Sou jy kon doen met ’n lemoen?

FYNPROE

Sou jy kon doen met ’n lemoen?

Winter is lemoenseisoen. Tesame met nartjies, suurlemoene en pomelo’s is dit ’n kuur vir alles van die koue tot verkoue, skryf NETTIE PIKEUR.



VAN alle sitrusvrugte was lemoene ons gunsteling. Skil een af, gooi die skille op die ou komposhoop en smul aan die huisies.
Oorle’ Pa kon die reuk van nartjies nie verdra nie en die vrug was verbode in die ou Chev op pad van Pretoria na Waenhuiskrans. Eers jare later kon ek lag oor die snaakse Engelse naam “naartjies”, en dan dat ’n hele klerereeks en nogal ’n winkel in die Kaapse Waterfront en ’n heel paar ander so genoem is.
Sonder suurlemoene kan ons nie oorleef nie. Hoe sou repies gerookte salm, ’n blikkie tunavis en, met die komende winter, ’n potjie sop sonder ’n lepel vol suurlemoen smaak?
Boerbone is nou ryp, maar ai, as jy hulle nie self gekweek het nie, is jy op die gebliktes aangewese. Maak nie saak nie, gooi net die suikerwater uit die blik af. Klits dan twee eiers en die sap van een suurlemoen, verhit en gooi oor die bone.
Ons maak dikwels hoenderlewers gaar, sommer so in botter, en sit dit op rys voor. Die afronding is ’n skeut suurlemoensap; ’n pikante smakie.
Die meeste sop uit ons huis vind altyd baat by ’n bietjie suurlemoensap. Noudat dit koud word, maak ons dikwels boontjiesop – ag, niemand het ’n resep hiervoor nodig nie. Gaan kyk in Kook en geniet.
Die fyn ekstra is egter suurlemoen. Proe aan die sop. Ja, hy kort suurlemoensap by die varsgemaalde peper. Skep ’n koppie vol vir elke gas en garneer, soos hulle in die tydskrifte sê, met ’n skyfie suurlemoen.
Aartappels met suurlemoen klink dalk vreemd, maar dis heerlik. Gebruik ’n aartappelslaai met ’n lepel of twee suurlemoen vir dié eksperiment. Ons hou nie van mayonnaise by aartappelslaai nie, maar gewone slaaisous, oftewel vinaigrette.
Daarin gooi jy nogal baie suurlemoensap vir ’n ligter en lekkerder slaai.
Nou die dag sien ons weer hoe maak die Marokkane piekel-suurlemoen. Dis ’n lang proses, waarin jy suurlemoenkwarte in die sap meng met ’n klomp speserye soos kaneel, en dit dan styf verpak in ’n inmaakfles.
Dit staan onderstebo in die son op die vensterbank en drie maande later is jou piekel reg.
Oorkant ons huis in Montagu het ons bure twee boompies met koemkwats gehad. Te oulik, maar oneetbaar bitter. Tot Monique die vruggies met baie stroop ingemaak het. En het dit nie mooi gelyk nie – ideale Kersgeskenke.
Op soek na lemmetjies onthou ons die gesegdes van die Montagu-mense waar ons so lank gewoon het. Vir hulle was ’n lemmetjie ’n suurlemoen en andersom.
Na ’n egte lemmetjie gaan jy lank soek, want hulle word hoofsaaklik in Malawi en ander lande gekweek. Nogtans het die klein, grasgroen vruggie ’n smaak van sy eie.
Lemmetjiesap gee byt aan ’n outydse Bloody Mary-drankie.
Volgens wyle Raymund van Niekerk, destyds direkteur van die Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad, was sy resep die beste. In twee elegante glase gooi jy elk ’n skeutjie droë sjerrie. Gooi dit uit. Voeg dan ’n dubbele skeut wodka in elke glas, vul met Heinz-tamatiesap, ’n eetlepel elk lemmetjiesap en een draai vars swartpeper bo-oor. Roer liggies en bedien skuins voor twaalf.
Een van die min waardevolle kits-bottelsousies is suurlemoensap. Aangesien die sap sy eie preserveermiddel is, bevat dit nie MNG nie.
Natuurlik is daar dosyne resepte vir suurlemoentert. Party het die geklitste eierwitte bo-op, ander nie. Die kors onder is so belangrik dat dames by landbouskoue begin skel en stry.
Pomelo’s is nou weer terug in nuwe gedaantes. Voorheen bekend as ’n retro-voorgereg met ’n kersie op, so ’n halwe in ’n bakkie (wat het van hulle geword?), spog hulle nou met helderpienk binneste en is eintlik baie lekker in lensieslaai of in ’n pilaf.
Pomelo’s is ook bekend as pampelmoes, oftewel pamplemousse in Frans.
Dit word winter en die oggende is koud. Maak vir jou ’n warm lemoendrankie met ’n stokkie kaneel en ’n dun repie lemoen.
Nog beter: ’n “toddy” om griep af te weer, of te drink as jy dit klaar het. Meng in ’n groot glas: 2 skeute brandewyn, bietjie kookwater, een skyfie suurlemoensap, ’n teelepel heuning en ’n stukkie gemmer. Drink dit warm en eet daarby ’n stukkie sjokolade – Lindt se donker een gegeur met pamplemousse-rose.
Dis daai pienk pomelo, so lekker, jy word sommer beter.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.