Wat ons in ons hande hou

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Wat ons in ons hande hou

ANNELIESE BURGESS skryf oor die liefde tussen 'n ma en 'n dogter en 'n pakkie wat net op die regte tyd by haar aanland.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

So hier sit ek toe Woensdagaand, op my stoep. Alleen in my huis. Vir die eerste keer sedert my dogter net bietjie meer as 18 jaar gelede haar opwagting gemaak het.

Die groot liefde tussen my en my dogter het tyd geneem. Die absolute skok van 'n afhanklike wesentjie wat nooit ophou huil het nie, nooit geslaap het nie en volstrek geweier het om aan my bors te drink, het die allesverterende liefde wat ek vandag vir my kind het, so 'n bietjie vertraag. Ons het aanvanklik maar daarop gefokus om net te oorleef.

Om te erken dat daar geen weerligstrale of soft-focus koor van engele was toe ek met die glibberige marsmannetjie op my bors kennis gemaak het nie, is een van die laaste groot taboes van vrouwees (het ek oor die jare agtergekom as ek dit vir mense vertel het). Die diep liefde tussen my en my dogter het nie vir my verskyn soos 'n haas uit 'n towenaarshoed nie.

"Women holding a grudge."
"Women holding a grudge."
Image: MAIRA KALMAN

Ek onthou wel toe ek die engelekoor gehoor het en die weerligstrale gevoel het. Dit was toe sy in die kombuis haar eerste treetjie na my toe geneem het, met uitgestrekte hande en waggelende beentjies.

En sedertdien is sy, en sal sy, altyd die Groot Liefde van my lewe bly.

Elke ding omtrent hierdie nuwe hoofstuk voel reg. Die verlange wat ek hier in my stil huis voel. Die opgewekte stemnotas van haar. Die toekoms wat vir ons albei nou in verskillende lewenshoofstukke oopplooi. Vir my is dit die begin van 'n Derde Hoofstuk. 'n Nuwe vryheid wat ek met groot omsigtigheid gaan koester en gebruik.

"Virginia Woolf barely holding it together."
"Virginia Woolf barely holding it together."
Image: MAIRA KALMAN

'n Pakkie wag op die lessenaar toe ek tuis kom.

En net soos hierdie tyd reg voel, voel Maira Kalman se boek Things Women Carry presies reg vir dié oomblik waarop ek in my stil huis terugstap.

Kalman is 'n kunstenaar en 'n skrywer en 'n moderne filosoof wat op 'n unieke en ongewone manier die skoonheid van die alledaagse raaksien – en skilder. Haar woorde val iewers tussen poësie en filosofie, kort meditasies tussen haar skilderye. Eenvoudig, diepsinnig, teer.

In hierdie mooi boek vier sy al die goed wat ons as vroue vashou. Blomme en minnaars, verlies en kinders, wrokke en ballonne, 'n vreemdeling se blik, the unbearable lightness of being, die gewig van die wêreld. 

In die eerste bladsye skryf sy:

What do women hold?

The home and the family.
And the children and the food.
The friendships.
The work.
The work of the world.
And the work of being human.
The memories.
And the troubles
and
the sorrows
and the triumphs.
And the love.

Men do as well, but not
quite in the same way.

"Mother holding the hand of her child."
"Mother holding the hand of her child."
Image: MAIRA KALMAN

In 'n ander een van haar eenvoudige meditasies skryf sy:

My mother would ask us

“What is the most important thing?”
We knew that the correct answer was Time.

You could say that my mother lost a great deal of time to an
unhappy marriage.
But how unhappy was it? Shakespearean level?
Run of the mill unhappy? Impossible to say.

I can’t ask her because she is no longer alive.
But she ultimately left my father and found her time.

Finding time is all we want to do.
Once you find time, you want more time.
And more time in between that time.
There can never be enough time.
And you can never hold on to it.

It is so strange.
We live.
And then we die.
So unutterably strange.

Inderdaad. 

Daarmee groet ek.

Salige Sondag.

Anneliese

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.