Die grootste hiervan is die liefde

MAANDAG MET MAX

Die grootste hiervan is die liefde

Eerwaarde MAX DU PREEZ predik ook oor die liefde.

Hier is 'n transkripsie van vanoggend se diens deur eerw. Max, leraar van die Kerk van die Afvalliges, Dwarstrekkers en Randeiers, ook bekend as die Kaderkerk:

Goeiemôre geliefde broers en susters.

Die mees treffende vers in die Bybel is 1 Korintiërs 13:13. As ons almal dit werklik ter harte neem, sal die wêreld 'n veel beter plek wees: “En nou bly geloofhoopliefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.”

Dit is 'n teks wat eintlik in alle gelowe se heilige boeke hoort; die Torah en Talmoed, die Koran, die Hindoes se Veda-boeke, die Boeddhiste se Tipitaka, die Sikhs se Guru Granth Sahib, die Zoroastrianiste se Avesta.

Geloof. In die oorspronklike Grieks is “geloof” πίστη, of pisti. 'n Gelowige is 'n πιστός, pistos.

Dit sê natuurlik absoluut niks vir ons nie, maar ek het by ander dominees en teoloë geleer dat dit die indruk van gravitas skep as jy die Griekse of Hebreeuse wortel van 'n woord aanhaal. Dit help die pistos om te dink die prediker weet waarvan hy praat.

Ek het ook gevoel die Grieks het 'n plek hier, want die woorde van ons diens vanoggend kom uit die apostel Paulus se brief aan die Korintiërs, 'n spul donnerse Grieke in 'n stad van erge sonde.

(Terloops, hier by die Kaderkerk is dit aanvaarbaar vir geestelike leiers om vryelik van Google gebruik te maak, selfs van ChatGPT. Ons is nie dogmaties nie.)

Ons moet die pisti behou, sê Paulus aan die Korintiërs.

Hiermee sê hy meer as wat 'n mens dink; hy bedoel meer as net blinde geloof in die goddelikheid wat jy aanhang.

Paulus bedoel ons moet méér probeer wees as net mense wat werk toe gaan, huis toe kom om televisie te kyk, te eet en te slaap. Daar is meer aan die lewe as rekeninge betaal, jou teleurstelling in jou kinders, die Bulls wat maar net nie op dreef kan kom nie en die feit dat jy te oud is of te min geld het om Nieu-Seeland toe te emigreer.

Paulus wil eintlik sê ons moet altyd bedag wees op ons πνευματικότητα, ons pnevmatikótita. Ons spiritualiteit.

In die praktyk beteken dit jy mag maar Huisgenoot lees, solank jy Vrydae en naweke ook Vrye Weekblad lees. Dit is geen sonde om Deon Meyer aan te hang nie, maar jy moet darem ook 'n Antjie Krog in jou boekrak hê.

Vir elke tien episodes van die Real Housewives of Pretoria moet jy na minstens een Netflix-dokumentêr kyk.

Jy mag maar na Kurt Darren luister, maar sit so een maal 'n maand Mozart se “Elvira Madigan” of Schubert se “Death and the Maiden” op jou Spotify. Of die Baardskeersbos Orkes.

Black Label en Klipdrift kan jou geestesingesteldheid momenteel verbeter, maar dit is goed vir die siel vir om so nou en dan aan 'n bottel Rust en Vrede cabernet sauvignon te teug  – of ten minste bo-op jou drankkas in die sitkamer te sit sodat jou vriende dit kan raaksien.

Tweede is Hoop, Ελπίζω, Elpízo. In Sotho: Tshepo. Ithemba in Zoeloe. Nadeyat'sya in Russies (soos in: ek hoop nie Vladimir gaan my ná my laaste Facebook-inskrywing laat vermoor nie).

Ek vind swartgalligheid baie verlammend. Dit bring 'n groot moegheid na die gebeente. Dit maak jou aura sommer pikswart.

In Suid-Afrika het die swartgalliges ook heilige geskrifte: die kommentaarseksie onderaan Netwerk24, Maroela en Politicsweb se artikels, en Facebook.

