As besluite jou lewensmoeg maak

DONDERDAG MET MERCY

As besluite jou lewensmoeg maak

Hoewel besluitnemingsmoegheid al lank aankom, is sommige van ons s’n beslis tydens die pandemie geaktiveer, skryf MERCY KANNEMEYER.

Image: ANGELA TUCK

Soos wat ek nou die dag doom scroll, lees ek iets raak waarby ek vir ’n paar oomblikke moes stilstaan – decision fatigue.

Dag toe nou eers die kinders het alweer iets opgemaak, maar dis glo legit. Dink daaroor – elke dag is daar 'n besluit wat geneem moet word. Stel jou wekker. Maak ontbyt. Gaan werk toe. Neem besluite by die werk. Gaan huis toe. Kies 'n roete huis toe en werk toe met die minste verkeer. Meer indringende besluite ook nog – gaan ek vandag 'n goeie mens wees? Vir wie gaan ek stem? Wil ek nog in hierdie land met al haar kak en hare bly?

Maar soms is dit die kleiner besluite wat soos 'n berg voel. Soos wat om in 'n restuarant te bestel! Met dié dat alles ook nou nog duurder word en die maande langer en die salaris dunner, is winkels toe gaan my grootste besluit. Jy weet, wanneer jy daai blok kaas van R44,90 neersit en eerder die een van R44 optel? Dít!

Nes dit 'n goeie nuuskierige mens betaam, moes ek natuurlik eers gaan kyk wat die medici en wetenskaplikes oor dié ding te sê het. Volgens die psigiater dr. Lisa Maclean (in 'n artikel getiteld What doctors wish patients knew about decision fatigue) kom besluitnemingsmoegheid voor wanneer jy deur die loop van die dag al hoe meer en meer besluite moet neem, en dit lateraan dan byna onmoontlik voel om enigsins te besluit.

“Hoe meer besluite jy moet neem, hoe meer moegheid ontwikkel jy en hoe moeiliker kan dit word," sê die dokter. Maclean sê ook dat teen die tyd wat die gemiddelde mens saans gaan slaap, hulle alreeds nagenoeg 35 000 besluite vir die dag geneem het. Kan jy jou indink?! 35 000 besluite?! Besluitnemingsmoegheid is ’n fenomeen wat moeilik is om te diagnoseer. Party van die simptome van besluitnemingsmoegheid sluit in impulsiwiteit, ekstreme moegheid, fisiese ongemak, brain fog en geïrriteerdheid.

Party kenners meen dat die pandemie ’n verdere uitwerking op ons besluitnemingsvermoë gehad het (en dalk steeds het). Joe, want tóé moes ons almal nogal heelwat besluite neem. Dalk is daar van julle wat ook die volgende ervaar: ek kan groot dele van die pandemie nie rêrig onthou nie…  Die een oomblik is ons almal in die huis en raak moerse kreatief met broodresepte en pynappelbier, die volgende sterf mense in hulle hordes en hoender mag nie verkoop word nie. En toe word die maatreëls versag. Hoewel besluitnemingsmoegheid al lank aankom, is sommige van ons s’n beslis tydens die pandemie geaktiveer.

So, hoe oorkom ons dit? Weet jy, nè, soms haat ek dit dat die oplossings vir moeilike dinge eintlik so maklik is. Ons oorkom besluitnemingsmoegheid deur meer te rus, ons stres beter te bestuur deur sommige take dalk te delegeer, deur te oefen en deur sommige besluite bloot net uit te skakel.


Kremlin

Met ligte trepidasie teen die skuinste uit,
deur die poort en swaar beslaande deure
na somerse blomakkers, wandelroetes geplavei,
versiersuikerspitse en goudbeslaande uie
op wit kerke, met duidelik afgebakende
perke vir die verkenningslus van besoekers
wat vrylik forte en antieke kanonne kiek,
tot jy onnadenkend, deur kameralens verlei,
oor ’n rooisteenlyn trap en ’n alarm skril opklink.

– Martjie Bosman

Van: Versindaba

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.