AI-jaaijaai, waar gaan dit alles eindig?

WOENSDAG MET WILLEM

AI-jaaijaai, waar gaan dit alles eindig?

WILLEM KEMPEN meen dié ding is nie net nog 'n gier nie.

Iewers in 'n China Mall in Johannesburg is daar nog agter in 'n stoorkamer bokse en bokse vol onverkoopte fidget spinners, daardie vreemde speelgoed van 'n klompie jare gelede waarvan niemand ooit regtig die gewildheid verstaan het nie. Daar in 2017 se koers was fidget spinners 'n internasionale sensasie. “Groepsdruk" is dalk die naaste aan 'n rasionele verklaring daarvoor, want niemand het ooit regtig geglo dat 'n fidget spinner jou help om te konsentreer of van stres ontslae te raak nie. 

Een van die eerste tekens dat 'n gier aan die oorwaai is, is as dit in korporatiewe geskenkpakkies begin opduik. Ons moes geweet het selfs iets wat op 'n tyd baie nuttig was, soos 'n memory stick, se dae was getel toe die corporate gifting crowd dit verniet saam met 'n botteltjie “mineraalwater" by launches begin uitdeel het.

Maak nie saak hoe groot die nuutste gier is nie, daar is áltyd iemand wat van die begin af sê dis nonsens, dit gaan nie hou nie, bladiebla. En “I told you so", 'n paar maande later.

Of nie, soos in die geval van giere wat nog steeds nie oorgewaai het nie: geplaveide strate, die binnebrandenjin, wisselstroom-elektrisiteit, binnenshuise toilette, die iPhone, en so aan.

En Microsoft. Nie so lank gelede nie nog het mense gesê Bill Gates se eens magtige korporasie se einde is in sig. Die maatskappy van Windows en Office het daai tyd nie juis skouspelagtige verbruikersprodukte verkoop nie, en die baas is 'n onrehabiliteerbare nerd, selfs as jy dink hy het Covid in sy studeerkamer bekook.

Maar Microsoft is nou weer kookwater. Die maatskappy het groot belê in wolkberging toe dit nog nie veel meer as die volgende groot gier was nie, maar is nou die internasionale markleier daarin. Verlede jaar het Microsoft sowat $111 biljoen uit wolkdienste verdien, meer as die helfte van die maatskappy se totale inkomste. Microsoft is konsekwent saam met Apple en Saudi Aramco – ja, daardie toonbeeld van amper-uitgediende tegnologie – die drie grootste maatskappye ter wêreld, maak nie saak wat jou maatstaf daarvoor is nie.

Microsoft is danksy Open AI ook een van die leiers van die huidige Big Thing op Wall Street: Ay-Aai, ook bekend as skeppende of generatiewe kunsmatige intelligensie. En soos wat jy in die dae van die dotcom-borrel bloot “.com" agter jou besigheid se naam kon sit om miljoene dollar se kapitaal te werf, of die woord “crypto" of “coin" nadat Bitcoin die lig gesien het, is 'n verwantskap met die letters A en I deesdae genoeg om die biljoene te laat inrol.

Die beste voorbeeld is Nvidia, wat vir baie lank as 'n relatief vervelige tegnologiemaatskappy bekend was wat grys goeters soos grafiese verwerkers ontwikkel het. Met die opkoms van ChatGPT en soortgelyke produkte het Nvidia egter ook bekend geword as een van die belangrikste verskaffers van die tegnologie waarop generatiewe kunsmatige intelligensie gebou is. Die resultaat is dat die maatskappy se aandeleprys die afgelope twaalf maande meer as 300% duurder geword het.

As jy dink kunsmatige intelligensie is net nog 'n gier wat gaan oorwaai, kyk gerus onder na Sora, die teks-na-video-tegnologie wat Open AI verlede week bekend gemaak het. Dis maklik net so 'n groot AI-oomblik as die publieke beskikbaarstelling van ChatGPT in 2022.

Verstommend soos wat hierdie soort tegnologie is, is dit ook vreesaanjaend. Want as jy dink Sora of Gemini (voorheen Bard) of ChatGPT is nóú ongelooflik, wag tot jy sien wat hulle vólgende week sal kan doen...


Sophie se wêreld

Vir Sophie Sihlenge

Reuke van veld, wol en goiing
draal in ’n pakskuur van die mathandelaar
waar haar ma bedags ou matte langnaald
afrond met soom en fraiings.
Ná skool, haar boeksak en skoene eenkant,
bondel en drapeer sy gebedsmatjies tot tent –
verbeel haar ’n nomade, reisend
oor sand en einders –
tot slaap haar oorval in ’n wêreld
van jasmyntee en verhale van kinderhande
wat elders fyn en vaardig weef en knoop
aan die sagte weelde ondervoets.

- Eunice Basson

Uit: By die dag

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.