Ontdek julle innerlike Nicholas Cage, manne

MAANDAG MET MAX

Ontdek julle innerlike Nicholas Cage, manne

MAX DU PREEZ rebelleer teen die ‘uniforms’ wat mans dra en pleit vir 'n bevryding van hulle individualiteit.

As 'n man ouer as 40 of so is en aandag gee aan die klere wat hy dra en aan sy algemene voorkoms, sê mense graag goed soos dat hy 'n pierewaaier of ydel is. Sommiges sal selfs sy seksuele oriëntasie bevraagteken, ander sal weer sê hy veg teen oudword.

As 'n vrou dieselfde doen, sê mense gewoonlik sy is stylvol. Classy.

Hoekom is dit so?

Ek onthou nog hoe ek 'n hele klompie jare gelede aan 'n onderhoudvoerder van 'n tydskrif wat my oor my klerekeuses uitgevra het, iets gesê het soos: Man, ek koop my klere by Woolworths en Cape Union Mart, dis nie vir my belangrik nie, solank ek ordentlik lyk.

Ek het natuurlik gelieg. Dit was 'n valse, macho antwoord. Ek het probeer konformeer by die stereotipe van wit mans, veral Afrikanermans. Stylvolle klere is mos vir sissies, ekstroverte en gays. Dandy boys, egoïste.

Toe ek in 1994 'n televisie-aanbieder word, het ek graag 'n strikdas gedra, veelkleuriges. Maar veral Afrikaanse kykers het gekla dat dit soos 'n “moffiepropellor” lyk, en ek het dit maar laat vaar.

Ek kyk na wat mense dra. Hulle keuses vertel my iets van hulle. Die klere wat ons dra, is tog nie net om warm te bly, die son uit te hou of ons skaamte te bedek nie.

In die film Wild at Heart sê iemand vir Nicholas Cage se karakter: “You look like a clown in that stupid jacket.” Waarop Cage antwoord: “This is a snakeskin jacket, and for me it's a symbol of my individuality, and my belief in personal freedom.”

As jy regtig 'n introvert is, hoef jy darem nie soos Boy George of Billy Porter aan te trek nie. Maar wat van Keanu Reeves? Of David Beckham? Jeff Goldblum? Samuel L. Jackson? Tog macho-manne, as dit jou ding is?

Ek is getroud met 'n kunstenaar en ontwerper.  Sy dra nie mooi rompies of broekpakke of swart nommertjies nie. Sy eksperimenteer met haar klere, soms met baie kleurvolle gewade wat sy soms self maak. Sy het 'n voorliefde vir die modes van die 1950’s en 1960’s, maar sy het die ander dag 'n mans-safaripak van swaar olyfkleurige materiaal by Jonssons Workwear gekoop, iets bedoel vir 'n hande-arbeider. Aan haar lyk dit soos 'n ontwerperstuk.

Dis my girl daai.

Wat is ons mans se keuses? Tussen watter “uniforms” kan jy kies?

Sakemanne, prokureurs, senior amptenare en bestuurders se uniform is 'n donker pak. Verkieslik charcoal, swart of donkerblou, dalk met 'n effense strepie, met 'n wit of blou hemp en das. Gelukkig het dasse die afgelope dekade of so minder van 'n voorvereiste begin raak.

(Nee, Kerneels, 'n lemmetjiegroen hemp onder jou donker pak is nie 'n fashion statement nie, dis 'n aanval op ons sintuie.)

Wanneer dié ouens meer ontspanne is, is die keuse 'n gholfhemp, verkieslik met 'n krokodilletjie of 'n haantjie op die linkerbors. Of, wees wild! 'n geruite kortmouhemp en chino’s.

Boere, alle mans in die landboubedryf, se uniform is deesdae 'n two-tone hemp, of kakie, met 'n kakie- of olyfkleurige broek. En stewels, al sit jy heeldag in jou bakkie. Seker darem beter as die crimplene safaripakke van my jeug, met lang kouse en goeie ou Hush Puppies met dik rubbersole.

