Gelukkige Menseregtedag, Suid-Afrika. Ek het met ’n geweldige skel-gees wakker geword. Ek voel soos daai anties wat oor die deur leun en wanneer ook al iets onvanpas in die straat gebeur, sal daai anties vir jou vertel waar Dawid die wortels gegrawe het.
Iedergeval. Menseregte.
Lees gou-gou saam met my wat wie ook al vir die parlement se website skryf, oor Menseregtedag te sê het:
“Human Rights Day in South Africa is historically linked with 21 March 1960, and the events of Sharpeville. On that day 69 people died and 180 were wounded when police fired on a peaceful crowd that had gathered in protest against the Pass laws. This day marked an affirmation by ordinary people, rising in unison to proclaim their rights. It became an iconic date in our country’s history that today we commemorate Human Rights Day as a reminder of our rights and the cost paid for our treasured human rights.”
Met die geskiedkundige agtergrond van hierdie dag, die feit dat mense hulle lewe verloor het, die rede waarom mense in die eerste plek genoop was om te protesteer, en Suid-Afrika se Grondwet wat in terme van progressiwiteit ver bo ander lande s’n uittoring … met al hierdie dinge … hoe durf hierdie donnerse regering terugsit en kyk hoe mense se basiese menseregte nie beskerm word nie?!
Oor die aantal menseregteskendings wat daagliks hier in South Africa Our Land gebeur hoef ons mekaar nie te herinner nie. Die regering wat apaties sit en toekyk moet ons almal die moer in maak. En as jy nie die moer in is nie, skenk jy nie genoeg aandag nie of het jy ’n blerrie goeie shrink wat vir jou sterk verdowingsmiddels verskaf. (Indien jy in laasgenoemde kategorie val – kontak my asb. Vra die Vrye Weekblad-span vir my kontakbesonderhede).
Terwyl die donners in hulle duur suits so apaties sit en toekyk, kan hulle en hulle ondersteuners nogal lekker verskoning ook maak. Verskonings vir hoekom dinge nie werk nie sluit in dat die ANC “nog net 30 jaar” gehad het om alles wat oor die afgelope 400 jaar in Suid-Afrika gebeur het, reg te stel. “Dis nog net 30 jaar en hulle moet nog hulle voete vind.” Dertig jaar?!! Ek is nog nie eens fokken 30 nie en dit voel asof ek al tot 60 toe geleef het! Dertig jaar is genoeg tyd om verandering te bewerkstellig.
Dertig jaar is meer as genoeg tyd om op te hou steel by die armes en ons wat fok swaar aan belasting betaal, en jou werk te doen. En verstaan my nou bitter mooi – ek dismiss nie die baie definitiewe trauma wat deur kolonialisme en apartheid as uitvloeisel van kolonialisme veroorsaak is nie. Hierdie twee gedagtes kan saam bestaan. Die tweede gedagte kan ons liefs in ’n akademiese navorsingsuitset ondersoek, want vandag se brief is vir skel!
Dit is werklik fokken depressief om in hierdie land te moet woon en nie enigsins ’n uitweg te sien nie. Dis nou alles lekker lekker Menseregtedag, ons kan almal vandag by die huis bly (of van die huis af werk indien jy ’n vryskut/hustler is), maar wat vier ons hier? Wat is daar om werklik nog, as ’n mens met sogenaamde regte in Suid-Afrika, oor opgewonde te raak?
Jammer. Ek bedoel nie om die atmosfeer te demp nie, ek is seker menige wil eerder net hulle vleis op die kole gaan gooi (o wag, daai is ’n ander nasionale vakansiedag, nè?). Maar julle, ek kan nie meer nie. Ek kan letterlik nie meer nie. Ek haat dit hier (vir nou).
Persea Americana
(offer vir Huitzilopochtli)
“Don’t fence me in,” sing Eddie Sakamura karaoke.
Ek dink aan die son wat te vinnig ryp word
en tot by die pit vrot. O avokadopeer, Meksikaanse fonds,
hulle beweer jy’s sommer net 'n oorgewig bessie
maar vir my is jy offer aan die god van smaak.
Die Asteke roep jou āhuacatl (verwysing na jou balsakvorm)
al hang jy aan tweeslagtige bome.
Was Spanjaarde hiérvan bewus toe hulle jou sommer aguacate noem? Blikoor Engelse hoor regsgeleerdes en doop jou avogato pear
en daarna verval jy in vrye klankassosiasie as alligatorpeer en avokadopeer.
Nie dat jy jou hieraan steur nie. Hulle pluk jou eers,
jy besluit self wanneer jy reg vir eet is.
Kyk hoe kneus hulle jou tussen winkelrakke
skud jou om te hoor of jou hart al klop.
Hulle draai jou in koerante toe, kyk daagliks vir rypwordnuus.
Slaan een dag oor en jy’t reeds van groen na grys versmoor.
Nou verstik hulle jou met etileengas, verkwansel jou as “ripe and ready to eat”.
Versigtig! Hulle gaan jou met tandestokkies kruisig,
jou pit in 'n waterfles doop.
Avokado, wispelturige vrug –
lyk soos peer of knater, klink soos alligator,
maar proe net soos jou heilige self.
– Andries Bezuidenhout
Uit: Versindaba
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.