Om een tree voor naamlose verdriet te bly

SATERDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Om een tree voor naamlose verdriet te bly

Ons boekeredakteur dink na oor droefheid.

Ek is nie ’n depressielyer nie, maar word van kindsbeen soms gery deur ’n naamlose smart, ’n kosmiese verdriet, ’n skigtige angstigheid, ’n hesperiese vrees. So ’n dunnigheid in die siel.

In hierdie lewe wil ons helde wees, edel, regverdig en goed. Ons wil ’n verskil maak, die planeet ’n beter plek maak, onthou word. Dit is die ideaal, maar die pyl val dikwels ver van die teiken. Die werklikheid is: as ons dit kan regkry om nie op groot skaal gehaat te word, met die gereg te bots of skouspelagtig ons waardigheid te verloor nie, kan ons regop loop. Die dwarslat is maar laag. My vriend Gielie sê hy vier die klein oorwinnings.

Tog het ons ’n geheime hunkering na verhewe liefde, grootse skoonheid en blywende geluk.

Uit hierdie wanbalans tussen verwagting en vervulling spruit onverwags wél iets verhewe: kuns, daardie blom wat in die sypaadjie se krake kop uitsteek.

Kuns is ’n weerspieëling van die tydsgees. Niemand bou vandag meer hemelkrabber-katedrale met ingewikkelde ysterkantwerk en gebrandskilderde glasvensters wat duiselingwekkend hoog flonker nie. Die opwaartse strewe is getemper. Die bronsbeelde van triomfantelike wit mans op vetboudperde in volle fascistiese regalia is gedateer, dit steek middelvingers in mense se oog. Elkeen dra ’n selfoonkamera, en foto-realistiese uitbeeldings in olieverf van landskappe, argitektuur en mense het oorbodig geraak.

Wanneer ’n mens reis, as jy bevoorreg genoeg is om dit te kan doen, stap jy terug in tyd. Eras rol voor jou oë verby en jy snap iets van die antieke – ’n tydperk toe mense nog geglo het die planeet gaan vir ewig hou en in elk geval wag ons hemelse tuiste met strate van goud. Toe mense tyd gehad het. Toe skoonheid ’n prioriteit was.

Nou is ons helde gesigloos, soos Banksy. Iemand wat die sisteem fnuik. ’n Woonkaravaan met ’n Bansky-kunswerk op die kant geskilder is gewaardeer teen £500 000. Dan was daar die voorval waar ’n skildery wat pas vir meer as £1 miljoen verkoop is, “Meisie met ’n rooi ballon”, haarself voor die geskokte afslaers en bieërs se oë vernietig het.

Ons hou van vervlietende kuns in hierdie kits-era, mits dit op video vasgevang is en miljoene hits kan kry. Ons hou van konsep, kommentaar, interpretasie, die gekantelde blik, eerder as slaafse weergawe.

En tog, die deuntjie draal: Dit het my altyd opgeval, in die dae toe ons nog ’n hele langspeelplaat op ’n slag geluister het – op ’n hard rock- of metal-album vol woedende wanklank en lawaai, hoe hoog en suiwer die een amper soetsappige ballade tussen die kakofonie skitter. En op kunsuitstallings, het ek gesien, bewonder mense die slim installasies vol bloed en staal, maar koop die enkele estetiese stuk, die bittersoet stillewe wat jou siel gaan verkwik teen die sitkamermuur.

Ons is dikwels maar miserabele melankole. Ons leef met ’n helse lot pyn in hierdie en elke land. En ons leer self-medikeer. Dit hoef ook nie net drank te wees nie. Ons hou droefheid op ’n afstand deur oomblikke van verwondering; ’n wysie wat die hart laat lig, die woorde wat iemand bykom om jou ’n alledaagse ding nuut te laat sien, die elegante lyne van ’n gebou of motor. Die liefde van diere. Die natuur.

Ons gaan blymoedig voort. Laat ons juig.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.