En in die winter is jou keuse 'n grys puffer jacket of 'n donkerbruin bosbaadjie. (Bestaan die woord “jekker” nog?)

As mans by 'n “formele geleentheid” wil uithang, móét hulle almal presies dieselfde lyk met 'n swart tuxedo, wit hemp en swart strikdas. Soos 'n kolonie pikkewyne.

Mans dra net bofbalkepse of safarihoede as hulle iets op hulle koppe wil sit. Die uithangers dra dalk soms 'n roomkleurige panamahoed.

Ek was laasweek in Stellenbosch. Omtrent al die mansstudente lyk dieselfde, met 'n oorvloed rugbybroeke, T-hemde en plakkies.

Dis tog nie baie anders as die mans in verskeie Moslemlande wat almal met identiese rokgewade rondloop nie, of hoe?

Ek konformeer steeds. As ek openbare toesprake maak, veral voor sakegehore, dra ek 'n donkergrys pak en 'n wit hemp. Hulle betaal my, ek moet maar lyk soos hulle wil hê ek moet lyk. Darem nie 'n das nie.

(In my stormagtige ou Vrye Weekblad-dae met die nimmereindigende kriminele aanklagte teen my het die Weekly Mail 'n keer gespot: “What do you call Max du Preez in a suit? Accused Number One.”)

Ek wil graag uit al dié konformasie wegbreek, maar ek sukkel.

Toe Hilton Weiner nog bestaan het, het ek omtrent al my klere daar gekoop: pakke en hemde van katoen of linne. Die effens gekreukelde look. Ek het nog 'n Hilton Weiner swart linnebaadjie wat ek soms by jeans dra, met 'n wit katoenhemp. Ek hou van wit katoenhemde, en swartes. Ek mis Hilton Weiner.

Ek het laas winter 'n geruite lang baadjie, iets tussen 'n baadjie en 'n jas, gekoop waarvan ek baie hou, maar dis net vir die winter. My eintlike gunsteling is 'n silwergrys Mao-tipe kraaglose baadjie wat ek in Florence gekoop het, maar ek is deesdae te dik om die middel daarvoor.

Daar is nog genoeg Boer in my om van 'n mooi hoed te hou, soos my oupas en oupagrootjies. Komaan, hoede is styl.

Ek het 'n donkerblou Fedora, maar dit raak al bietjie afgeleef. Ek soek al jare lank na 'n nuwe breëband Fedora in swart of donkergrys, maar Suid-Afrikaners is nie hoededraers nie. Ek is seker Bheki Cele het sy mooi hoede in Doebai of Londen gekoop. Dis ook al styl wat daar aan die man is, sy hoede.

In die winter dra ek elke dag 'n serp, al is dit nie bitter koud nie. Ek het laasjaar 'n mooie lang serp van 100% Virgin Wool in Clarens (Vrystaat) gekoop en gaan dit die komende winter by elke moontlike geleentheid dra.

My gunsteling-werksdrag is diep donkerblou jeans van Trenery en 'n los wit of swart linnehemp, wanneer die geleentheid dit vereis ook met ‘n baadjie. Op warm dae miskien 'n donkerige bruin paar chino’s van katoen. En goeie skoene, nie van Woolworths of Markhams of Pep Clothing nie.

So ‘n dekade gelede sou party mense gesê het ek vertoon metrosexual-neigings (van metropolitan + sexual). Maar my navorsing wys dis nie meer 'n ding nie. Nou praat ons van subkategorieë soos lumbersexual (van lumberjack) of spornosexual (sport + porno). Maar waar pas 'n hipster in?

