Seewater korrodeer metaal en dit is veral 'n probleem as dit in die enjin opgesuig word. Maar 'n ander probleem is dat as seewater op die lemme van die turbine droog word, dit die effektiwiteit van die lem asook die effektiwiteit van die helikopter se enjin kan aantas. (Lees hier hoe verduidelik 'n Amerikaanse vegvlieënier die gevare in meer detail.)

Die strand was 'n apokalipitiese toneel. Digte rook wat alles bruin laat lyk. Vuil lug en donker see. En in die verswelgende rook net die gestaltes van (nou drie) helikopters wat om die beurt, soos Mad Max- naaldekokers, oor die baai kom hang en sweef en skep. In en uit. Oor en oor. Doef-doef-doef. Inkomend en uitgaande.


Voor die vuur. En ná die vuur ...

Ons het die gepakte kar in die oprit geparkeer. Ons sou ry as dit moet, maar vir nou sou ons wag. Ek kyk deur die verkyker hoe 'n ry brandbestryders met 'n pyp teen die onderste lyn van die vuur beweeg.

Daardie aand sit ek en Ilke op die boonste dek. Dit is donker. Ons kyk hoe die vuur soos 'n oranje maanhaar al langs die boonste rif van die berg brand.

Ek sit op die balkon se muurtjie met 'n whiskey. My hart is swaar.

“Hoe kan verwoesting so ongelooflik mooi en majestueus lyk?" vra Ilke.

Die vlamme staan 'n paar verdiepings hoog teen die boonste krantse van Hangklip.

Ek het geweet dit was dan ook die einde van die fynbosvallei waardeur ek 'n paar dae vantevore gestap het – want dit lê in die kom tussen die twee berge. En dit was ook so. Ek het die volgende oggend gaan foto's neem vir julle. 

Daarmee groet ek. Die fynbos sal weer groei. 

Salige Sondag

Anneliese


Praise of Darkness

We touch one another
with defter fingers
at night.

Rain sounds different,
its steady falling
a remembered wisdom.

What if the dark waters
waiting to carry us home 
slept inside every one of us?

We were loved
before stars existed.
We are older than light.

– Francine Marie Tolf

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.