As genetiese Calvinis glo ek dit is goed om jouself so nou en dan te pynig, vir suiweringsdoeleindes. Ek doen dit deur so nou en dan te lees wat dié basket of deplorables daar kwytraak. Dit ondermyn skoon my pnevmatikótita.

Daar is net mooi niks wat dié lot hoop gee nie. Ons is maar net in ons moer hier aan die suidpunt, veral ons blekes. Almal haat ons. Life is short and then you die. Niks wat enigiemand links van die Bittereinders sê of doen, hou enige goed in nie. (Behalwe Helen Zille.)

Ek onthou die storietjie uit my Kinderkransdae van die dooie hond wat langs die straat gelê en stink het. Verbygangers het hulle neuse opgetrek, draaie om die karkas geloop en sies! gesê. En toe stap Jesus van Nasaret verby, staan stil en sê: “Kyk hoe pragtig pêrelwit is die liewe brakkie se tande.”

#WhatWouldJesusDo

Ja, beurtkrag, slaggate, die lang toue by binnelandse sake, die konstante gestelery van die ANC se fat cats en die stront wat Julius Malema en Fikile Mbalula gedurig kwytraak, kan 'n mens se gemoedstemming negatief beïnvloed.

Maar dan kan jy met jou hond in die park gaan stap en na die voëltjies luister, of jy kan 'n paar skaaptjops uit die Karoo op die vuur sit, of jou verwonder aan jou vrou of man se mooi glimlag.

Jy kan na die mense van Suid-Afrika kyk – nié na hulle politieke leiers nie – en lekker voel dat jy so geseënd is om deel van dié energieke basternasie te wees.

As Cyril Ramaphosa se lamsakkigheid en dubbelpraatjies jou moedeloos maak, dink daaraan dat die Amerikaners aan die einde van die jaar weer vir Donald Trump as president gaan hê.

Daar is áltyd hoop. (Ok, dalk nie as jy vandag in Gaza woon nie.)

En dan is daar Liefde, die grootste van die drie. Αγάπη, of agápi. Uthando in Xhosa. In Mandaryns: 爱, of Ài. (In China hoef jy nie te sê ai, bokkie, ek is lief vir jou nie, jy sê net Ai, en sy sal verstaan.)

My probleem met die Bybelse opdrag dat jy jou naaste so lief moet hê soos jouself, is dat die meeste mense nie juis lief is vir hulleself nie. Dís die mense wat sukkel om ander lief te hê, of selfs te verdra.

Haat en onverdraagsaamheid – boosheid – is die afwesigheid van liefde.

Die toets vir liefde is as jy 'n hardegat Sionistiese Israeli is en jy kan 'n Palestyn se waarde as mens dieselfde as joune skat, en dieselfde vir 'n onderdrukte Palestyn wat na sulke Israeli’s kyk.

Jy kan haat wat hulle aan jou doen of wil doen, of dit waarvoor hulle staan, maar as jy hulle as mense haat, is jou pisti en jou elpizo, jou hele pnevmatikótita in hulle moer (Grieks vir in sy moer: καταστράφηκε από, katastráfike apó).

Liefde is meer as net verdraagsaamheid, dit is aanvaarding van verskille, dit is omgee vir die skepsels hier op aarde. En “liefde vir geld” tel nie as liefde nie.

Gaan dan heen, broeders en susters, en glo, hoop en wees lief. Dit sal van jou ’n veel gelukkiger mens maak.

Gemeente, as die orreliste gereed is, kom ons sing nou saam uit Lied 12 van die Kaderkerk se sangbundel, geskryf deur pastoor John Lennon.

Imagine there's no heaven

It's easy if you try

No hell below us

Above us, only sky

Imagine all the people

Livin' for today

Imagine there's no countries

It isn't hard to do

Nothing to kill or die for

And no religion, too

Imagine all the people

Livin' life in peace

You may say I'm a dreamer

But I'm not the only one

I hope someday you'll join us

And the world will be as one

Imagine no possessions

I wonder if you can

No need for greed or hunger

A brotherhood of man

Imagine all the people

Sharing all the world

You may say I'm a dreamer

But I'm not the only one

I hope someday you'll join us

And the world will live as one

 

Khotso!

Eerw. Max

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.