Hier is 'n verduideliking deur Greg Wolfman, 'n Britse akademikus wat in gender en manlikheid spesialiseer – bly tog maar by die tye, ou Fanie: “Ten years ago, men were metrosexual, but now I’ve lost track. Currently, the spornosexual, a more body-conscious and sexually explicit version of the metrosexual, is vying with the check-shirted, bearded lumbersexual for top spot. Nattily dressed and neatly bearded, the ‘dandy wildman’ and the hipster also abound, too. If you want to be a spornosexual, you buy gym membership, protein and some expensive photography equipment to spruce up your Instagram feed. To be a hipster, go to vintage clothes shops, buy the most obscure craft ales, and some beard oil.”

Ek dink ons Suid-Afrikaanse mans, wit en bruin, behoort tips te vat van goedgeklede swart mans wat heelwat meer ekspressief in hulle keuse van klere is. Hulle dans nie net beter as ons wit ouens met ons stywe Calvinistiese holle nie, hulle het veel meer styl.

Ek dink ons kan veral begin om Madiba-hemde te dra – nie uitspattig nie, net stylvol. En nie in jou broek ingesteek nie. 'n Paar kwaliteit-jeans en 'n Madiba-hemp (en goeie swart skoene) behoort goed genoeg vir enige geleentheid te wees as jy dapper genoeg is.

Die idee dat “Westerse” mans nie Afrika-klere behoort te dra nie, is sommer twak. Maar is jy braaf genoeg om die kyke en agteraf-snedighede van die basket of deplorables te verduur?

(Nee, dis nie kulturele appropriasie nie. Kyk hoe waardig en spoggerig lyk ou koning Moshoeshoe met sy top hat and tails. En kyk hoe het die eerste leiers van die ANC in 1912 gelyk.)

Ek het as 'n jong verslaggewer in my 20’s op 'n keer 'n mooi Afrika-hemp uit Ghana na 'n informele sosiale geleentheid van die Afrikaanse koerant by wie ek toe gewerk het, gedra. Die destydse adjunk-redakteur – die ou drol lewe nog – het groot gewag gemaak van “ou Max se liberation suit”.

Hoe ouer mans word, hoe groter word die sosiale druk om nes die res van die trop aan te trek. Besadig, vaal. Ek probeer nie my ouderdom wegsteek nie – ek is al twee dekades lank grys van haar en baard en het nog nooit daaraan gedink om dit te kleur nie. Maar wat sit agter die denke dat iemand van 60, 70 of 80 “verspot” of “kinderagtig” is as hy homself uitdruk in die klere waarvan hy hou?

Is dit net vir jong mans (en vroue) geldig om soos Nicholas Cage iets te dra as 'n “symbol of my individuality”?

A, maar daar is 'n man oor 60 wat julle almal ken wat dit doen, en met oorgawe. My vriend en kollega Piet Croucamp verkies dalk self die Camel Man-look met sy klere (is hy 'n lumbersexual?), maar hy dra sy kopdoek soos 'n trofee, maak nie saak hoeveel keer mense van “Ou Piet Kopdoek” praat nie.

Respek, Piet. Jy’s ons Nicholas Cage.

Groetnis

Max

Naskrif: Ons jongste uitgawe is myns insiens onder die heel beste publikasies wat ooit in Afrikaans verskyn het, met onder meer besonderse essays deur Dominique Botha, Anneliese Burgess, Marita van der Vyver en Piet Croucamp. Maar jy kan dit net lees as jy ingeteken is – en as jy sukkel daarmee, moenie tou opgooi nie, stuur gou 'n WhatsApp boodskap aan 071 170 8927 en iemand gaan jou help. Doen dit sommer nou, jy sal nie jammer wees nie. En dit kos minder per uitgawe as een koppie koffie.


Hefe

ken jy die see, meneer, of net
die mak blokkies kleur wat
daarvoor instaan hier? ken jy
die koue of net die foto's van
water in die diepste bloue wat
oor die skerm stroom? ken jy
die donker en sy vriend die
dood? of net hierdie kiekies
van 'n kerkhofmuur?

- Bibi Slippers

Uit: Fotostaatmasjien

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.