Die storie van Whitey

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Die storie van Whitey

ANNELIESE BURGESS bepeins teenstrydige waarhede,.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Dit is Saterdagmiddag. Verlede week hierdie tyd het ek in 'n kroeg in Reddersburg gesit. Dis 'n lang trek van Bothaville en ek moet iewers my sit kry en my brief klaar skryf.

Die kroegdame se naam is Wollie. Ek bestel 'n Coke. Die enigste ander klant is 'n man met een been. Hy drink 'n Black Label uit die bottel op die bank. Sy krukke lê langs hom. Wollie lê op haar arms op die toonbank. Dis warm. Daardie droë hitte wat jou vel laat voel asof miere daarop kruier.

Net voor vier val ek weer in die pad. In die kar luister ek na 'n aangrypende onderhoud met David Remnick, sedert 1998 redakteur van The New Yorker. Net ná die val die Sowjetunie word hy die The Washington Post se korrespondent in Moskou. Hy wen die Pullitzerprys vir sy boek Lenin's Tomb – The Last Days of the Soviet Empire. En vandag skryf hy steeds. Al is hy redakteur. Sy jongste artikel in The New Yorker is 'n verbysterende stuk skryfwerk.

In The Cities of Killing skryf Remnick uit Israel, ná die slagting op 7 Oktober en Israel se daaropvolgende oorlog in Gaza. Die eerste sin van die storie: “The only way to tell this story is to tell it truthfully and know that you will fail."

Remnick skryf met helderheid en diepte en nuanse. Hoe hy kyk, hoe hy sien, hoe hy luister, hoe hy 'n verhaal saamvleg, is deurdrenk met menslikheid en sy poging om self te verstaan. Waar 'n ander skrywer deur die lens van vooropstelling en ego sou skryf – daardie gewoonlik macho blik van verduidelik omdat jy wéét – is daar by Remnick beskeidenheid en 'n verterende curiosity. 

“When I see horrible things — it's a terrible admission to make in some way — I don't only experience it the way you would necessarily because I can't. I have a job to do ... remember things, write things down, think about them, ask questions, resist being lied to, and understand when that's happening. And even in some instances, to seduce information, to elicit information. These are not ordinary day-to-day human activities. They're journalistic ones ... [but at the same time] your humanity, your humanness, is also present in your brain. It's a very strange way to be."

In die onderhoud met Sam Fragoso van Talk Easy praat Remnick oor wat hy teenstrydige waarhede, noem: “What's very hard for human beings to do is accommodate numerous and conflicting realities and truths in their brain ...  And I was trying to do this other thing, which was to try to look away from nothing – and that's not a moral relativism, but a kind of display of complexity.”

Die insig draai sedertdien in my kop. Nie presies heeltemal hoe hy dit miskien bedoel het nie, maar van toepassing op ons realiteit hier.

Gereelde lesers van hierdie brief sal weet van my diep, diep liefde vir die platteland. Vir die landskap en die gevoel van oopheid en vryheid. Ek voel aangetrokke tot die argitektuur van plase en dorpe. En geïnspireer deur die eenvoud en eerlikheid van 'n plattelandse bestaan.

Maar die platteland, soos die res van Suid-Afrika, is ook een van teenstrydige waarhede en konflikterende realiteite. Om hier te survive moet mens met kompleksiteit worstel. 

Ek was die week op die plaas by my broer. Ons kook saans in die kombuis met sy vuurwapen op die tafel. Ek het 'n tweerigtingradio langs my bed, want as die krag kraam, kraam die selfoonsein ook – die selfoonmaatskappye het lankal opgehou om die batterye by torings te vervang, dit word net weer gesteel.

Tydens beurtkrag is groot dele van ons land nou kommunikasieloos. Dit het 'n implikasie vir veiligheid, maar die polisie is in elk geval net van simboliese waarde. Meeste boere aan ons kant van die dorp is maar terug op tweerigtingradio's en maak van private sekuriteit gebruik– in die geval van ons distrik, 'n maatskappy uit KwaZulu-Natal met “Zoeloe-spesmagte". Hulle reaksietyd is 15 minute van die plaas waar hulle opskamer is.

Die dorp het al nege dae nie water nie. Laas toe ek hier was, was al die gebottelde water op die dorp uitverkoop. Die hele dorp was siek van die kraanwater. Daar is nie meer 'n munisipale pomptrok op die dorp nie, so die rioolvullis loop in die strate af of word deur private mense uitgepomp en dan by die nie-funksionerende rioolplaas gestort. Die rou rioolvullis loop dan met die rivier af tot in die Doringrivierdam, waaruit die dorp se drinkwater kom. 

Mense is arm. Buiten 'n paar skole, winkels en natuurlik die munisipaliteit, is hier nie veel ander opsies vir werk nie. Mense is afhanklik van staatstoelaes.

Maar wat vandeesweek dié parallelle realiteite (en kompeterende) waarhede die heel skerpste vir my in reliëf gebring het, is die storie van Whitey.

Ek ken vir Whitey. Hy het baie in my ma se winkel gekom. Whitey is 'n bekende veedief. Albei Whitey se hande is onlangs afgekap. Morsaf. By die gewrigte. Met 'n panga of 'n byl of 'n mes. Mense  bespiegel maar niemand weet iets nie. Of hulle weet, maar niemand gaan iets sê nie. 

Niemand is nog vir die afkappery gearresteer nie. En Whitey se stompie-gewrigte het lankal mooi toegegroei. 

Één van die vele realiteite van my geliefde platteland is dat dit ook 'n plek van vrees en geweld en swaarkry en groot brutaliteit is. 

Daarmee groet ek.

Salige Sondag.

Anneliese


We Have Not Long to Love


We have not long to love.
Light does not stay.
The tender things are those
we fold away.
Coarse fabrics are the ones
for common wear.
In silence I have watched you
comb your hair.
Intimate the silence,
dim and warm.
I could but did not, reach
to touch your arm.
I could, but do not, break
that which is still.
(Almost the faintest whisper
would be shrill.)
So moments pass as though
they wished to stay.
We have not long to love.
A night. A day....

– Tennessee Williams

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.