Surinamers in Nederland is die hel in. ’n Bekende supermark het onlangs ’n kookpakket onder die naam “Surinaamse roti” begin verkoop. Goed en wel, maar die probleem is die bestanddele wat daarin sit strook nie met wat ons almal as ’n tradisionele roti ken nie – goed soos preie, gedroogde tamaties en paprika.
“Hoekom noem hulle dit nie net wat dit is nie – ’n kerrie-wrap,” het een van die beswaardes gevra.
Ek moes kliphard lag toe ek al die verontwaardiging hieroor sien, want Nederlanders is nogal lief om disse uit ander lande te gaps. Een van die bekendes is Suid-Afrikaanse bobotie. Maar tot my verbasing word hier vrolik ’n halwe kilogram groenboontjies, aartappels en selfs crème fraîche bygevoeg.
Dis nié hoe jy bobotie in Suid-Afrika maak nie. Maar terselfdertyd wonder ek hoe getrou die Suid-Afrikaanse resep aan sy Maleisiese oorsprong is. Of is dit Indonesies? Sommige dink selfs bobotie is ’n weergawe van ’n resep, patina ex lacte, wat in die Romeinse tyd deur die skrywer Apicius neergepen is.
Daar is ’n moderne naam vir hierdie toe-eiening en jou eie twist gee: cultural appropriation. En omtrent alle kulture is waarskynlik hieraan skuldig. Dis miskien die rede waarom ek vere voel vir hoe die Nederlanders bobotie mishandel.
Terselfdertyd begryp ek die verontwaardiging. Ek dink nie mense raak kwaad as hulle koskultuur met ander kulture gedeel word nie. Ek dink hulle word kwaad as daar te veel gepeuter word aan die oorspronklike dis of as die oorheersende kultuur munt slaan uit sekere disse wat tradisioneel nie ontspring het uit laasgenoemde se eie kultuur nie.
Byvoorbeeld as wit chefs – diegene wat meestal die finansiële en sosiale kapitaal het om ’n restaurant te open of ’n food truck te bedryf of ’n suksesvolle kookboek te skryf – Mexikaanse burritos begin verkoop met weinig voordeel vir die gemeenskappe wat in die eerste plek tot die ontstaan van dié koskultuur bygedra het.
Ek herhaal, toe-eiening van ander kulture se kooksels hoef nie noodwendig ’n slegte ding te wees nie. Ek voel trots dat die Nederlanders ten minste probeer om bobotie te maak.
Ek sou nie wou woon in ’n land waar ek nie toegelaat word om 'n Franse, Chinese, Indiese of Thai-ete te kook of daardeur geïnspireer te word nie. My kulinêre lewe sou baie smaakloos gewees het sonder dié invloede. Ons leef in ’n diverse wêreld waar ons oor en weer van mekaar se kulture leen. Maar laat ons dit op ’n respekvolle manier doen en laat ons krediet gee aan die gemeenskappe wat die disse ontwikkel het.
En laat die diversiteit ook blyk uit wie voordeel daaruit trek – wie die restaurante besit, die kookboeke skryf en die kostydskrifte publiseer.
Mooi week
Anesca
Die female gaze
ek waardeer dick prints
vêr meer as Westerse kuns
dies wat goed bedeeld is
soos donkiehingste
die langes soos ou tronksleutels
manne het lank genoeg gekyk na die vrou
óns kyk nou
– Lynthia Julius
Uit: Kinderlê
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.