Ons eet langtand aan dié toebroodjie

SATERDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Ons eet langtand aan dié toebroodjie

Op Vrouedag besin ons boekeredakteur oor die lewe wat ons onskuld steel.

Die term shit sandwich, (ek gaan dit nie probeer vertaal nie) verwys na ’n baie onplesierige situasie of ’n ervaring wat jou nederig maak. Dit het in 1966 die eerste keer in druk verskyn, in die Engelse vertaling van An Anecdoted Topography of Chance deur die Switserse kunstenaar Daniel Spoerri. Hier is die passasie:

Just this morning Monsieur Georges expanded the philosophical observation of one of his customers, Camille, that ‘Life is a shit sandwich’ with: ‘Yes, and we take a bite every day.’

Forrest Gump se ma het in die gelyknamige fliek gesê die lewe is soos ’n boks tjoklits: jy weet nooit wat jy gaan kry nie.

Ons leer so mooi om ons verwagtings te bestuur. Ons weet uit tallose suiker-highs sedert kleintyd dat plesier nes ’n jong komkommer is: as jy hom pluk, verlep hy sommer. Dat lekker lag oorgaan in skreehuil.

Ons is beroof, ons onskuld is gesteel. Dit het onmoontlik geword om die vrede te vertrou. Die lewe is soos ’n cowboy-fliek. Daar is nie ’n wolkie in die fletsblou lug nie, die stroompie kabbel gesellig en die voëls kwetter in die takke, wanneer, opeens, ’n wolk voor die son inskuif, die sonbesies verstil, die voëls wegskarrel, ’n stofduiwel oor die werf warrel en ’n geroeste deurskarnier jammerlik en eentonig kerm. Enkele onheilspellende snaarstryke plons soos suurreën in water. Skielik is dit skemer en die wind loei om die hoeke van die huis.

Ons het te veel flieks gesien, te veel boeke gelees. En miskien het dit ons gehelp om ons te staal, om die ergste te verwag, kop in te trek en die impak te absorbeer. Maar dit verleen ook skaal en perspektief; ons sien ons klein katastrofes vir wat dit is.

Jou greep verslap en jou sleutels val in ’n drein. Jy ervaar die heelal as lukraak wreed eerder as bloot apaties. Jy mik ook vir apatie, haal jou skouers op en bel ’n slotmaker. Want jy weet dit kan soveel erger: In flieks en boeke het jy daardie oomblik beleef wanneer jou greep verslap op die handjie van jou blonde kleuter en die kind in een oomblik soos ’n naald in ’n hooimied verdwyn. Onverklaarbaar, vir altyd. Terwyl die son aanhou skyn.

Hoe kan jy die oomblik geniet terwyl ’n trok met jou naam op besig is om om die draai te kom? Dis donker in die gang in die middel van die dag, sing Valiant Swart. Kunstenaars en skrywers verstaan dat skadu’s langer as voorwerpe is en dat hulle elke oomblik groei. Gert Vlok Nel was nostalgies oor sy verlore jeug voordat hy 20 was. Hy weet die mooiste liefde is verby en dink oor die jaar toe hy laas gelukkig was.

Mense soos Eugène Marais, Ingrid Jonker en Koos du Plessis het in elke vrolike ontmoeting reeds die gesig van afskeid, afloop en die dood herken.

Die skadu’s groei. Ons staal ons, ons hou ons hart vas, ons is voorbereid op die ergste, ons loop met ’n kop vol kwellings. Ons gaan gebuk onder voorspooksels en is beswaard soos Charlie Brown. Vreugde sal ons sowaar moet bekruip en onverhoeds betrap voordat ons kan walgooi.

En dis goed en wel, want soms, net soms, gebeur dit: Suiwer vreugde glip deur al jou skanse en oorrompel jou. Jy glimlag soos ’n hond agterop ’n bakkie, kinnebakke wat bol in die wind. Gesondheid!


Met hulle is ek

Met hulle is ek
wat seks misbruik
omdat die indiwidu nie tel nie
met hulle wat dronk
word teen die afgrond van die brein
teen die illusie dat die lewe
eenmaal goed of mooi of betekenisvol was
teen die tuinpartytjies van die valsheid
teen die stilte wat slaan teen die slape
met hulle wat oud en arm
meeding met die dood die atoombom van die dae
met hulle verdwaas in inrigtings
geskok met elektriese strome
deur die katarakte van die sintuie
met hulle van wie die hart hul ontneem is
soos die lig uit die robot van veiligheid
met hulle kleurling african ontroof
met hulle wat moor
omdat elke sterfte opnuut bevestig
die leuen van die lewe
en vergeet asseblief
van geregtigheid    dit bestaan nie
van broederskap    dis bedrog van liefde  
dit het geen reg nie 

- Ingrid Jonker

Uit: Kantelson 

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.