‘University of Anti-Woke’, of eintlik net wat ’n universiteit...

WOENSDAG MET WILLEM

‘University of Anti-Woke’, of eintlik net wat ’n universiteit móét wees?

WILLEM KEMPEN skryf oor 'n nuwe privaat universiteit in Texas en wat dit beteken.

Dis soms moeilik om tussendeur die rookwolke van die Culture Wars agter te kom wat presies op Amerikaanse universiteitskampusse aangaan, maar dis veilig om te sê all is not well. Klasgeld het die afgelope dekades drasties gestyg, universiteite se administrasie is dikwels lomp en oneffektief, en die groei in studieskuld is 'n nasionale krisis

Die groter probleem is dat Amerikaanse universiteite dikwels nie meer die soort plekke is waar vrye en kritiese denke aangemoedig of selfs net toegelaat word nie. Sekere idees en menings is skynbaar só gevaarlik of “ongewens" dat dit glad nie uitgespreek mag word nie. Doen jy dit wel, word jy gesensureer of geCancel.

Een van die reaksies op dié fenomeen was om 'n nuwe privaat universiteit te begin: Die University of Austin in Texas (UATX), 'n “liberal arts university" wat hoop om in September hulle eerste studente in te neem. (Hulle het niks uit te waai met die University of Texas at Austin, wat 'n ou en gevestigde openbare universiteit is nie.)

UATX se stigterspresident is Pano Kanelos, wat vroeër president van St. John’s College in Maryland was. Hy het in 2021 oor bestaande Amerikaanse universiteite  geskryf: “... in these top schools, and in so many others, can we actually claim that the pursuit of truth – once the central purpose of a university – remains the highest virtue? Do we honestly believe that the crucial means to that end – freedom of inquiry and civil discourse – prevail when illiberalism has become a pervasive feature of campus life?"

Hy skryf ook: The numbers tell the story as well as any anecdote you’ve read in the headlines or heard within your own circles. Nearly a quarter of American academics in the social sciences or humanities endorse ousting a colleague for having a wrong opinion about hot-button issues such as immigration or gender differences. Over a third of conservative academics and PhD students say they had been threatened with disciplinary action for their views. Four out of five American PhD students are willing to discriminate against right-leaning scholars, according to a report by the Center for the Study of Partisanship and Ideology."

Die idee is om UATX op ses beginsels te bou: 'n Onbelemmerde soeke na waarheid, gewetensvryheid, beskaafde openbare gesprek, asook finansiële, intellektuele en politieke onafhanklikheid. Geen oorweging sal aan voornemende studente se ras, gender, of maatskaplike agtergrond gegee word wanneer dit by keuring kom nie.

Goed en wel, maar loop mens dan nie die gevaar dat so 'n universiteit maar net 'n regse teenreaksie op die linkse ortodoksie word nie? Kan 'n universiteit regtig finansieel onafhanklik wees as dit ook maar oorgelewer is aan die steun van ryk borge en donateurs met 'n agenda van hulle eie? Wat gaan hulle byvoorbeeld doen as 'n Elon Musk ook wil geld skenk, en voorwaardes daarvoor stel? UATX sê sy grondwet maak onbehoorlike beïnvloeding onmoontlik, maar ja...

Daar is nie 'n tekort aan skeptici en spotters nie, en UATX is selfs al verskeie kere met Donald Trump se vergane Trump University vergelyk, hoewel dié beswaarlik meer was as 'n skool vir eiendomsagente. Die joernalis Claire Goforth het geskryf UATX “comes from the minds of the nation’s most prominent reactionary bloggers and thinkers, who have become iconoclasts for their desires to break with the ‘woke’ movement they believe is brainwashing elite American academic universities and trickling down to the rest of the country”.

Maar daar is ook 'n klomp gerespekteerde akademici en denkers by UATX betrokke, mense soos Larry Summers; Ayaan Hirsi Ali en haar man, die historikus Niall Ferguson; Peter Boghossian; Nadine Strossen; Arthur C. Brooks, en Jonathan Haidt. Steven Pinker was aanvanklik 'n lid van die adviesraad, maar het sedertdien bedank; Richard Dawkins is wel nog 'n lid.

Sekerlik is daar op daardie lys genoeg name wat sommige mense se bloeddruk kwaai gaan laat styg, maar dan weer: Is dit nie die hele punt van 'n universiteit nie? 


i roeiboot dryf af in die rivier by malgas; is weg

ek het gekom lief
& gesê “ek het jou lief"


toe draai jy om
jou oë vol soos êrens i beker oorloop

& sê “dit was i lang tyd"
& “ek is klaar los." vra ek “hoe los"

“hééltemal los" sê jy. & begin huil
toe ek begin lag

& begin lag
toe ek begin huil

– Gert Vlok Nel

Uit: om te lewe is onnatuurlik

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.