Hoe word mens 'n profeet? Ek vra, want ek sien annerdag in Joburg 'n billboard vir 'n ou wat homself Prophet Thabane of so iets roep. Met 'n foto van hom in wat na 'n baie duur swart pak klere lyk, en waar hy sy ken op imponerende wyse so tussen sy duim en wysvinger vashou. Niks se geskeurde gewaad in earthy tones soos Jeremia en daai manne nie.
Die punt is, dit lyk vir my na 'n lonende besigheid om 'n profeet te wees. Meer so as byvoorbeeld vir ons plaaslike pastore, wat, minstens te oordeel na hulle waargenome besteding aan buitelug-reklame, nie in dieselfde mate met materiële gawes van bo bedrup word soos die profete nie.
Dalk is daar een of ander hiërargie ter sprake, soos in jy moet eers vir 'n paar jaar 'n pastoor wees en 'n paar kursusse doen voor jy kan upgrade na 'n profeet toe. Of dalk durf jy jouself bloot nie 'n profeet noem as jy nie enige profesieë het om te verkondig nie.
Ek het eers gedink die verskil tussen 'n profeet en 'n pastoor het iets te doen met die vermoë om die verlorenes geredde, die dooies lewend, die siekes gesond, die armes welvarend, of die belastes belastingvry te maak, maar as dít waar is, is daar 'n helse klomp pastore wat glad nie hulle plek ken nie.
Wat wel skynbaar waar is, is die ou gesegde dat 'n profeet nie in sy eie land geëer word nie. Dit verklaar dalk waarom jou tipiese Gautengse profeet uit Zimbabwe of Nigerië kom, en hopelik ook waarom plaaslike profetiese talent so skaars is in Johannesburg of Pretoria – ons ouens is dan seker elders in plekke soos Kigali en Lagos aan die profeseer. Die enigste ander moontlike verklaring is dat Suid-Afrika nie deesdae soveel profete oplewer soos ander lande nie, en dít kan tog seker nie wees nie.
Ons is nie die enigste land waar die balans tussen profete en pastore histories hewig na laasgenoemde oorhel nie. Die VSA, daardie konstante bron van teologiese vernuwing, het byvoorbeeld in onlangse tye 'n merkbare tekort aan profete gehad. Die Amerikaners is tradisioneel sterk op evangeliste en televangeliste en pastore en so aan, maar andersins het hulle min of meer Peak Prophet bereik toe Joseph Smith van Mormone-faam “dood" is, en dit was al meer as 180 jaar gelede. (Bygesê, volgens Smith het dit gewemel van die profete op die Amerikaanse kontinent voor die wit mense daar aangekom het. Go figure.)
In elk geval, die trepidasie oor die Covid-pandemie het die VSA se profetiese geledere 'n stewige hupstoot gegee. Een van die nuwe sterre wat in daardie tyd die blinkste aan die profetiese uitspansel begin skyn het, is ene Cindy Jacobs, wat haarself beskryf as “a prophet, speaker, teacher, and author with a heart for discipling nations in the areas of prayer and the prophetic".
Cindy en Mike Jacobs is 'n husband-and-wife-team wat oënskynlik die uitsondering is op die reël dat professionele Amerikaanse evangeliste nie altyd die sewende gebod met dieselfde godvresende erns as die res hoef te bejeën nie. Selfs meer verfrissend is dat Prophet Cindy hoër op in die pastorale rangorde as haar man is, en dat arme Mike geen aanspraak het op profeet-status nie. (Sou 'n man nog die hoof van die huishouding moet wees as sy vrou 'n profeet is?)
Hul webwerf gee ook 'n leidraad oor hoe sy 'n profeet geword het: “At nine years old, the Lord called Cindy when He urged her to read Psalm 2:8: ‘Ask of me the nations for your inheritance, and the ends of the world for your possession.'”
En verder: “She has been recognized by Charisma magazine as one of their ‘40 People Who Radically Changed Our World' and is listed in the Who's Who Among American Women. Cindy has also been recognized among the top 50 leaders in the world who are a friend of Israel."
Waaruit ons 'n hele paar dinge oor Amerikaners in die algemeen en Amerikaanse profete in die besonder kan aflei, vermoed ek. Soos dat minstens vroulike profete tóg soms in hulle eie land ook geëer word.
Skilder
(In die oomblik van verf staan kop en tyd doodstil.)
Kleure smelt op die palet –
word ritme en lê sag in volle vlees.
Sabelkwasse dans en koek om die oeroue rite:
lewe te gee aan die lap.
Waaierkwasse lek oor die doek en
terpentyn versag die vloeibaarheid
met die voel en die vat van elke vorm.
Damar en roulyn verdik
en plak blink, lyf op lyf.
Nippelpuntjies verstyf onder die kielie en
sagte pienk naeltjies kruip weg in tortellinivoue.
Lywe, in en oormekaar
lewe en golf saam,
haal asem,
word taal.
- Anne-Ghrett Erasmus
Uit: Die lekkerste perske is ’n vy
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.