Liewe Heksie en die Renaissance-mens

MAANDAG MET MAX

Liewe Heksie en die Renaissance-mens

MAX DU PREEZ meen die mens kort 'n nuwe era van Verligting.

Die wêreld het 'n nuwe Verligting nodig. Ek bedoel dit soos in die Enlightenment, Aufklärung, die intellektuele beweging van die 17de en 18de eeu in Europa wat die basis van 'n nuwe era van rede, rasionaliteit, wetenskap, verdraagsaamheid en individuele vryheid gelê het.

Om Liewe Heksie aan te haal: ons het 'n bietjie vergeet van al dié waardes. Ons boer 'n bietjie agteruit.

As die mensdom in my leeftyd verder op die Enlightenment voortgebou het, sou ons as die spesie homo sapiens nie vandag so vatbaar vir samesweringsteorieë gewees het nie; sou ons nou minder etnies-nasionalisties gewees het; sou iets soos fopnuus of “alternatiewe feite” skaars kon bestaan; sou die meeste mense oper gewees het vir nuwe idees en teenargumente; sou ons almal meer respek vir die wetenskap gehad het.

Bewysstuk 1: Donald J. Trump gaan, as die jongste meningspeilings dit reg het, op 5 November waarskynlik weer tot president van die magtige Amerika verkies word. Vladimir Putin gaan op 15 Maart sonder twyfel as president van Rusland herkies word.

Twee gesofistikeerde nasies, twee gevaarlike, irrasionele narsiste.

Wat is die wortels van ons agteruitgang? Ek sou sê die oorvloed en onmiddellike, wêreldwye beskikbaarheid van inligting deur die internet moes, ironies genoeg, seker 'n rol gespeel het.

Bewysstuk 2: Sosiale media. Pleks van ons almal op die planeet nader aan mekaar te bring en beter te laat verstaan, het dit die primêre voertuig van disinformasie, fopnuus, propaganda, bevooroordeeldheid en samesweringsteorieë geword.

Veral Facebook, YouTube, Instagram en Twitter/X, wat deur twee superryk wit mans, Mark Zuckerberg en Elon Musk, beheer word.

WhatsApp, Telegram, Signal en soortgelyke kommunikasiemiddels het saam met Facebook en Twitter hoogs effektiewe mobliseringsvoertuie vir haatgroepe, misdaadkartelle en terroriste word.

Globalisering, die idee dat alle nasies deel van één groot geheel is en beter behoort saam te werk, was in lyn met die beginsels van die Verligting, maar is deur magsugtiges misbruik en heelwat van die super-nasionalistiese goggas van vandag floreer op die teenstand teen globalisering.

Die politieke en ekonomiese onstabiliteit in vele wêrelddele het tot grootskeepse migrasie gelei, wat olie op die vuur van die etniese nasionaliste, populiste en outokrate gegooi het.

Bewysstuk 3: die toenemende onverdraagsaamheid jeens LGBTQ-regte – en nie net in fundamentalistiese Moslem- en Afrikastate nie, maar ook nasies soos Amerika, Rusland, Hongarye en Pole.

En dit terwyl elke antropoloog, historikus en sosioloog wat haar/sy sout werd is, vir jou bewyse sal bring dat homoseksualiteit en transgender so oud soos die mensdom is en vir millennia deur beskawings aanvaar en gerespekteer is.

Amerika is 'n maklike plek om al dié goed te toets, want die media daar karring gereeld aan alles en ons word hier aan die suidpunt daarmee gebombardeer.

Die meeste Republikeine glo steeds Trump het die 2020-verkiesing gewen, al het elke ondersoek en vele hofsake die teendeel bewys. 'n Substansiële klomp Amerikaners, wat akademici, kongreslede en suksesvolle sakelui insluit, glo aan stories soos dat die Demokrate pedofiele, sataniste en reptiele is, dat die Covid-entstof suiwer wêreldoorheersing ten doel gehad het en dat klimaatsverandering bloot 'n geldmaakstorie van 'n bose klein elite is.

Ek dink wat die Enlightenment in essensie gedoen het, was om te sê die moderne mens het die vermoë om sy/haar brein te herbedraad; om die primêre instinkte van die brein wat ons van ons jagter-/versamelaar-oerouers geërf het, met rasionaliteit en wetenskaplike kennis aan te pas.

Dit is vir elkeen van ons elke dag, selfs of dalk veral ons in die later dekades van ons lewe, 'n uitdaging om onsself af te vra of dit waarin ons glo rasioneel is; of ons nie nuwe insigte en inligting behoort te oorweeg en ons menings en benaderings behoort aan te pas nie.

Ek moes dit self byvoorbeeld doen om my eie lewenslange instink om Israel te verdedig, te oorkom met al die inligting oor hoe die Israelse regering die Palestyne van Gaza sien en behandel.

Ek het 'n instinktiewe renons in Amerikaanse arrogansie en imperialisme, maar ek moes dit oorkom om 'n gebalanseerde siening van Rusland se aggressiewe inval in Oekraïne te kon vorm.

Neuroloë en sielkundiges sê die menslike brein hou nie van verandering nie. Evolusie het nie die bedrading en struktuur van ons jagter-/versamelaar-oerouers van meer as 100 000 jaar gelede betekenisvol verander nie, en dié brein is net gesteld op fisieke oorlewing.

Daar is veral twee blokkerings wat oorkom moet word: die bevestigingsvooroordeel, confirmation bias, en die ankervooroordeel, anchoring bias.

Die bevestigingsvooroordeel beteken ons brein filtreer inligting uit wat ons bestaande oortuigings teëspreek, of ons prosesseer sulke inligting, maar heg nie veel waarde daaraan nie.

Die ankervooroordeel behels die verskynsel dat die mens vasklou aan die eerste ding wat ons van iets geglo het, selfs al word ons met inligting gekonfronteer wat aandui dat dié oortuiging nie akkuraat is nie.

Ons jagter-/versamelaarsbrein hou nie van verandering, onsekerheid en onvoorspelbaarheid nie, want daardie brein sien dit as 'n bedreiging vir ons oorlewing en voortbestaan.

Die brein is vasgeketting aan ons identiteit en bied weerstand wanneer dit uitgedaag word.

Jou identiteit is 'n komplekse samestelling van strukture, herinneringe en prosesse in jou brein. Ons jagter-/versamelaarsbrein is traag om dit alles te herrangskik, want dit kan ons oorlewing bedreig.

Dit alles beteken dat as jy jouself as 'n moderne, soepel en diep denker beskou, moet jy dié instinkte van jou oerbrein konstant ondersoek en, wanneer nodig, ignoreer en eenkant skuif.

Al beteken dit dat jy ongewild in jou eie gemeenskap of sosiale kringe gaan wees.

Net dán kan jy joulself as 'n Renaissance-mens beskryf.

Dink vir Jouself.

Max


Stellenbosch

waar
is al die grieke heen?
waar
is al die portugese mans
met sweterige
wit frokkies
wat pies verkoop
en met kinders
boer?

wat
het geword
van die mansuitrusters
waar ’n gentleman
sy hoed
kon laat rek
en koeëls
en brylcreem
koop?

trek
koshuiskinders
van paul roos
oorkant die rivier
nog draad
in die sagte
spreilig
van die
angel’s factory?

nou
kabbel leivore
verby deli’s
en cuisine
en styfgewasde
wit voorskote –
elke snotneuskind
is weggepak
vir toeriste

– Johannes Prins

Van: Versindaba

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.