Manlike geweld troef kwesbare manlikheid by Oscars

DINSDAG MET ANESCA SMITH

Manlike geweld troef kwesbare manlikheid by Oscars

ANESCA SMITH het gehoop Past Lives gaan beter by die Oscars vaar.

Toe ek verlede jaar in Nederland se nasionale verkiesing gestem het, het ek vir ’n verandering hoë verwagtinge van my gekose kandidaat gehad. ’n Saai man, maar uiteindelik iemand wat al vóór die verkiesing bewys het hy is beginselvas.

Nogtans bly die twyfel aan my knaag. Want as jy só ’n hoë dunk van iemand het, is daar maar een uitkoms: terleurstelling. Dink maar aan die euforie direk ná Mister Thuma Mina president van Suid-Afrika geword het.

Wat ek totaal nié verwag het nie, is dat my verkiesingskandidaat nou iemand blyk te wees wat glo gereeld tydens politieke onderhandelinge aan die tjank gaan!

Ja, vier maande ná die verkiesing het ons nog steeds nie ’n kabinet nie, want die betrokke partye kan nie tot ’n ooreenkoms kom om ’n koalisieregering te vorm nie. Dit is normaal vir Nederland. Die langste kabinetsvorming tot nog toe was in 2021-'22. Toe het die onderhandelinge 299 dae geduur voor daar uiteindelik ’n kabinet was.

Verlede week kom die plaaslike media egter met die storie dat die man vir wie ek gestem het, Pieter Omtzigt, glo gereeld “in huilbuie uitbars, met stemverheffing praat en dan die onderhandelingstafel verlaat”.

Toe ek die nuus hoor terwyl ek langs my man op die bank sit, weet ek vir ’n oomblik nie wat om te dink nie. Toe lag ek maar – uit pure skaamte! Want van al die eienskappe wat jy in ’n politieke leier soek, is ’n tjankbalie beslis nie een nie. Iemand wat nie sy emosies kan beheer nie. My tweede gedagte is dat dít waarskynlik nie in goeie aarde sal val by die nugtere Nederlanders nie. Ek vrees vir Omtzigt se politieke toekoms.

Aan die ander kant sou ek my moet skaam, want wat is verkeerd met 'n politikus wat so nou en dan ’n traantjie stort? Solank dit nie krokodiltrane is nie. Dit is tog menslik om ontroer of gefrustreer te wees deur iets. Die hemel weet, die huidige toestand van die wêreld is genoeg om enige mens aan die tjank te sit.

As Cyril Ramaphosa byvoorbeeld net emosie sou toon oor die arme Joslin Smith – die 6-jarige meisie van Saldanhabaai wat al sedert 19 Februarie vermis is. ’n Teken gee dat hy werklik besorg is oor die geweld teen vroue en kinders in Suid-Afrika en iets daaraan doen.

Wanneer laas het jy gehuil? En waaroor? Vir my was dit onlangs toe ek op die vliegtuig gesit het nadat ek op die lughawe van my familie moes afskeid neem. Condé Nast Traveller het toevallig verlede week ’n artikel gepubliseer wat lui dat ons meer emosioneel is op ’n langafstandvlug. En dit word glo wetenskaplik onderskryf.

“Maak nie saak hoe gereeld jy vlieg nie, die proses is intrinsiek stresvol. Of jy nou bekommerd is dat jy vergeet het om iets in te pak, dat jy jou vlug gaan mis, die voortdurende paniek dat jy jou paspoort vergeet het, die druk wat gepaard gaan met die organisering van die reis om maksimaal jou tyd en geld te benut.” Dan is daar nog mense wat ly aan vliegangs – die gebrek aan beheer en senuwees wat pla – en om nie eens te praat van die liggaamlike ongemak soos die lae lugdruk, die droë lug en daardie al hoe kleiner wordende sitplekke nie. Ekonomiese klas sal enigiemand aan die huil sit!

My laaste twee ernstige verhoudings was met Nederlanders wat nie skaam is om te huil nie. En dit het hoegenaamd nie afbreuk aan hulle manlikheid gedoen nie. Trouens, Sondagaand het ek vurig gebid dat die rolprent Past Lives die Oscar vir die beste film sou wen. ’n Aangrypende liefdesdrama oor 'n 12-jarige meisie, Nora, wat Suid-Korea saam met haar ouers verlaat om in Kanada te woon. Sy laat haar beste vriend en skoolliefde Hae Sung agter. Jare later soek laasgenoemde haar in New York op. Die film ondersoek die “wat as…”-vraag. Wat sou gebeur het as ons hierdie weg in plaas van daardie een gekies het?

Ek wou hê Past Lives moes wen. Nie net omdat dit een van die mooiste films van die afgelope jaar en vol onuitgesproke hunkering is nie, maar ook omdat die Koreaanse akteur die rol van Hae Sung met soveel kwesbare manlikheid vertolk het. Ongelukkig was dit weer eens ’n film oor manlike geweld, Oppenheimer, wat geseëvier het.

Mooi week.

Anesca


geluk

hier in die onvanpaste wêreld
van verrookte stukke veld
blom die ongewone liefdes
as skaaphompe per kim

soms dwaal my gedagtes
slaap ek agter stuur
strompel boekaspaai
bladloos oor die kaart

elke nuwe brug
bly rif roep oor rivier
waterbloed in karpkieu
suurstofbobbelbed

maar snags in vreemde dorpe
neon stasies petrolpense
baddens stoom soos woorde
om somer bid die reënval

rol die spoelklip van my gedagtes
vonke in die lospad los
tong my neus jou môre-oor
rol die teesakkie lek-lek om

elke eendag reëndag
hou die hoop gepoets
mensbloed per kruiwavrag
geluk geluk geluk

– Toast Coetzer

Uit: Die Burger, 31 Mei 2010

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.