Een van my gunsteling-boektitels is Ernest Hemingway se A Moveable Feast. Só slim: Op die Rooms-Katolieke kalender is daar vele feesdae. Sommige val nie elke jaar op dieselfde datum nie, maar beweeg oor die almanak, saam met die tweede volmaan in Julie of so iets.
Ek hou van feeste en beweging. Ek sukkel met rigiede roetine. Ek sal iets vir vier dae op dieselfde tyd, plek en manier doen en op die vyfde dag heeltemal vergeet dat ek dit al ooit gedoen het.
Maar op die wentelbaan om die son kom dieselfde dinge altyd weer verby, onwrikbaar soos seisoene. In hierdie lewe is herhaling ons voorland. Niemand kan daaraan ontsnap nie. Soos sperdatums. Soos Saterdag se nuusbrief.
Toe ek jonk was, het ek gereeld met ’n paar vriende gekorrespondeer. Wanneer ek ’n verband snap of iets my laat lag, het ek gedink: Elthea sal dit verstaan. Ek moet vir Attie hiervan vertel. Nou is ek bevoorreg om ’n penvriend te hê wat weekliks wag op my brief: Julle.
Soos digters in elke oomblik en situasie soek na metafore, soek ek hoog en laag na indrukke, insigte en humor om met julle te deel. Ek het al geleer om in die loop sleutelwoorde neer te skryf, op my foon of op ’n kwitansie.
Met inspirasie en die muse kan jy nie ’n afspraak maak nie. Hulle klop ongenooid aan of keer jou die rug. Maar as jy op ’n sekere manier begin kyk na die alledaagse, met jou kop gekantel, duik hulle meer gereeld op, soos kennisse met die oog op ’n verhouding. Soos ’n komediant vir sy gehoor vra: Het dit julle al ooit opgeval hoe eienaardig… en dan ’n gewone ding van ’n uithoek beloer, so begin ek dink: wat as… sê nou maar…
Om gereeld te skryf is maklik, het iemand gesê. Jy sny bloot ’n aar oop en sit voor die skerm en bloei. Natuurlik is jou eie lewe ’n haas onuitputlike bron van inspirasie, maar ’n mens wil waak teen herhaling en voorspelbaarheid. Jy wil nie deursigtig word nie. Jy wil jou geskiedenis kureer, redigeer. ’n Sweem van misterie bewaar.
Jare gelede het ’n toentertyd bekende Engelse joernalis in ’n vrouetydskrif ’n artikel geskryf oof haar ervaring met colonic irrigation. Dis basies ’n besonder deeglike enema met ’n baie lang pyp en Lady Di was ’n aanhanger daarvan. Die joernalis het noukeurig verslag gedoen van die resultaat en opbrengs, van dag een tot tien. Sy het nooit geweet sy is so vol kak nie. Teen dag sewe, het sy geskryf, het “ancient poo” aangemeld.
Daarna het ek die ongemaklike gevoel gehad dat ek heeltemal te veel van daardie joernalis weet. Ek kon nooit weer na haar kyk (sy was ook ’n TV-persoonlikheid) sonder om te wonder oor haar opelyf nie. Lyk haar glimlag effens stram?
Kyk, die wêreld is een groot hoekie vir eensames en ons sit almal maar die beste voetjie voor, hoor.
Feesvlooi van Tshwane, lief vir die mooi dinge in die lewe.
Oggendlied
Na Louise Glück
Van pyn is altyd iets te maak.
Ma verswyg die feit,
maar Sondae klink die orrelspel
in elke register uit – Bach Händel Mendelssohn,
terwyl sy haar sorge aan Hom toevertrou.
Met 'n oop gemoed
in dié gewyde uur
haar kennis en beperkings aan Sy voete lê.
Geen wonder ek is aangewese op stilte nie
in wêrelde verdiep
asof luisterend na 'n afgeslote lied.
- Alwyn Roux
Van: AVBOB Poësieprojek.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.