Wie is die ware reisiger?

SATERDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Wie is die ware reisiger?

Ons boekeredakteur wonder of 'n liefde vir reis beteken jy is avontuurlustig of bloot bevoorreg.

Druk jou reisverhaal in jou rugsak

“Reis!” Mense noem dit graag as een van hulle stokperdjies of passies. Asof dit ’n bereiking is, behalwe finansieel. Duh. Wie sal nie graag wil reis nie? En ek wonder toenemend: het dit nie grootpraat of onsensitief geword om uit te wei oor jou eksotiese reise nie?

In ’n era waar dorpe met die grond gelykgemaak word, waar mense sterf van hongersnood en van ons landgenote sonder kos gaan slaap weens armoede, voel dit elitisties om oor jou reise op die kontinent uit te wei.

Ek het die volgende raakgelees:

When someone’s bio is like: “life is short buy the plane ticket” I’m like okay thanks for clarifying we are in different tax brackets.

Reisverhale as ’n genre is na my mening taamlik uitgedien in hierdie era, waar mense op virtuele wandelings deur die wêreld se groot kunsmuseums kan gaan. Daar was ’n tyd toe die reisverhaal koning gekraai het. Mense soos Uys Krige, Elsa Joubert en André P. Brink het fassinerende verslae geskryf van avonture in die vreemde. Hulle was pioniers, amper soos ontdekkingsreisigers. En die rand en dollar was stalmaats. Nou is daar, om vir Koos du Plessis aan te haal, reeds spore op die maan.

Ek het my bedenkings: moet ’n mens jou reis oorvertel? In die sewentigs was daar die eindelose skyfie-aande. Vriende met verstommende visuele geheue en 'n oog vir detail het ons vergas op volledige verslae van elke klein dorpie en eiland se argitektuur, plantegroei, diere, mense en cuisine. My gevoel was altyd: Miskien is dit soos ’n droom: onmoontlik om in woorde vas te vat, jy moes daar gewees het.

Ná my handvol reise kon ek nie besonderhede onthou nie. Geen straatname, statistieke of datums nie. Al wat ek wegneem, is los oomblikke, sintuiglike ervarings en emosies, iets naamloos wat onder my vel gaan sit het.

Reisprogramme op TV is skynbaar steeds baie gewild. Die oog van die kamera neem jou saam, die aanbieder smak sy lippe namens jou en laat in jou plek die uitheemse voggies by sy keel afgly. Dis aanskoulik.

Nou moet ek kwalifiseer: Daar is mense wat reisverhale mag skryf. Bill Bryson, Paul Theroux en Ernest Hemingway, byvoorbeeld. En as jy ’n reisverhaal skryf en jy sit die mens in die landskap, lees ek dit graag. Iemand soos C. Johan Bakkes se wildewoeste reise na die mees ekstreme plekke op aarde boei my, want sentraal aan die uitstappie is altyd die gekrokte sigeuner met roesbruin lokke, koperarmbande en sarongs, lief vir drink en vloek.

As redakteur moes ek een keer ’n bekende reisskrywer se teks versorg en kon niks daarmee doen nie, want dit was bloedlose beskrywings van plekke. Gee vir my Zen and the Art of Motorcycle Maintenance, met ’n spesiale-behoeftes-kind saam op die bike. Gee my mense. Ek soek gesigte voor die Eiffel-toring. 

Verontskuldiging: Ons vlieg volgende week Engeland toe. Ons gaan by familie tuis en ek gaan aanhou werk. Ek sien uit na die vreemde lug, die snydende koue, ’n ander horison. So is ons gemaak. Rusteloos.

Nog ’n najaar in die vreemde
met my drome sonder tal.
En ek weet die winter kom weer
met sy sneeu wat ewig val

Koos du Plessis het hierdie liedjie geskryf voordat hy ooit in die buiteland gereis het. Hy was ’n swerwer sonder rigting, ’n middernagreisiger: sy reise was meestal in die kop. Wie is die ware reisiger, wou hy weet, die een wat reis, of die een wat lees en droom?


Die oerbos

In die oerwoud van Borneo,
Waar die takke druip met mos
En die rasamala-bome
Die son groet bo die bos,
Klouter oor die reusestamme
Die orang-oetangs rond,
En die boomslang, dors na water,
Stuur stadig oor die grond.
Daar hang die tou-lianes,
Wat vol met water sit;
Daar swewe in die bruine lig
Die vlinders groen en wit.
Daar troon die taai doring-rottang,
Wat alles wil omklem;
Daar kruip die modder-krokodil
Om in die see te swem.
Daar is dit soos die dood so stil.
In berg en bos en dal:
Jy hoor net waar ’n oer-ou stam
Sy varing-las laat val.
Maar as dit skemeraand word,
Dan breek die stilte los,
In elke laan en lommeroord,
In hierdie oerwoud-bos.
Dan vonkel teen die swarte stam
Die kewer soos ’n ster
En in die stilte hoor jy hoe
Die klein bos-apies blêr.

- C. Louis Leipoldt

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.