Oor Alexei Navalny en doodsrituele

DINSDAG MET ANESCA SMITH

Oor Alexei Navalny en doodsrituele

ANESCA SMITH skryf oor die dood van Alexei Navalny en die belang van die rouproses.

Daar was iets ontroerends aan om te hoor hoe die moeder van die Russiese opposisieleier en politieke gevangene, Alexei Navalny, die regering die afgelope naweek moes gaan vra vir sy liggaam. Net om van Pontius na Pilatus gestuur te word.

Eers is sy na die strafkamp waar hy Vrydag ná ’n wandeling glo net dood neergeval het. Ná twee ure se wag doen 'n amptenaar uiteindelik die moeite om uit te kom. Nee, die liggaam is vervoer na ’n nabygeleë dorp, Salekhard, word sy ingelig. By die lykshuis in Salekhard aangekom, hoor sy en Navalny se prokureur die liggaam is ook nie daar nie. Die staat gaan eers ondersoek na sy dood instel voordat die liggaam aan die familie oorhandig sal word.

Dit sal gelowiges laat dink aan 'n oomblik in die Bybel toe ’n ryk man, Josef van Arimatea, na Pilatus gegaan het om ná die kruisiging van Jesus Christus vir sy liggaam te vra. Josef wou glo nie dat die liggaam oornag aan die kruis hang nie en wou seker maak Jesus kry ’n eerbare begrafnis. Hiermee sou hy die Jode se godsdienstige wette verbreek het, wat voorskryf dat ter dood veroordeeldes geen eerbare begrafnis kry nie.

Dít moes moed gekos het, dink jy as gelowige dan. Net soos dit die 47-jarige Navalny moed gekos het om keer op keer teen die obsene mag van iemand soos Vladimir Putin op te staan. Politici soos hy is dun gesaai. Mense soos hy is dun gesaai.

Soos een plakkaat van ’n Navalny-roubeklaer Saterdag gelui het: “It was murder in slow motion.” Want die Russiese regime het al in 2020 probeer om Navalny te vergiftig. Ná suksesvolle behandeling in Duitsland besluit hy om tóg na sy tuisland terug te keer. Jy het toe al geweet: daar loop 'n dooie man.

Talle van ons het al met boelies in ons lewe te make gehad. Uit sommige se kloue ontsnap jy deur uit ’n huwelik te stap. Of van werk te verander. Putin is nie daardie soort boelie nie. Hom kry jy nie van jou rug af deur sanksies in te stel of kontak te verbreek nie. En die enigste land in Europa wat dít klaarblyklik goed besef, is Pole wat – hoor ek die naweek oor die nuus – besig is om vinnig en onvermoeid die grootste militêre mag in Europa te bou. Miskien weet hulle ook dat dit nie die laaste Putin gaan wees nie, want ons leef nie in ’n era van vredemakers nie.

Ek hoop Navalny se liggaamlike oorskot word binnekort aan sy familie oorhandig. Nie omdat ons regtig gaan uitvind wat die oorsaak van sy dood is nie, maar omdat die liggaam en die rituele rondom die afskeid – om dit op ’n eervolle manier te doen – so ’n belangrike deel van die rouproses is.

Ek onthou 2014 – ’n jaar nadat ek in Nederland kom woon het – toe Russiese magte vlug MH17 bo Oekraïne neergeskiet het. Ek onthou die trein wat vyf dae ná die ramp uit Oekraïne vertrek en deur die nag oor lande heen gespoed het om die liggame van die slagoffers huis toe te bring.

Want om die liggaamlike oorskot van iemand nog vir oulaas by jou te hê bring nie net die realiteit van die persoon se dood tuis nie, maar ook hoe ons in die toekoms ’n nuwe verhouding met die persoon gaan bou.

Mooi week.

Anesca


Dis ’n jammerte, ons was so ’n goeie uitvindsel

Hulle het ons bene
By die heup afgesit.
Wat my aanbetref
Is hulle almal snydokters. Almal van hulle.

Hulle het ons ontmantel
Van mekaar vervreem.
Wat my aanbetref
Is hulle almal ingenieurs. Almal van hulle.

Dis 'n jammerte.
Ons was so 'n goeie
En liefdevolle uitvindsel.
'n Vliegmasjien geskep uit man en vrou.
Met vlerke en ieder al.
Ons het bo die aarde gesweefhang.

Ons het selfs 'n bietjie gevlieg.

– Yehuda Amichai (soos vertaal deur Bester Meyer)

Van: Versindaba

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.