Om in die nou lief te hê

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Om in die nou lief te hê

ANNELIESE BURGESS begeer 'n einde aan die wals met verlies waarmee sy al jare worstel, en glo dat die gevoel van afsluiting wat sy ervaar nou in 'n nuwe wals sal ontplooi.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Die see is lieflik plat. Die son het kop uitgesteek. Ek het – helaas – nou die laaste dahlias in my tuin gepluk. My boet het saam met my kom koffie drink op die stoep. Laatmiddag gaan ons saam met die kinders in die getypoel op Chintsa swem. Ek gaan 'n piekniek pak. Gedink om klein hamburgertjies te maak en my ouma se Ideal Milk-roomys wat ek gisteraand gemaak het in 'n koelhouer saam te neem.

Dis nie 'n geheim dat ek daarvan hou om vir mense kos te maak nie. Maar vandat my dogter met matriek klaargemaak het en uit die huis is, het my verhouding met my kombuis verander.

Ek besef nou dat die ritueel van kosmaak vir my lekkerder is as om uiteindelik die produkte van my handewerk te eet. En nou dat ek meestal net vir myself kosmaak, is my tyd in die kombuis veel meer vaartbelyn. Ek doen nog moeite met kos, maar dit is eenvoudiger een-mens-kos. Meestal iets wat mens uit 'n bakkie met 'n lepel kan eet.

(Terloops, die lekkerste ding wat ek hierdie week gemaak het, was 'n kekerertjiebredie in die slow cooker. Met skeppies jogurt en die pesto wat ek nog met my laaste basiliekruid gemaak het. Dis genoeg vir drie dae se aandete. En nog 'n porsie in die vrieskas. Ek deel die resep hier onder in my aanbevelings.)

Oukei, ek het 'n bekentenis: My kop is dolleeg. Vandaar die mymering oor kos. (Maar die kekerertjies is régtig lekker, ek belowe.)

Gewoonlik begin daar gedurende die week iets in my gedagtes prut waarvan ek die bestanddele teen Saterdag bymekaar kan gooi vir my Sondag-brief, maar toe ek gister voor my laptop gaan sit om te skryf, was daar net mooi niks. Ek voel uitgeskryf. Ek vermoed die baie persoonlike essay oor my ma wat ek vir hierdie week se uitgawe geskryf het, het my emosionele hardeskyf skoongevee. 

Ek hou daarvan om onderhoude te voer en profiel-artikels te skryf, want daar is 'n sekere dissipline daaromtrent. 'n Formaat. Dit verg tyd en moeite en dinkwerk, maar jy gee 'n ander persoon se werklikheid weer. Jy vertel daardie mens se storie. En jy gebruik jou joernalistieke ambagskuns. Daar is geen emosionele belegging in nie.

Die essay het my verswelg. Dit was vyf dae se heen-en-weer om uiteindelik te kon sê wat ek wou hê die stuk moet sê.

En hier is sommer nog 'n bekentenis: Ek het altyd 'n sekere vrees vir kritiek as ek so met my hart op my mou skryf. Dat lesers gaan sê: “Kry tog net end and move along." Of: “Daar gaan sy al weer met haar gesanik."

Ek dink konstant oor die grense waarbinne ek skryf. Maar dit is nou gebaar en klaar, die laaste storie in die trilogie oor my ma. En dit voel soos die begin van 'n afsluiting. Ek is dankbaar daaroor, want die wals met verlies waarmee ek nou al jare worstel, moet ontplooi in 'n nuwe wals. Met die nou.

Één harmonie van wat was, en wat is, en wat kom.

Image: ANGELA TUCK

Ek en my broer het gister op die stoep gesels oor wat dit beteken om in die “nou" te lewe.

My broer het die laaste paar jaar harde klappe van die lewe gekry, verlies op 'n skaal wat byna onmenslik voel. Dit het van hom iemand gemaak wat oor moeilike goed dínk en nie skaam is om oor sy emosies te praat nie. Ek hou daarvan.

Die een ding wat hy geleer het, sê hy vir my, is hoe belangrik ander mense in ons lewe is. En hoe belangrik dit is om onverskrokke lief te hê – om nie verstrengel te raak in goed wat nie saak maak nie. “Little fights that are actually just about the ego. Fears that are about the ego. Just let it all go. Pain is just pain. We can't avoid it."

“Fearlessness is what love seeks,” skryf Hannah Arendt in 1929 in een van haar minder bekende boeke, Love and Saint Augustine. 

“Such fearlessness exists only in the complete calm that can no longer be shaken by events expected of the future … Hence, the only valid tense is the present, the Now.”

'n Halfeeu voor haar het Leo Tolstoy, wat laat in sy lewe diep deur Boeddhisme beïnvloed is, geskryf: “Future love does not exist. Love is a present activity only.”

Ek wil in die nou lewe. En liefhê.

Daarmee groet ek.

Salige Sondag
Anneliese


The Listening World

Say prayer for little 
things, things that live
in deep hurt. Feelings
language take to lair.

Let it signal nothing's
light, I say for want
of light feelings. Is my ear
deep or deeper?

- Hannah Emerson

(Uit die bundel The Kissing of Kissing)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.